‘ANC-kandidate weet hulle moet sokkies optrek’ – Duarte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jessie Duarte, waarnemende sekretaris-generaal van die ANC.
Jessie Duarte, waarnemende sekretaris-generaal van die ANC.

Sy het begrip daarvoor dat baie mense skepties is oor of die ANC sy sokkies ná die verkiesing gaan optrek, maar die meer as 9 000 ANC-kandidate weet wat voortaan van hulle verwag word.

So het Jessie Duarte, waarnemende sekretaris-generaal van die ANC, met die bekendstelling van die ANC-barometer vir plaaslike regering gesê. Dit is by Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, bekend gestel.

Met dié plan sal die ANC in die toekoms kwartaalliks verslag doen oor of sy stadsraadslede hou by die beloftes wat hulle en die party voor Maandag se landwye plaaslike verkiesings aan die land se inwoners gemaak het.

Dit volg kort nadat voornemende ANC-stadsraadslede onlangs in Alberton, Ekurhuleni, 'n belofte onderteken het waarin hulle onder meer onderneem het om kiesers met eerlikheid en toewyding te dien en dit onbaatsugtig en met nederigheid te doen.

Dié belofte staan nou in ANC-kringe as die Ekurhuleni-belofte bekend.

Ons het groot uitdagings, maar die ANC-barometer sal ons help om beter te vaar.

—  Fikile Mbalula

Duarte het gesê met dié verslae sal ook aangedui word watter vordering (of nie) gemaak is met hoe hy regeer, finansiële bestuur toepas, dienste lewer en op ander sleutelgebiede van plaaslike regering presteer.

Daar sal ook uitgestippel word presies wat die uitdagings is en wat daaraan gedoen word.

By dié geleenthede sal verslae van die nasionale tesourie, ouditeur-generaal, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) bespreek word, het Duarte gesê.

Daar sal deurentyd gemonitor word of raadslede die Ekurhuleni-belofte gestand doen. Beter dienste moet veral aan die armstes van die armes gelewer word.

Die ANC se manifes maak dit duidelik hy is besig om nie net homself te hernuwe nie, maar ook om gemeenskappe te herbou en nuwe lewe daarin te blaas.

" 'n Deel daarvan is om plaaslike regering te verbeter. Burgemeesters, lede van hul uitvoerende komitees en alle raadslede moet toegewyd en daartoe verbind wees om hul gemeenskappe te bevorder.

"Hul personeel moet gekwalifiseerd en bekwaam wees en hulle moet omgee.

"Ons moet deurentyd daarna streef om beter te vaar. Ons moet ook 'n kultuur van verantwoordbaarheid kweek."

Die party se burgemeesterskandidate sal eers ná die verkiesing aangewys word. Onderhoude sal eers gevoer word om die geskikte kandidate vir dié uitdagende poste aan te wys.

'n Deel daarvan is om plaaslike regering te verbeter. Burgemeesters, lede van hul uitvoerende komitees en alle raadslede moet toegewyd en daartoe verbind wees om hul gemeenskappe te bevorder.

—  Jessie Duarte

Fikile Mbalula, die ANC se verkiesingshoof, sê baie mense het met die verkiesingsveldtog gesê hulle sal weer vir die ANC stem, maar verwag dat die party beter moet vaar.

"Ons het groot uitdagings, maar die ANC-barometer sal ons help om beter te vaar."

Themi Nkadimeng, adjunkminister van plaaslike regering en tradisionele sake, het gesê hoewel daar deurentyd gesê word dinge op plaaslike regeringsvlak raak al hoe slegter, is daar die afgelope meer as 20 jaar ook baie vordering gemaak.

Daar is wel heelwat sistemiese probleme. Dit sluit in die finansieringsmodel van veral kleiner munisipaliteite.

Prof. Jaap de Visser van die Dullah Omar-instituut aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê dié inisiatief van die ANC is lofwaardig omdat dit wys hy respekteer plaaslike regering. Tog hoop hy die barometer hanteer ook die rol van ANC-raadslede, nie net waar die party in beheer is nie, maar ook daar waar die ANC die opposisie of in koalisie is.

Joel Netshitenze, 'n voormalige beleidshoof in die presidensie toe oudpres. Thabo Mbeki in die Uniegebou was, sê hy hoop Salga sal 'n soortgelyke barometer vir munisipale amptenare instel. Hy sê daar is 'n regstreekse verband tussen die finansiële situasie van munisipaliteite en die stand van die ekonomie op enige gegewe oomblik.

SPELETJIES VANDAG

CTA