Good wil EFF in Nelson Mandelabaai onttroon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Patricia de Lille, Good-leier, praat Donderdag met die media in Bethelsdorp tydens haar besoek aan die Nelson Mandelabaai-metro as deel van die party se verkiesingsveldtog.  Foto: Cara-Lee Dorfling
Patricia de Lille, Good-leier, praat Donderdag met die media in Bethelsdorp tydens haar besoek aan die Nelson Mandelabaai-metro as deel van die party se verkiesingsveldtog. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die Good-party wil die EFF as derde grootste politieke party in die Nelson Mandelabaai-metro onttroon.

Lawrence Troon, die party se burgemeesterskandidaat in die metro, sê hy is vol vertroue dat Good homself genoeg bewys het om Maandag in die plaaslike verkiesing die derde meeste stemme te kry.

"Die EFF is op sy rug. Die EFF se basis was in Motherwell- vier van hul sterk kandidate is nou by Good.

"Ons is nie gekke nie en sal nie mense belieg nie. Die ANC en die DA is al lank hier, maar die grootste slagoffer in hierdie verkiesing sal die DA wees, want hy het ons mense belieg," het Troon Donderdag gesê tydens hul verkiesingsveldtog wat in die noordelike voorstede van Gqeberha gehou is.

In die 2016- plaaslike verkiesing het die DA 46% van die stemme in die metro gekry terwyl die ANC 40% en die EFF 5% van die stemme gekry het.

Die Good-party is sowat twee jaar ná die verkiesings gestig.

Patricia de Lille, Good-leier, het Donderdag se veldtog saam met Troon gelei en aan Netwerk24 gesê sy is beïndruk met die werk wat die partylede hier doen.

"Die mense is siek en sat vir die ou politieke partye omdat hulle net leë beloftes maak en ná die verkiesings verdwyn. Ons moet wys ons is verskillend en ons doen dinge anders."

Patricia de Lille, Good-leier, en Lawrence Troon, die party se burgemeesterskandidaat in die Nelson Mandelabaai-metro, het Donderdag verskeie wyke in die metro besoek om kiesers vir die komende plaaslike verkiesing te werf.  Foto: Twitter, Good
Patricia de Lille, Good-leier, en Lawrence Troon, die party se burgemeesterskandidaat in die Nelson Mandelabaai-metro, het Donderdag verskeie wyke in die metro besoek om kiesers vir die komende plaaslike verkiesing te werf. Foto: Twitter, Good

Sy sê terwyl hul lede kiesers gewerf het, is verskeie probleme in die gemeenskap onder hul aandag gebring en die lede het dadelik daarop gereageer.

Volgens haar het die party 'n groep werklose loodgieters bymekaargebring en hulle 'n toelae gegee om te help met verstopte dreine en ander probleme in die gemeenskap.

"Ons is amper nou al die inbelsentrum (van die metro), want die mense weet ons help," sê De Lille.

Oor die verkiesingsuitslae wil De Lille nie vooruitskattings maak nie en sê sy sal met enige groei tevrede wees.

Sy het aan kiesers gesê dat elkeen se stem waarde het.

"Mense moet nooit hul stem net weggee aan enige politieke party nie, insluitende Good. Mense moet die waarde van hul stem besef.

"Daarom vra ons mense om hul stem vir ons te leen, net vir vyf jaar, want Good het 'n plan oor hoe om plaaslike regering te verbeter. As ons ná vyf jaar nie ons plan nagekom het nie, stem ons dan uit. Dít is hoe jou stem gebruik moet word. Mense laat politieke partye wegkom met moord en dit kan stop."

SPELETJIES VANDAG

CTA