Kouga bly in DA se hande

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
 Foto: Twitter, DA
Foto: Twitter, DA

Die DA het toe inderdaad beheer oor die Kouga- munisipale raad in die Oos-Kaap met 'n volstrekte meerderheid behou.

Volgens die resultate op die Verkiesingskommissie se webtuiste het die DA 16 setels in die Kouga-raad gewen en die ANC 11. Die EFF, Patriotic Alliance en VF Plus het elk een setel gewen.

Die DA het 53,5% (36 430 stemme) en die ANC 37,18% (25 317) van die stemme gekry.

John Steenhuisen, DA-leier, het Dinsdag die party se oorwinning in die Kouga-munisipaliteit aangekondig.

"In 2016 het inwoners van Kouga die ANC verwerp en besluit om eerder die DA 'n geleentheid te gee om onsself te bewys. Vandag se volstrekte oorwinning vir die DA is 'n aanduiding dat inwoners glo ons het dit gedoen en ons gaan dit oor die volgende vyf jaar weer doen."

Die Kouga-munisipaliteit is onlangs volgens Netwerk24 se Buitewerking-indeks as die beste munisipaliteit in die Oos-Kaap en een van die toptien in die land aangewys.

"Die DA is opgewonde en dankbaar vir die ongelooflike geleentheid om voort te bou op die goeie bestuur wat ons oor die afgelope vyf jaar neergelê het, maar ons erken daar is nog baie om in Kouga te doen."

Ons het Kouga se finansies gestabiliseer en begin om die vermoë van die raad te verbeter om (dienste) aan mense te lewer.

Steenhuisen sê hy hoop die DA se sukses in Kouga gaan inwoners in ander Oos-Kaapse-munisipaliteite aanmoedig om die DA 'n kans te gee.

"Ons wil ons handelsmerk van goeie bestuur in meer munisipaliteite in die Oos-Kaap herhaal."

Volgens Steenhuisen was die munisipaliteit aan die agteruitgaan toe die DA in 2016 die beheer oorgeneem het.

"Ons het Kouga se finansies gestabiliseer en begin om die vermoë van die raad te verbeter om (dienste) aan mense te lewer."

Volgens Steenhuisen het die munisipaliteit verskeie "suksesse" oor die afgelope vyf jaar behaal.

Die suksesse sluit onder meer die volgende in:

• Die DA-beheerde munisipaliteit het sedert 2016 al 611 huise gebou en is tans besig om nog 3 025 huise te bou.

• Die munisipaliteit het sedert 2016 meer as 3 000 titelaktes aan begunstigdes oorhandig.

• Meer as 1 800 huishoudings het toegang tot elektrisiteit gekry en meer as 1 000 straatligte is met LED-ligte toegerus.

• Altesaam 96% van die munisipaliteit se voertuie is operasioneel om dienste aan die gemeenskap te lewer teenoor die 4% wat in 2016 operasioneel was. 'n Volle 57 nuwe voertuie is ook by die vloot gevoeg.

• Die munisipaliteit het die afgelope vyf jaar meer as R10 miljoen aan die herstel en opknapping van paaie bestee.

Steenhuisen se aankondiging dat die DA beheer oor die Kouga-munisipaliteit behou het, het gevolg op 'n inskrywing Dinsdagoggend net ná 07:00 op die munisipaliteit se Facebook-blad dat die DA die meeste stemme gekry het terwyl al die stemme nog nie getel was nie.

"Kouga bly onder DA-beheer. Die DA het die meeste stemme verwerf en verskeie wyke behou en gewen. Meer inligting volg," lui die inskrywing.

Andrew Whitfield, provinsiale voorsitter van die DA in die Oos-Kaap, het toe by navraag gesê: "Nieamptelike uitslae toon dat ons Kouga gewen het."

SPELETJIES VANDAG

CTA