Met die nuwe Square Kilometre Array (SKA)-Mid- en -Lae-teleskope wat in Suid-Afrika en Australië opgerig gaan word, sal wetenskaplikes kan terugkyk na die geskiedenis van die heelal so ver terug soos die kosmiese dagbreek, toe die heel eerste sterre en sterrestelsels gevorm het.
Die SKA-sterrewag (SKAO) het Maandag die begin van dié teleskoopkonstruksie in Suid-Afrika en Australië in die twee lande gevier en konstruksiekontrakte van sowat €300 miljoen (sowat R5,5 miljard) is aangekondig.
Prof. Philip Diamond, direkteur-generaal van die SKAO, het na Wes-Australië gereis om die sterrewag op die terrein van die toekomstige SKA-Lae-teleskoop te verteenwoordig, terwyl dr. Catherine Cesarsky, raadsvoorsitter, die geleentheid in die Noord-Kaap bygewoon het, waar die SKA-Mid-teleskoop opgerig gaan word.
"Die SKA-projek is al baie jare in wording. Vandag kom ons hier byeen vir nog 'n belangrike hoofstuk in die 30 jaar lange reis waarop ons saam was. 'n Reis om die wêreld se grootste wetenskaplike instrument te lewer.
"Ná 18 maande van intense aktiwiteite oor die wêreld heen, begin ons nou met die bou van die SKA-teleskope," het Cesarsky gesê.
Oor die afgelope 18 maande is meer as 40 kontrakte ter waarde van meer as €150 miljoen (bykans R2,8 miljard) reeds deur die sterrewag aangegaan.

Ed Husic, Australië se minister van nywerheid en wetenskap, en dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, het aangekondig dat meer as €200 miljoen (sowat R3,6 miljard) vir Australiese en Suid-Afrikaanse maatskappye beskikbaar gestel word om van die uitgebreide infrastruktuur te lewer wat benodig word vir die teleskope.
Die SKAO het ook kontrakte ter waarde van €100 miljoen (sowat R1,8 miljard) aangekondig om die antennas vir albei teleskope in die twee lande te vervaardig. Dit bring die totale bedrag vir konstruksie wat tot dusver deur die sterrewag toegewys is, op byna €500 miljoen (sowat R9 miljard) te staan.
Die SKAO se raad het 18 maande gelede die bou van sy twee teleskope goedgekeur. Die aanvanklike verkryging het gefokus op die ontwikkeling van sagteware, die kontraktering van professionele diensfirmas om te help om toesig te hou oor konstruksie, en grootmaataankope van komponente soos programmeerbare stroombane, waaraan daar tans wêreldwyd 'n tekort is.
In Suid-Afrika sal 133 SKA-skottels gedurende die nuwe fase by die bestaande 64 van die SKA-voorloper-teleskoop MeerKAT gevoeg word om 'n middelfrekwensie-instrument te vorm. Australië sal 'n laefrekwensie-skikking van 131 072 antennas huisves wat soos Kersbome gevorm is, en wat die twee teleskope in staat stel om 'n wye strook radiofrekwensies te dek.
Die teleskope benodig groot infrastruktuur. Die genoteerde maatskappy Ventia sal krag- en veselinfrastruktuur oor die hele terrein in die SKA-Lae-teleskoop se kern- en spiraalarms aanbring en die sentrale en afgeleë verwerkingsgeriewe vervaardig en in gebruik neem. In Suid-Afrika sal Power Adenco toegangspaaie bou, skottelfondasies giet, krag- en optieseveselnetwerke aanlê, veiligheidsheinings oprig en meer.

Mededingende tenders is uitgesit om die teleskope se hoofkomponente, die antennas en skottels self aan te skaf.
Die Italiaanse maatskappy Sirio sal die laefrekwensie-antennas vir die SKA-Lae-teleskoop in Wes-Australië bou, met deelname uit Brittanje. In China sal een van die sterrewag se langtermynvennote, CETC54, die SKA-Mid-teleskoop se skottelstruktuur vervaardig. Onderdele sal in verskeie lande vervaardig word, insluitend Italië, Spanje en Suid-Afrika.
Met sy groot kontrakte vir infrastruktuur en teleskoopkomponente in plek, is die SKAO op koers om sy volgende mylpaal te bereik om te verseker dat die eerste vier SKA-Mid-skottels en ses SKA-Lae-stasies (van 256 antennas elk) as 'n teleskoop saamwerk.
Die eerste twee antenna-stasies sal teen Mei 2023 voltooi wees, terwyl die eerste skottel in April 2024 geïnstalleer sal word, gevolg deur drie tot vier skottels elke maand.

Danksy die teleskope se ontwerp as interferometers - waar die seine van veelvuldige teleskope gekombineer word om as een reuse-teleskoop te funksioneer - word die eerste wetenskaplike resultate verwag nog voordat die teleskope aan die einde van die dekade voltooi sal wees.
Die SKA-teleskope sal van die SKAO se globale hoofkwartier by Jodrell Bank naby Manchester in Brittanje bestuur word. Wetenskaplikes sal die twee skikkings in die loop van hul verwagte leeftyd van 50 jaar gebruik om belangrike vrae oor die vroegste tydperke van die heelal te beantwoord, en sommige van die diepste geheime in astrofisika te ontrafel.
"Die SKA-teleskope sal werklik ons begrip van die heelal revolusioneer," het Cesarsky gesê. "Dit sal ons in staat stel om die evolusie daarvan en van die mees geheimsinnige verskynsels in ongekende detail te bestudeer, en dit is regtig opwindend vir die wetenskaplike gemeenskap."












