Lang rye, probleme met kieserslys en reën pla in Suid-Kaap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kiesers staan Maandagoggend vroeg buite die Masonic-saal in Caledonstraat in George gereed om hul kruisies te trek. Foto: Verskaf
Kiesers staan Maandagoggend vroeg buite die Masonic-saal in Caledonstraat in George gereed om hul kruisies te trek. Foto: Verskaf

Lang rye, masjiene wat van lyn is en kiesers se name wat nie op die kieserslys verskyn nie, was van die probleme wat Maandag by stemlokale in die Suid-Kaap opgeduik het.

Maandagoggend vroeg was dit koud en teen die middag het dit met tye op talle plekke hard gereën. By van die stemlokale was daar nie plek om onderdak in die rye te wag nie.

Volgens kiesers het 'n stembus in George Maandagoggend laat oopgemaak omdat die personeel van die Verkiesingskommissie (OVK) glo eers "ingeskandeer" moes word.

By talle verkiesingslokale, soos dié in D'Almeida, Asla, Kwanonqaba (alles in Mosselbaai) en Wolwedans in Groot-Brakrivier, was daar ook inentingsentrums waar mense van 09:00 tot 15:00 teen Covid-19 ingeënt kon word.

Jaco Londt, DA-voorsitter in die Wes-Kaap, het Maandagmiddag kiesers bedank wat ten spyte van die probleme steeds gaan stem het.

"Daar blyk 'n aansienlike afname in die opkoms van kiesers te wees.

Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa), stem Maandagoggend in die Lutherse kerk in Mosselbaai. Verskaf
Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa), stem Maandagoggend in die Lutherse kerk in Mosselbaai. Verskaf

"Daar is ook enorme frustrasies oor die stadige prosessering van die kiesers deur die OVK, en oor die lang rye, masjiene wat van lyn is asook heelparty kiesers wie se name nie verskyn op die kieserslys nie nadat hulle in die registrasienaweek hul kant gebring het."

Na verneem word, was daar teen die middag lang toue kiesers op plekke soos Sedgefield, Reebok (Mosselbaai) en Groot-Brakrivier.

Die ANC het op plekke soos wyk 11 en 6 in Knysna gratis vervoer vir kiesers na en van die stemlokaal aangebied, volgens inligting op Facebook.

Daar was Maandag ook onverwagse kragonderbrekings in dele van Oudtshoorn, soos Wesbank-Noord en Bridgton, nadat sterk wind die middag gewaai het.

Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit het hy egter geen berigte ontvang dat die onderbrekings enige stemlokale geraak het nie.

Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa), het gesê hy het Maandagoggend sonder enige voorval in die Lutherse kerk in Mosselbaai gaan stem.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het teen laatmiddag gesê geen noemenswaardige voorvalle wat met stemmery verband hou, is by die polisie in die Suid-Kaap aangemeld nie. "Alles is heel rustig."

SPELETJIES VANDAG

CTA