Die DA is ná die verkiesings in die Wes-Kaap sowel 'n wenner as verloorder.
Teen Woensdagmiddag was dit duidelik die party het 54,7% van die stemme ontvang, met agt rade waar hy 'n volstrekte meerderheid het en 20 rade waar hy lei.
In 2016 het hy 63% gekry en in 2011 was sy steun 57%.

Die ANC het 18,9% van stemme gekry en lei in Cederberg en Beaufort-Wes. Die ANC se steun in 2016 was 26% en in 2011 33%.
Icosa lei in Kannaland met 45,2% van stemme daar en het 0,9% van die stemme oor die provinsie heen ontvang.
Good het homself gevestig as die derde grootste party, met 4,7% van die stemme, terwyl die VF Plus 3,4% het teenoor 0,7% in 216.
Die EFF se steun het gedaal tot 2,7% nadat hy 2,8% in 2016 behaal het. Daarby het die Patriotic Alliance (PA) die vyfde meeste stemme gekry (2,7%) en veral in die Karoo steun gewen.
Teen Woensdagaand was net Kaapstad se uitslae nog nie beskikbaar nie en daarom kon die Verkiesingskommissie (OVK) nog nie die finale opkoms in die Wes-Kaap bevestig nie.
Luidens die OVK se jongste data het die provinsie 'n gemiddelde opkoms van 49,9%, met 48% in Kaapstad. In enkele plekke is 'n opkoms van meer as 60% aangeteken en in Prins Albert het dit 70% bereik.
In 2016 was die provinsie se opkoms 63% en in 2011 was dit 64%, met soortgelyke persentasies in Kaapstad.
Michael Hendrickse, provinsiale kiesbeampte, het in die uitslagsentrum in Century City bevestig in 15 van die 25 rade het geen party 'n volstrekte meerderheid nie.
In die komende weke sal die oorblywende 60% van die distriksrade verkies word nadat 40% van die raadslede deur kiesers in die distrik verkies is.
Kiesers het gepraat, sê DA
Hoewel die DA se steun in die algemeen gedaal het, het hy steeds meer as 60% van die stemme gekry in Overstrand (64%), Mosselbaai (63%) en Swartland (61%), sowel as meer as 50% in Stellenbosch (56%), Drakenstein (55%), Swellendam (54%) en Hessequa (51%).
Sy steun het ook gegroei in Overstrand, Prins Albert en Mosselbaai met aansienlike stygings in Swellendam (van 48% in 2016 tot 54,7% vanjaar) en Hessequa (van 42% in 2016 tot 51,4%).
In DA-vestings soos Stellenbosch, Drakenstein, Theewaterskloof, Swartland, Bergrivier en Saldanhabaai het sy steun egter met tien persentasiepunte en meer sedert 2016 gedaal.
In Stellenbosch het dit van 69% in 2016 gedaal, in Swartland van 70% af en in Drakenstein van 66% af, terwyl sy steun in Theewaterskloof van 51% tot 40% afgeneem het, in Bergrivier van 64% tot 48% en in Saldanhabaai van 61% tot 44%.
Die DA het ook steun afgestaan in Breedevallei van 54% tot 46% vanjaar, in George van 55% tot 49%, in Oudtshoorn van 55% tot 28%, in Kaap Agulhas van 53% tot 30%, in Cederberg van 55% tot 20% en in Matzikama van 54% tot 39%.
In Witzenberg het die DA 35% van stemme gekry en 27% in Beaufort-Wes, 21% in Laingsburg en 38% in Knysna.

Albert Fritz, provinsiale leier van die DA, sê sy party is gelukkig met hoe die verkiesing verloop het, met agt van die "belangrikste B-munisipaliteite" wat met 'n meerderheid gewen is.
Hy het benadruk dat Stellenbosch, Drakenstein, Mosselbaai, Overstrand, Swellendam en Swartland van die "top-munisipaliteite in die land" is.
Fritz sê die DA sal op nasionale vlak 'n aankondiging doen oor die vennote vir koalisies sodat dit nie "stuk-stuk" plaasvind nie en op gedeelde waardes gegrond word.
"Die keisers het gepraat. As jy 'n goeie raadslid was, sal ek my kop op 'n blok sit dat jy weer ingestem is. Daar is waarskynlik probleme met dienslewering in plekke waar steun tot 40% of laer gedaal het."
Hy het ook sy vertroue uitgespreek dat die DA meer as 50% van die stemme in Kaapstad gaan kry.
"Die tyd van arrogansie vir partye is verby. Die kleiner partye het gewys dat hulle van die steunbasis wegvreet."
Good wil dialoog verander
Die nuwe party Good, onder leiding van Patricia de Lille, het vanjaar ook sy merk gemaak, met tot soveel as 17% van stemme in Saldanhabaai en 12% in Beaufort-Wes.
Daarby het Good 9,8% in Theewaterskloof gekry, 9,7% in George en 7% in Matzikama.
In Stellenbosch, Drakenstein en Witzenberg het hy 6% van stemme, met 5,9% in Bergrivier, 4% in Oudtshoorn en 3% in Swartland.
In die meeste van die ander munisipaliteite, buiten Kaapstad, het hy steun van 1% of 2% gekry.
Brett Herron, Good se sekretaris-generaal, sê die partye se uitslae wys hoe kiesers geskuif het van ouer partye na nuwe en "ontluikende" partye.

"Ons is bemoedig daardeur en dit is belangrik om kennis te neem dat die boodskap oor stemme wat vermors word op kleiner partye nou dood is."
Hy het beklemtoon dat Good raadslede oor die provinsie heen gaan hê en die dialoog in rade wil verander, met 'n "ander soort politiek".
"Daar gaan gepraat word oor geregtigheid - van maatskaplik en ekonomies tot ruimtelik - en die omgewing. Ek dink nie ons rade het dit voorheen gehoor nie en ons sal ook aandag vestig op die gemeenskappe wat afgeskeep en vergete is.
"Good sal op sy suksesse voortbou in die aanloop tot die verkiesing in 2024. Wat koalisies betref, sal Good bepaal wat hy vir sy kiesers kan bied," het Herron gesê.
VF Plus baie tevrede
Die VF Plus het ook vanjaar gegroei van sowat 1% steun in die meeste munisipaliteite tot 9% in Swartland en Oudtshoorn, 8% in Langeberg en 7% in George en Hessequa.
Lennit Max, die party se burgemeesterskandidaat, het gesê dié party is baie tevrede en opgewonde dat hy van ses raadslede tot 35 in die provinsie verbeter het.
Hy het benadruk dat die VF Plus nie die DA "in die see wil jaag nie", maar wil saamwerk in koalisies waar hy sy kiesers se belange verteenwoordig.
Die Patriotic Alliance het 13% van stemme in Laingsburg gekry, 14% in Prins Albert en 11% in Matzikama.



















