Dis hoekom Croucamp nie gestem het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Piet Croucamp Maandag by die nasionale uitslagsentrum van die Verkiesingskommissie in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt
Dr. Piet Croucamp Maandag by die nasionale uitslagsentrum van die Verkiesingskommissie in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Hy het na al die politieke partye en individue gekyk wat aan Maandag se plaaslike verkiesings deelgeneem het en kon hom nie met enige van hulle vereenselwig nie.

Daarom het hy besluit om nie aan die plaaslike verkiesings deel te neem nie, sê die politieke ontleder dr. Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom.

Hy het dié aankondiging op Twitter gedoen en hy is daarna behoorlik deur Twitter-lesers oor die kole gehaal.

"Akademici, kommentators en politieke joernaliste wat daarop ingestel is om vir ander mense te sê wat reg is en hoe hulle behoort te stem, kompliseer eintlik dit wat in die frontale lob van ons brein aangaan en hoe ons besluit ons moet stem," het Croucamp by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria aan Netwerk24 gesê.

Net 65% van kiesgeregtigde Suid-Afrikaners is vir die verkiesing geregistreer. Van hulle gaan net 37% waarskynlik uiteindelik stem. Ek het net besluit ek is deel van die goeie meerderheid as ek vandag nie wil deelneem nie.

"Ek het na al die partye en die individue gekyk en kon my nie tot enige van hulle verbind nie. Miskien is daar 'n oppervlakking besig om by my in te tree. Ek kan nie vir die DA stem nie, want ek sien nie meer kans vir 'n John Steenhuisen (DA-leier), Helen Zille (oudleier en tans die party se federale voorsitter) en Dean MacPherson (provinsiale voorsitter van die DA in KwaZulu-Natal) nie."

Hy sê "daardie mense" vervreem hom van die DA. "Persoonlikhede vervreem ook baie ander mense. Daar is baie mense wat sê hulle het nie 'n probleem met die DA-beleid nie, maar hulle sien nie kans vir daai, óf daai, óf daai persoon nie. Ek dink daar is waarskynlik baie swart Suid-Afrikaners wat so voel, want baie van hulle weet nie wie Steenhuisen is nie. Meningspeilings wys dit."

Croucamp sê hy kan ook nie met die VF Plus identifiseer nie.

"My politieke gedagtegang is net op 'n ander plek. Ek het ideologies nie 'n probleem met hulle nie," verduidelik hy.

"Wat my pla van ActionSA is veral sy beleid oor immigrante en die noue band wat Herman Mashaba (ActionSA se leier) met die EFF in die Johannesburgse metroraad gehad het toe hy nog burgemeester was. Myns insiens het hy Johannesburg daarmee 'n groot knou toegedien."

Croucamp, wat self in Johannesburg woon, sê hy het werklik gekyk vir wie hy kon stem.

"Ek het met die lysie afgegaan en kon nêrens 'n party kry oor wie ek kon sê ondanks dit en dat sal ek vir dié party stem nie," sê hy.

"Net 65% van kiesgeregtigde Suid-Afrikaners is vir die verkiesing geregistreer. Van hulle gaan net 37% waarskynlik uiteindelik stem. Ek het net besluit ek is deel van die goeie meerderheid as ek vandag nie wil deelneem nie."

SPELETJIES VANDAG

CTA