‘ANC nou soos die NP in 1999’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Prof. Dirk Kotzé, politieke wetenskaplike van Unisa, Woensdagaand in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt
Prof. Dirk Kotzé, politieke wetenskaplike van Unisa, Woensdagaand in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Die ANC bevind hom nou waar die eertydse Nasionale Party met die verkiesing van 1999 was - by die begin van die einde.

So sê die politieke wetenskaplike prof. Dirk Kotzé van Unisa oor die regerende party se swakste vertoning sedert 1994 in Maandag se plaaslike verkiesings.

Kotzé het Woensdagaand by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê hy twyfel of die ANC die agteruitgang sal kan stuit.

Die enigste huidige party wat dit nog kon regkry, is die IVP - en dit is deels te danke aan die feit dat die ANC begin verloor het, volgens Kotzé.

Nou sê Ramaphosa dieselfde. Hy neem nie eienaarskap van die nege jaar van Zuma nie.

"My politieke teorie is dat plaaslike verkiesings gewoonlik die patroon van nasionale verkiesings volg. Die tendense van die algemene verkiesing in 2019 sien ons nou op plaaslike vlak."

Hy sê wat die ANC nou probeer doen, is om te sê hy betaal die prys van die nege jaar waar oudpres. Jacob Zuma die land gelei het.

"(Pres. Cyril) Ramaphosa sê nou hy is die een wat die land gaan uitlig uit die as van die Zuma-jare, maar ek dink dit is te laat," sê Kotzé.

"Die ANC probeer hom nou losmaak van goed soos die kwessie van kragonderbrekings en sê dis Eskom se probleem, dis nie hulle (die ANC) s'n nie. En dit is nie waar nie. Zuma het dit in 2009 met (oudpres. Thabo) Mbeki gedoen deur te sê (onder hom is) dit 'n nuwe regering, al was die naam steeds die ANC-regering. Nou sê Ramaphosa dieselfde. Hy neem nie eienaarskap van die nege jaar van Zuma nie."

Hy sê die ANC loop 'n groot gevaar om met die volgende algemene verkiesing in 2024 'n provinsie soos Gauteng te verloor. Ramaphosa se gewildheid sal dit nie kan keer nie.

Kotzé dink ook dit sal vir ActionSA moeilik wees om in 2024 voort te bou op sy goeie vertonings in veral Johannesburg vandeesweek.

SPELETJIES VANDAG

CTA