Twee mense is dood en meer as 10 beseer toe weerlig hulle by ’n fees in Noordwes getref het.
Inwoners hou jaarliks makietie by die sportterrein langs die Mphebatho-biblioteek in Dertig, naby die grens van Noordwes en Gauteng, sowat 16 km vanaf Hammanskraal buite Pretoria. Gure weer het Saterdag egter gou inbeweeg en ’n chaos by die Mphebatho Troepefees veroorsaak.
Luidens ’n verklaring van die Moretele- plaaslike munisipaliteit is twee mense dood en meer as 10 beseer toe weerlig hulle op die sportterrein getref het. Die fees is dadelik gestaak “om almal by die geleentheid, insluitend gemeenskapslede, kunstenaars en amptenare, te beskerm”.
Hierdie voorval kom te midde van swaar reën en donderstorms in die noorde van die land.

’n Oranje vlak 5-waarskuwing vir erge donderstorms, swaar reënval en sterk winde geld Sondag vir Gauteng, die ooste van Noordwes en die Vrystaat, die weste van Limpopo en die Hoëveld van Mpumalanga.
Verder is ’n geel vlak 2-waarskuwing vir donderstorms uitgereik vir die weste van die Vrystaat en Noordwes, die weste van KwaZulu-Natal en die platorand van sowel Limpopo as Mpumalanga.
Drie huise in Hammanskraal is die afgelope naweek weens onweer beskadig, sê Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder vir die nooddienste in die Tshwane-metro. Die wind het twee huise se dakke afgewaai. Niemand is beseer nie.
Dit het Saterdagaand en vroeg Sondagoggend goed gereën in die Waterbergstreek van Limpopo. Die N1 tussen Mokopane en Pretoria is sopnat en besig.

Die departement van vervoer in Limpopo sê 1 270 motors het teen Sondag 07:00 reeds suid deur die Kranskop-tolhek tussen Modimolle en Bela-Bela gery, terwyl ’n skamele 138 deur die hek noord is. Motoriste het ook reeds teen 07:00 in lang toue by die Nyl-tolhek-suid tussen Mokopane en Mookgophong gewag.
Die weerdiens het vroeër gewaarsku teen verhoogde reënval en weerverwante risiko’s tussen Januarie en Mei vanjaar.
Luidens die jongste seisoenale weervoorspelling is die huidige El Niño-weersiklus redelik neutraal en sal die inkomende La Niña swak en van korte duur laat in die somer wees. La Niña bring dikwels ’n verhoogde kans op bonormale reënval in die noordooste van die land.
Daar sal dus na verwagting bonormale reënval in die meeste somerreënvalgebiede tot vroeg in die herfs vanjaar wees, waarna dit in die noordooste sal begin opklaar.
Die reënseisoen kan moontlik effens langer in die sentrale dele van die land duur. Ondernormale reënval word egter gedurende die herfs langs die suidelike en oostelike kusgebiede verwag.
Minimum temperature sal na verwagting in die somer bonormaal oor die land heen bly, terwyl die maksimum temperature tot diep in die herfs bonormaal sal wees.
Die weerdiens waarsku dat dit die risiko vir oorstromings, weerlig-verwante voorvalle en onstabiele weertoestande kan verhoog.






















