Sekere stempunte in die Vrystaat kon nie Saterdag open vir spesiale stemme nie omdat daar glo nie koeverte vir die stembriewe was nie.
Die bakkie van die Verkiesingskommissie (OVK) wat die koeverte na Dihlabeng en Nketoana moes neem, was glo in 'n ongeluk en die vrag kon toe nie afgelewer word nie.
Dihlabeng sluit in die dorpe Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Paul Roux en Rosendal en Nketoana Arlington, Lindley, Petrus Steyn en Reitz.

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, en sy vrou, dr. Astrid Jankielsohn, het Saterdagmiddag laat gesê hulle staan steeds in Bethlehem en wag om hul spesiale stemme uit te bring.
"Ons hoor by raadslede en party-agente die bakkie met die koeverte was in 'n motorongeluk en die stemlokale in Dihlabeng en Nketoana kon nie open nie. Tuisbesoeke kon ook nie gedoen word om spesiale stemme te gaan haal nie."
Jankielsohn het gesê as dit van hom afhang, het hy vir die OVK koeverte by die winkels in Bethlehem gaan koop, maar dit word blykbaar nie toegelaat nie.
Jankielsohn was bekommerd dat dié agterstande nie Sondag op die tweede dag vir spesiale stemme ingehaal sal kan word nie.
Mmathabo Rasengane, woordvoerder van die Verkiesingskommissie (OVK) in die Vrystaat, het later bevestig van die koeverte sou Saterdag eers om 16:30 en by ander plekke om 18:00 aankom, wyl stempunte al 17:00 sluit.
Sy het vroeër Saterdag in 'n verklaring gesê net drie van die 1 434 stemlokale in die Vrystaat waar spesiale stemme Saterdag en Sondag uitgebring kan word, het Saterdagoggend probleme gehad, maar was later oop.
Sy het later erken dat daar nie in Dihlabeng en Nketoana gestem sal kan word nie.

In die Masilonyana-munisipaliteit (Brandfort, Winburg, en Theunissen) het die eienaar by die stemlokaal in wyk 3, nie die deure Saterdagoggend oopgesluit nie en sy telefoon was ook af, maar 'n boer was bereid om 'n nabygeleë stemlokaal te gaan oopsluit.
Sy het verder gesê in Heilbron in die Ngwathe-munisipaliteit (Parys) se wyk 3, was die stemlokaal gesluit en daar was geen sleutel nie, maar teen 11:00 was die stemlokaal oopgesluit nadat 'n skoolhoof ingespring en gehelp het.
In die Metsimaholo-munisipaliteit (Sasolburg, Deneysville en Oranjeville) se wyk 8, 10, 12 en 18 moes tente weer vroeg Saterdagoggend opgeslaan word nadat hulle Vrydag deur die sterk wind weggewaai is.
Al die tente het teen 08:00 Saterdagoggend gestaan, het sy gesê.
Rasengane het ook gesê een lid van die All Progressives Congress (APC) was in 'n motorongeluk naby Bethlehem, maar sy is nie beseer nie.
Sy het gesê polisielede was oral sigbaar.
Daar het 85 041 mense in die Vrystaat geregistreer vir die uitbring van spesiale stemme. Daarvoor moet 32 683 tuisbesoeke gebring word en die ander 52 958 mense moet hul spesiale stemme by stemlokale uitbring.

Sy het ook gesê daar is 3 524 spanne wat help met die uitbring van spesiale stemme en die meeste spesiale stemme (7 359) sal in Mangaung uitgebring word.
Wouter Wessels, VF Plus-LP en nasionale verkiesingsbestuurder van dié party, het gesê dit was Saterdag weer duidelik dat die OVK se beamptes nie voldoende opgelei is vir die taak nie.
"Daarom het talle foute gebeur soos dat stembriewe nie gestempel word nie, of dat spesiale stemme nie in die regte koevert of koeverte geplaas word nie."
Hy het ook Saterdagmiddag gesê stemlokale by Nketoana en Dihlabeng is nog nie in bedryf nie. "Ons het die saak provinsiaal en nasionaal by die OVK aangemeld.
"Dit beteken dat die hele eerste dag vir die uitbring van spesiale stemme vermors is," het hy gesê.

Werner Horn, Vrystaatse DA-voorsitter en -veldtogbestuurder, het Saterdagmiddag gesê die daar was by sommige ander plekke ook te min koeverte.
"Hier en daar het stembriewe ook nie opgedaag nie, soos in die Koppies-omgewing, maar dit kon later reggestel word."
Pappie Mokoena, president van die Afrikan Allience of Social Democrats, wat kandidate net in Mangaung, (Bloemfontein en omliggende dorpe), Maluti-A-Phofung (Kestell, Qwaqwa en Harrismith) en Mantsopa (Excelsior, Hobhouse, Tweespruit en Ladybrand) gestel het, het gesê hoewel sommige stemlokale laat geopen het, het alles relatief goed verloop.
"Daar was hier en daar 'n haakplek, maar ons hoop alles sal Sondag en Maandag reg wees."


















