’n Kouefront met ’n gepaardgaande bolugtrog sal die kwik vanaf Donderdag skerp in die Vrystaat en Noord-Kaap laat daal.
Maksimum temperature sal van Donderdag aansienlik in dié provinsies daal, met die minimums wat van Vrydag tot onder vriespunt sak.
Julius Mahlangu, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê hoofsaaklik die sentrale binneland en die suidelike dele van die land sal deur dié stelsels geraak word.
In die Vrystaat sal die maksimums Dinsdag en Woensdag nog tussen 18 °C en 22 °C wissel, voordat die koue begin byt. Dit word Donderdag baie koud tot koud in die provinsie, met maksimum temperature tussen 6 °C en 12 °C, sê hy.
Hoewel die temperature stelselmatig weer in die Vrystaat begin klim, word maksimums van 9 °C tot 14 °C vir Vrydag voorspel, 10 °C tot 15 °C vir Saterdag en 12 °C tot 16 °C vir Sondag.
Volgens Mahlangu lê die verwagte minimums tot Donderdag tussen 3 °C en 8 °C .
Dit wissel Vrydag tussen -2 °C en 0 °C, en Saterdag en Sondag tussen -1 °C en 1 °C.
In die Noord-Kaap lê die maksimums tot Woensdag tussen 16 °C en 24 °C.
Mahlangu sê die temperature daal Donderdag beduidend, en tussen 7 °C en 12 °C word in die provinsie verwag.
Die maksimums wissel Vrydag tussen 10 °C en 15 °C, Saterdag tussen 12 °C en 17 °C, en Sondag tussen 14 °C en 22 °C.
Wat die minimums vir die Noord-Kaap betref, lê die kwik Dinsdag en Donderdag tussen 3 °C en 6 °C en Woensdag tussen 6 °C en 15 °C.
Dit sal Vrydag en Saterdag -1 °C tot 2 °C word, en Sondag 1 °C tot 4 °C.
Muneiwa Singo, Mahlangu se kollega in die Bloemfonteinse weerkantoor, sê geïsoleerde buie en donderbuie word Woensdag in die westelike dele van die Vrystaat verwag. Dit sal Donderdag na die sentrale en oostelike dele van die provinsie versprei.
Verspreide buie en donderbuie word ook Donderdag langs die Lesotho-grens verwag.
Volgens Singo word geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie Woensdag in die grootste deel van die Noord-Kaap verwag. Dit sal Donderdag vanuit die westelike en sentrale dele begin opklaar.
Mahlangu sê wind van tussen 30 km/h en 40 km/h kan Woensdag in albei provinsies voorkom.
Die Oos-Vrystaat kan Donderdag wind van tussen 40 km/h en 50 km/h verwag, wat by tye tot 70 km/h kan waai.
Hy sê ligte sneeu kan Donderdag op die hoogliggende dele in die verre suide van die Noord-Kaap voorkom, en matige sneeu Donderdag en Vrydag in Lesotho.
Daar word nie sneeu in die Vrystaat verwag nie.













