Met byna 90% van die stemme in die plaaslike verkiesings in die Oos-Kaap wat reeds getel is, het die ANC 'n gemaklike voorsprong van 50 persentasiepunte teenoor die DA.
Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) se jongste inligting om 17:00 het die ANC net meer as 1,6 miljoen van die getelde stemme (64%) op hom verenig. Die DA is tweede met bykans 357 000 (14%) en die EFF derde met sowat 200 000 (8%) van die getelde stemme.
Die jongste statistieke dui ook aan dat die ANC veral in die noordoostelike deel van die provinsie tussen 70% en 80% van die steun in die onderskeie munisipaliteite het. Dit sluit onder meer munisipaliteite in soos Senqu, Matatiele, Elundini, Umzimvubu, Engcobo, Nyandeni en Port St. Johns.
Maar in die suidwestelike deel van die provinsie sukkel die ANC egter om die 50%-kerf te haal.
In die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit het die ANC 46% van die stemme gekry, terwyl die DA en EFF onderskeidelik 39% en 4% het.
In die aangrensende Kou-Kamma-munisipaliteit het die ANC daarin geslaag om 46% van die stemme te kry en die DA het 27%.
Andrew Whitfield, die Oos-Kaapse provinsiale voorsitter van die DA, sê hy is verbaas dat inwoners van Kou-Kamma die ANC die meerderheid van hul steun gegee het, terwyl die munisipaliteit se bure, Kouga-munisipaliteit, deur die DA met 'n volstrekte meerderheid behou is.
Dit wys daar is 'n toenemende tendens van die DA wat die ANC kan ontsetel, en dit is 'n baie belangrik punt.
"Dit verstom my dat Kou-Kamma nie kan sien hoe goed die DA Kouga bedryf nie. Dit is iets wat hulle ook kan hê," sê hy.
In die Kouga-munisipaliteit het die DA 53% van die stemme gekry, teenoor die ANC se 37%. Die VF Plus het hier met 3% die derde meeste stemme gekry.
Whitfield sê wat vir hom ook belangrik van die uitslae tot dusver is, is die talle wyke wat die party van die ANC in die onderskeie munisipaliteite afgeneem het.
Buiten vir wat in die Nelson Mandelabaai-metro gebeur het, kon die DA volgens hom die afgelope dekade net enkele wyke by die ANC afrokkel, maar dit blyk hierdie keer heelwat meer te wees.
"Ons het wyke in die Buffalo City-metro, Middelburg (Inxuba Yethemba-munisipaliteit) en die Blue Crane Route-munisipaliteit afgeneem.
"Dit wys daar is 'n toenemende tendens van die DA wat die ANC kan ontsetel, en dit is 'n baie belangrik punt."
Whitfield sê die party is ook baie opgewonde om Kouga te behou en het reeds Woensdag met die burgemeester oor hul toekomsplanne vergader.
Teen Woensdagmiddag is daar egter nog op hete kole gewag dat die stemme in die Nelson Mandelabaai-metro klaar getel word.
Omstreeks 17:00 het die OVK se webtuiste aangedui dat 70% van die stemme getel is. Die ANC het 40% en die DA 38% van die getelde stemme gehad.
Whitfield het hierop gesê die party is bekommerd dat die tellery só lank neem en sal nie wil sien dat die finale uitslag eers Donderdag bekend is nie.
Na verneem word, sou drie stemlokale van die metro se stemme Woensdagmiddag oorgetel word nadat 'n dispuut glo verklaar is, wat die tellery verder vertraag het.
Ná 2016 se plaaslike verkiesings het geen party 'n volstrekte meerderheid in dié metro gehad nie, waarna drie afsonderlike onstuimige koalisieregerings gevolg het.





















