DA ‘gaan ANC in sommige VS-munisipaliteite onder 50% druk’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die DA meen hy kan die ANC in van die Vrystaat se munisipaliteite tot onder 50% druk in die plaaslike verkiesings Maandag.

Sy visier is veral gerig op die vier grotes - Metsimaholo (Sasolburg), Moqhaka (Kroonstad), Matjhabeng (Welkom) en Mangaung (Bloemfontein), sê Werner Horn, die DA se provinsiale voorsitter en veldtogbestuurder.

Hy het Woensdag op 'n nuuskonferensie in Bloemfontein gesê "die DA het sedert die begin vanjaar met honderdduisende kiesers in die Vrystaat gesels om meer van hul behoeftes en aspirasies te wete te kom".

"Ons was verstom oor hul veerkragtigheid ondanks die feit dat hulle aan die ontvangkant is van alles wat verkeerd in plaaslike regering in die Vrystaat is."

Hy het gesê DA-agente sal Maandag in al 319 wyke in die provinsie seker maak dat die verkiesings vry en regverdig is.

Jeff Zwane, die DA se burgemeesterskandidaat in Metsimaholo (Sasolburg, Deneysville en Oranjeville), het gesê die DA is regtig van mening dat 'n ander regering Maandag hier ingestem kan word. Hy het 'n beroep op kiesers gedoen om hulle agter die grootste opposisieparty te verenig.

Jeff Zwane, burgemeesterskandidaat van die DA in Metsimaholo (Sasolburg), Woensdag op 'n nuuskonferensie in Bloemfontein. Foto: Marietjie Gericke
Jeff Zwane, burgemeesterskandidaat van die DA in Metsimaholo (Sasolburg), Woensdag op 'n nuuskonferensie in Bloemfontein. Foto: Marietjie Gericke

As die DA die munisipaliteit oorneem, sal die vervalle vakansie-oorde in die omgewing herbou word om toeriste na die gebied te lok en werk te skep.

Chris Dalton, DA-raadslid van die Moqhaka-munisipaliteit (Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus), het gesê in die 2019-verkiesing was dit die munisipaliteit in die Vrystaat waar die DA die grootste hap van die ANC afgebyt het.

"Ons vra die kiesers nou om hulle weer agter die party te verenig."

Werner Horn, die DA se provinsiale voorsitter en die party se veldtogbestuurder in die Vrystaat. Foto: Marietjie Gericke
Werner Horn, die DA se provinsiale voorsitter en die party se veldtogbestuurder in die Vrystaat. Foto: Marietjie Gericke

In dié munisipaliteit het die ANC-ondersteuning van die 2014- tot die 2019-verkiesing met sowat 10 persentasiepunte geval.

Maxie Badenhorst, DA-raadslid van Matjhabeng (Welkom), het gesê in die laaste paar weke het die inwoners van die gebied eerstehands ervaar hoe die ANC-regering die gebied verwoes het met beurtkrag wat ingestel moes word en krane wat drooggeloop het.

"Die waterkrisis is veroorsaak deur die ANC wat nie vir die grootmaatwaterverskaffing by Sedibeng betaal het nie."

Die DA wil goeie finansiële bestuur en basiese dienste van goeie gehalte na die gebied bring.

David Masoeu, DA-koukusvoorsitter in Mangaung, het gesê in die afgelope vyf jaar het die ANC Mangaung so sleg regeer dat dit nou amptelik die swakste metro in die land is. Dit is ook die enigste metro in die land wat onder administrasie is.

Mxolisi Dukwana, sameroeper van die ANC se tussentydse provinsiale taakspan in die Vrystaat, het by navraag gesê die DA kan maar vergeet om die regering in bogenoemde munisipaliteite in die Vrystaat oor te neem. Die ANC gaan nie een daarvan afstaan nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA