‘ANC gaan struikel in stede’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Voorlopige voorspellings dui daarop dat die ANC - van al die politieke partye in die land - die swaarste gebuk gaan onder "'n fenomeen van verstedeliking", het Daniel Silke, verkiesingsontleder en direkteur van Political Futures Consulting, aan Netwerk24 gesê.

Silke het Dinsdagoggend getwiet die plaaslike verkiesings vanjaar het die swakste opkoms van ANC-kiesers sedert 1994 opgelewer.

Dit dui volgens hom moontlik op 'n "nuwe era" van interne struweling in dié party, soos die algemene verkiesing van 2024 naderkom.

"Dit lyk of die ANC se swak opkoms 'n stedelike fenomeen is.

"Ons sal sien hoe lyk KwaZulu-Natal, maar as ons na Gauteng kyk, het die ANC 'n baie swak kieseropkoms gehad. Hulle stoei werklik in die stedelike gebiede. Dis duidelik dat die teleurstelling en ontevredenheid jeens dienslewering meer in stede die deurslag vind as op die platteland."

'n Mens moet ook in gedagte hou dat die stede meer partymoontlikhede bied, sê Silke.

Volgens die WNNR en die SAUK se voorspellings Dinsdagoggend sal die ANC landwyd met 47% van die proporsionele stemme tevrede moet wees. Dis 10 persentasiepunte minder as 2016 se 57%.

Teen 10:00 was 30% van die stemme getel.

Mense stem Maandag by die Hitekani Primary School in Soweto.  Foto: Gallo Images
Mense stem Maandag by die Hitekani Primary School in Soweto. Foto: Gallo Images

Hoewel die ANC in Gauteng algeheel voorloop met 35% van die totale stemme, lei die DA in die Tshwane-metro met 35% van stemme. In Midvaal loop dié party voor met 71,6%.

In 'n interessante wending in die Johannesburg-metro, waar die ANC (35%) en die DA (25%) voorloop, staan ActionSA sy plek as nommer 3 vol met byna 20% van stemme.

ActionSA het volgens ontleders kiesers by sowel die DA as die ANC in Johannesburg afgerokkel. Dit wys op " 'n belangstelling in nuwe politieke partye", sê Silke.

Volgens 'n vroeëre twiet deur Dawie Scholtz, News24 se verkiesingsontleder, het ActionSA goed gevaar onder wit Johannesburgers.

"Hulle het 'n uitweg gebied vir baie mense wat vervreem van die politiek voel," volgens Silke.

"Herman Mashaba se veldtog het nie veel diepte gehad nie, maar hy as persoon het mense getrek. Dit wys dat daar 'n hunkering na nie net ver-linkse partye is nie, maar ook sentrum-regse politieke partye."

Jana Marx

SPELETJIES VANDAG

CTA