LP’s bekommerd oor pas van parlement se herbouing

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sommige parlementslede (LP’s) is bekommerd oor die gebrek aan dringendheid om die afgebrande parlementsgeboue so spoedig moontlik te herbou.

Dié kommer is Vrydag op ’n vergadering van die gesamentlike staande komitee oor die finansiële bestuur van die parlement uitgespreek.

Thoko Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Refilwe Mtsweni-Tsipane, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Xolile George, sekretaris van die parlement, en ander senior parlementêre bestuurders het verslag aan dié komitee gedoen oor die nasionale wetgewer se prestasie vir die eerste kwartaal van 2025-’26.

Die parlement se grootbase het in reaksie op LP’s se kommer gesê dat die bouprojekte om die NV- en Ou Raadsaal-geboue op die parlementêre perseel in Kaapstad te herbou, steeds volgens plan verloop. Die geboue is in Januarie 2022 erg beskadig in ’n brand.

Die komitee is vroeër ingelig dat die herbouprojek teen November volgende jaar voltooi sal word.

Nomonde Mpefumlo, waarnemende finansiële hoof van die parlement, sê die wetgewer het 80% van sy prestasieteikens vir die eerste kwartaal, van April tot Junie vanjaar, bereik.

Volgens haar het die parlement in dié kwartaal 14% van sy jaarlikse begroting van R5,08 miljard bestee.

Oor die herbouprojek self het Mpefumlo gesê dat die parlement in dieselfde tydperk R4,6 miljoen of 0,2% van sy begroting van R1,7 miljard vir 2025-’26 bestee het.

R116 miljoen se besteding vir die herbouprojek is egter nog nie in ag geneem nie omdat kwitansies van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, die inwerkingstellingsagent van die herbouprojek, nog gekontroleer moet word, sê sy. Dit sal in die tweede kwartaal se uitgawes weerspieël word.

Die Nasionale Vergadering-gebou op die parlementêre perseel is tans ’n bouperseel.
Die Nasionale Vergadering-gebou op die parlementêre perseel is tans ’n bouperseel. (Foto: Jaco Marais)

“Ons verwag dat die herbou-begroting sal styg aangesien konstruksie nou aan die gang is. Ons monitor die besteding om te verseker dat sake-eenhede ekonomies en doeltreffend bestee en dat ons waarde vir geld kry op die besteding aan goedere en dienste,” sê Mpefumlo.

Mathapelo Siwisa, ’n EFF-LP, het in ’n vraag-en-antwoordsessie gesê sy meen daar is geen dringendheid om die herbouprojek te voltooi nie.

“Ons is amper in 2026 en al in die 2025-’26-boekjaar. Ons raak egter steeds nie opgewonde om te kan sê dat daar enige vordering met die werklike konstruksie van die parlement is nie.”

Sy meen dit is ’n groot bekommernis, veral inaggenome dat die koepeltent nog nie toegerus is om volle sittings te kan huisves nie. Dié koepeltent op die Nieuwmeester-parkeerterrein oorkant die parlement word tans nog oorweeg as alternatief vir volle sittings van die parlement totdat die herbouprojek afgehandel is. Dit self vereis egter ook miljoene rande om vir sittings ingerig te kan word.

Michele Clarke, ’n DA-LP, wou ook weet of die herbouprojek nog op koers is met betrekking tot die tydsraamwerk.

Soviet Lekganyane, ANC-LP en medevoorsitter van die komitee, het gesê die komitee deel Siwisa se sentiment, veral nadat die aangeleentheid ook Woensdagaand ten tyde van ’n komiteevergadering met die departement van openbare werke en infrastruktuur oor die koepeltent opgeduik het.

Didiza het ook op dié vergadering gesê dat dit ’n werklikheid is dat die herbouprojek langer as die November 2026-spertyd kan neem.

Simon Mashigo, leier van die parlement se herbouprojekspan, het Vrydag egter gesê behalwe die verlies van een dag weens oormatige reën en nog drie om die bouperseel te beveilig, is die herbouprojek nog op koers. Verlore dae sal glo ingehaal word.

Volgens hom is sy span danksy projekbestuursinstrumente en -tegnieke ook slaggereed om ander risiko’s te takel wat moontlik kan opduik en die projek vertraag.

– llewellyn.prince@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA