In die Vrystaat, wat altyd 'n sterk ANC-vesting was, het dié party teen Woensdag 18:30, en met net Mangaung (Bloemfontein) nog uitstaande, net 49,49% van die stemme op hom verenig.
In daardie stadium het die DA 19,21% van die stemme gehad, die EFF 12,42 % en die VF Plus 4,31%.
Nou lê die verkiesing van 2024 voor die deur en mense wonder wat met die ANC gaan gebeur - veral in die lig van die goeie vertoning van twee inwoner-organisasies, die MAP-16 van Maluti-a-Phofung (Qwaqwa, Kestell en Harrismith) en die Setsoto Service Delivery Forum (SSDF) van die Setsoto-munisipaliteit (Senekal, Marquard, Clocolan en Ficksburg), wat 'n groot klomp stemme van die ANC weggelok het.
In Maluti-a-Phofung kon die ANC net 39,2% van die stemme kry terwyl MAP-16 28,55% van die stemme getrek het en só die amptelike opposisie geword het - ná net sy eerste volwaardige munisipale verkiesing.
Altesaam 30% van die provinsie se inwoners woon in Maluti-a-Phofung. Anders gestel, 175 983 van die geregistreerde kiesers uit 'n totaal van 1 413 158 woon hier.
Mense verloor toenemend vertroue in die ANC.

In Setsoto het die ANC 50,96% van die stemme gekry, gevolg deur die SSDF met 22,88%.
Verder kon die ANC in vier Vrystaatse munisipaliteite nie 50% van die stemme kry nie en sal dus 'n koalisie nodig hê om aan die stuur te bly. Dit is Maluti-a-Phofung, Metsimaholo (Sasolburg, Deneysville en Oranjeville), Nala (Bothaville en Wesselsbron) en Moqhaka (Kroonstad, Viljoenskroon, en Steynsrus), waar die ANC 49,5% van die stemme op hom verenig het met 22 setels, wyl die opposisie gesamentlik 50,5% van die stemme gekry het en ook 22 setels gewen het. Die DA het hier 21,2% en die EFF 11,53% gekry.
Mariëtte Pittaway, DA-LPW, en kiesafdelingshoof vir Metsimaholo, het Woensdagmiddag laat gesê die ANC het in Metsimaholo 34,47% van die stemme gekry, die DA 26,19% en die EFF 25,28%.
"Die DA het die EFF met 0,91% geklop, anders was die EFF die amptelike opposisie. Ons bly vir die kiesers sê om nie stemme te verdeel nie."
Sy sê sowel die DA as die EFF sal nou 12 setels elk kry.
Ons sien nou veral in die stede dieselfde afname in steun by die ANC. Die party word ten opsigte van sy magsbasis 'n landelike party.
Die DA het ná 2016 se munisipale verkiesing die munisipaliteit in 'n koalisie regeer. Die provinsie het in 2017 die raad ontbind en die hele munisipaliteit het 'n herverkiesing gehad, waarna die ANC met behulp van 'n koalisie beheer geneem het.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê die ANC staan voor 'n groeiende krisis.
"Daar is geen bevrydingsbeweging in Afrika wat die soort afdraende pad geloop en herstel het nie. In Zimbabwe het ons gesien dat wyle pres. Robert Mugabe drie verkiesingsuitslae bekook het om in beheer te bly.
"Ons sien nou veral in die stede dieselfde afname in steun by die ANC. Die party word ten opsigte van sy magsbasis 'n landelike party."
Duvenhage sê hy verwag dat die uitslag van die verkiesings geweldige druk op die dinamika in die ANC gaan plaas.
"Daar is reeds mense wat vrae vra oor pres. Cyril Ramaphosa. Ek verwag dat die werklike oomblik van waarheid vir die ANC teen einde vanjaar gaan aanbreek. Die 2024-verkiesing staan in die teken van fundamentele politieke verandering.
"Mense verloor toenemend vertroue in die ANC."
In die 1999-verkiesing het die ANC 69% steun gekry, nou lyk dit of hulle landwyd rondom 48% gaan draai," sê hy.
• Die projeksie was Woensdagaand, toe baie stemme nog getel moes word, dat die Mangaung-metro (Bloemfontein, Dewetsdorp, Wepener, Vanstadensrus, Soutpan, Thaba Nchu en Botshabelo) uiteindelik 'n finale syfer van 50,2% behoort te haal.
• Die volledige uitslag van die verkiesing sal Donderdag om 10:00 by die Verkiesingskommissie se kantore in Hamilton, Bloemfontein, bekend gemaak word.



















