Die jeug besef die toekoms van die land is in hul hande en dat dit 'n belegging is om in die plaaslike verkiesings te stem.
So het Julius Malema, EFF-leier, Maandag by die Mponegele Primary School in Seshego, buite Polokwane, gesê nadat hy gestem het.
Malema het meer as drie uur laat by die skool in sone 1 in Seshego opgedaag nadat sy woordvoerders aanvanklik gesê het dat hy omstreeks 10:00 gaan stem.

Kiesers het drupsgewys by die stempunt opgedaag en beamptes van die Verkiesingskommissie (OVK) het behoorlik hul hande vol gehad om te sorg dat 'n gesonde afstand ingevolge die Covid-19-reëls nagekom word. Daar was ook 'n tent waar mense hulself teen Covid-19 kon laat inent.
'n Klein groep vroue in EFF-hemde en met vlae van die party het gesing en -dans toe Malema se swart Mercedes ná 13:00 opgedaag het. Malema het langer as 'n halfuur geduldig saam met sy vrou, Mantwa, in die bloedige son gewag voordat hulle hul kruisies kon trek.

'n Groep ANC-ondersteuners het by die OVK-beamptes gekla omdat die EFF-ondersteuners binne die toegelate gebied gesing en -dans het. Die polisie en die OVK het die situasie vinnig ontlont.
Malema het later gesê "onderonsies is vir verloorders, ons hou ons nie daarmee besig nie".
Nadat hy gestem het, het Malema, 'n boorling van Limpopo, buite die skool aan die media gesê die EFF "het alles menslik moontlik gedoen" dat mense vir hulle stem.
"Ons het baie goed georganiseerde takke wat op grondvlak by mense betrokke is. Ek is oortuig daarvan dat ons baie beter as in 2016 se plaaslike verkiesings en die nasionale verkiesings in 2019 gaan vaar. Ons proe al die oorwinning."

Hy is tevrede met die aantal ouer mense wat landwyd by die stempunte opgedaag het. Die EFF is sedert 2016 die amptelike opposisie in Limpopo.
Eunice Koko (45) het vroegoggend by die Mponegele Primary School opgedaag met 'n ANC-vlag met die gesig van Winnie Madikizela-Mandela daarop.
"Ek maak geen geheim daarvan vir wie ek gaan stem nie. Die ANC is die enigste party waarvoor ek sal stem al loop ek eendag met 'n kierie. Ek sal vir die ANC stem tot die dag dat ek sterf."

Koko is werkloos, maar is hoopvol dat sy werk sal kry.
Stan Mathabatha, premier van Limpopo, het by die Laerskool Pietersburg-Oos in Bendor in Polokwane saam met etlike ander ANC-hooggeplaastes gestem.
Desiree van der Walt, DA-LP en bestuurder van die party se verkiesingsveldtog in Limpopo, het haar kruisie in die Katolieke kerk in wyk 14 in Tzaneen getrek.
Sy het gesê sy weet van "klein haakplekke" in die stemproses oral in Limpopo, maar die OVK is baie behulpsaam om mense te help.

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo en lid van die provinsiale wetgewer, het by die Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane gestem.
Maritz het gesê daar is stempunte in die Elias Motsoaledi-munisipaliteit in Groblersdal wat laat geopen het. Daar was glo ook probleme in die Sterkrivier-gebied buite Mokopane.
Daar is 3 191 stempunte in Limpopo. Vyf van dié stempunte word as medium-veiligheidsrisikogebiede beskou, het Mavhungu Lerule-Ramakanya, LUR vir veiligheid in die provinsie, gesê.

Die Groter Tzaneen-munisipaliteit in die Mopani-distrik en die Collins Chabane-munisipaliteit in die Vhembe-distrik word as moontlike brandpunte bestempel. In die Waterbergstreek van Limpopo is die Lephalale-munisipaliteit en die Mogalakwena-munisipaliteit in Mokopane brandpunte. In die Sekhukhune-streek sal bykomende veiligheid vir die Elias Motsoaledi-munisipaliteit in Groblersdal gereël word.
Nkaro Mateta, hoof van die OVK in Limpopo, kon nie sê hoeveel probleme by watter stempunte aangemeld is nie.



















