’n Raps meer as ’n maand nadat ’n tornado die gebied tussen Heilbron en Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat getref het, het ’n swaar storm met erge rukwinde die gebied wéér geteister.
Lynette van der Linde, ’n inwoner van Paul Roux, het op sosiale media foto’s gedeel van die erge skade wat aan ’n struktuur se dakplate aangerig is. Die dakplate lyk asof dit deur die wind afgeruk en dubbelgevou is.
Lesedi Mokomane, van Steynsrus, het ’n video gedeel van swaar weerlig wat ’n kragpaal tref terwyl die storm hier erg gewoed het.
In Matatiele in die Oos-Kaap, aan die voet van die Drakensberg, het inwoners foto’s van swaar haelneerslae geplaas.
Die Vrystaat kan nou egter tot Sondag na warm en meestal droë weerstoestande uitsien.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal dit Vrydag oorwegend sonnig en warm wees, met ’n ligte bries en maksimum temperature van tot 30 °C. Dit sal Saterdag meestal sonnig en warm wees met soortgelyke temperature van tussen 13 °C in die oggend en middagtemperature van die hoë 20’s tot in die lae 30’s. Koeler toestande word egter vir Sondag verwag met meer wolke en ’n kans op middagbuie. Die maksimum temperatuur sal sowat 21 °C haal.
Die Noord-Kaap sal deurgaans baie warm en droog bly, met volop sonskyn. Snikhete toestande met maksimum temperature van tussen 37 °C en 39 °C sal in die verre noorde van die provinsie bly heers, terwyl warm weer, maar met laer temperature van sowat 27 °C, in die verre suide te wagte kan wees.
Die weerdiens sê daar sal Saterdag effens meer wolke in die noorde van die provinsie wees, maar dit sal steeds baie warm wees.
Sondag sal dit meestal sonnig en warm wees, met temperature wat weer tot ongeveer 37 °C kan styg.
Geen beduidende reënval word die naweek vir die Noord-Kaap verwag nie. Hoewel die noordelike en noordoostelike dele van die provinsie die afgelope seisoen uiters goeie reënval ontvang het, beleef die suide van die provinsie in gebiede soos die Hantam- en Roggeveld-Karoo erge droogtetoestande. Boere hier het reën nou dringend nodig.





















