Verkiesing 2021

’n Droom op ‘vals’ grond skep reeds beter lewe

Siabonga Radebe (3) hou Kitty, sy katjie, voor hul huis in Phomolong, Mangaung, vas. Agter is Balekile (44), sy ma. Daar is min sinkhuise wat nié troeteldiere het nie.   Foto: Mlungisi Louw
Siabonga Radebe (3) hou Kitty, sy katjie, voor hul huis in Phomolong, Mangaung, vas. Agter is Balekile (44), sy ma. Daar is min sinkhuise wat nié troeteldiere het nie. Foto: Mlungisi Louw

Selfs net die belofte van eiendomsreg saam met 'n nuwe erf vir 'n huis waarheen mense buite Mangaung geskuif is, maak die mense se lewe reeds beter - al het hulle nie lopende water en krag nie. Dit is die ironie van lewe aan die rand van die samelewing. Dienste is so swak in informele nedersettings dat hulle graag 'n droom bou op 'n plek wat môre van jou weggevat kan word. Cheréne Pienaar en Mlungisi Louw het kort voor die plaaslike verkiesings by die mense van Phomolong gaan inloer.

Chrisjan Madie (31) stoot 'n trollie vol leë plastiekhouers saam met Mabithumelo (30), sy vrou, om water by 'n kraan af te tap wat sowat 3 km van hul huis geleë is.

Hy gesels laggend as ons langs hulle stilhou. Hy werk vir Bloemwater, en die ironie ontgaan hom nie.

"Dit is lekker om my eie huis te hê en nie meer by my ouers te woon nie, net jammer ons het nie water of 'n straatnommer vir ons huis nie. Maar die lewe is baie beter hier."

Phomolong, wat "plek van vrede" beteken, se jongste woonbuurt op die plaas Klipfontein buite Bloemfontein het sy ontstaan gehad weens mense wat sedert Februarie vanjaar uit die Caleb Motshabi-gebied verskuif is waar hulle op 'n hoëdruk-waterlyn gebly het.

Mense is ook uit ander informele gebiede in die stad, soos Kgotsong en Bergmanplein, hierheen verskuif.

Titelaktes en dienste is beloof, wat 'n groot aansporing was vir die mense om te trek.

Siabonga en Balekile werk in hul tuin. Uie, pampoen en mielies word meestal in Phomolong geplant en die eienaars moet ver stap vir water.  Foto: Mlungisi Louw
Siabonga en Balekile werk in hul tuin. Uie, pampoen en mielies word meestal in Phomolong geplant en die eienaars moet ver stap vir water. Foto: Mlungisi Louw

'n Plein vol blokke met sinkhuise wat met draad afgebaken is, lê voor ons uitgestrek. Die "drie susters" teen die pad is die enigste bome.

Hier dobber hul nuwe sinkhuisies wat blink in die son aan die rand van 'n see van tienduisend lendelam sinkhuise van informele woongebiede. Hulle is hier uitgespoel en hier hoop hulle op 'n beter lewe as doer in die see van mislikheid.

In elke derde tuin word uie, mielies en pampoen met baie moeite aan die lewe gehou. Niemand sien die vullis teen die grense van hul nuwe "dorp" nie. Hul filters is op oorlewing geskoei.

Enkeles is gelukkig om 'n kraan te hê.

Vir energie word gas, paraffien en sonpanele gebruik. Vir riolering is hulle aangewese op puttoilette wat hulle self grawe en toegesluit word om die diefstal van toiletpapier te voorkom.

Ek is so gelukkig hier. Al is die skole en die klinieke verder. Dalk kan ek eendag vir ons 'n mooi huis hier bou.

"Die dag ná 1 November sal daar water wees, dis wat die councillor belowe het," sê 'n stoere, bejaarde ANC-ondersteuner wat anoniem wil bly.

"As die councillor ons geld eet, lê die fout by haar, dis mos nie die ANC se skuld nie."

Haar vriendin, Anna May (31), staan nader. Sy sê sy gaan beslis stem, maar weet nog nie vir wie nie.

"Dalk môre kom die councillor en skuif ons," sê sy en lig haar skouers.

"Maar vir nou het ons hoop dat ons hulp gaan kry, want die president het gesê sy sal gearresteer word as sy die geld steel."

Verder af in die pad kry ons vir Dineo Makgabane (16), die oudste van vyf sibbes wat in een sinkhuis saam met haar ouers woon.

Haar oë blink terwyl sy sê sy het nie "tyd vir praatjies nie", die skool wag.

Die honneursstudente van die UV se departement stads- en streeksbeplanning besoek die inwoners van Phomolong as deel van hul navorsing. Simon Ntoahae (39) (links), 'n sangoma, gesels met die studente. Van links is die studente Madisemelo Palo, Leemisa Matooane, Mpho Tsotetsi en Oarabile Ngakantsi.  Foto: Mlungisi Louw
Die honneursstudente van die UV se departement stads- en streeksbeplanning besoek die inwoners van Phomolong as deel van hul navorsing. Simon Ntoahae (39) (links), 'n sangoma, gesels met die studente. Van links is die studente Madisemelo Palo, Leemisa Matooane, Mpho Tsotetsi en Oarabile Ngakantsi. Foto: Mlungisi Louw

"My droom is om 'n maatskaplike werker te word om kinders te help," wys sy met haar vingers gepunt na bo om die lengte van die kinders te wys.

Kinders in nood is hier by die dosyne. Hulle stap doelloos rond, suigstokkie in die hand, of ry op 'n kruiwa langs die kanne water as jy klein genoeg is.

Die meeste kinders is ook broodwinners danksy die maandelikse R450-toelae wat in baie van die huise die enigste inkomste is.

Balekile Radebe (44) frons teen die son met haar driejarige seun wat aan haar rem. Sy los nie die graaf terwyl sy praat oor haar dankbaarheid nie.

"Ek is so gelukkig hier. Al is die skole en die klinieke verder. Dalk kan ek eendag vir ons 'n mooi huis hier bou."

Vir nou moet haar drie kinders, van wie een gestremd is en 'n toelae van R1 800 per maand inbring, tevrede wees met die sinkhuisie wat amper kookpunt gaan bereik in die somerson.

Matlotliso Thabana (42) sê sy is kwaad oor daar nie water is nie, "maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie".

Sy trek haar skouers op.

Soms wen jy, soms verloor jy in die spel genaamd oorlewing.

Sy is die eienaar van die winkeltjie Blessing's General Dealer, wat snoeperye verkoop, en staan rotsvas tussen buitelandse manlike sakelui in dié nedersetting.

"Ek was vir twee jaar 'n taxibestuurder. Dit het my 'n sterk vrou gemaak. Die taxi-eienaars het my eenkant gedruk, maar ek het opgestaan vir alle vroue. Ek gaan van die winkel 'n sukses maak, kom wat wil," sê sy.

"Ek hoop net die mense hier kry huise, maar ek gaan self my eie huis bou."

Sy woon teenaan die winkel van sink saam met haar man en drie kinders, en hoop om jong vroue te inspireer om hul eie ding te doen.

"Hierdie ANC belowe baie dinge, maar niks kom daarvan nie. Maar ek, ek is orraait."

Omphile May (5) moet eintlik in die skool wees, maar daar is nie geld om vir haar vervoer te betaal nie, sê haar ma, Anna.  Foto: Mlungisi Louw
Omphile May (5) moet eintlik in die skool wees, maar daar is nie geld om vir haar vervoer te betaal nie, sê haar ma, Anna. Foto: Mlungisi Louw
Violet Mahlehlele (22) besoek Blessing's General Dealer. Matlotliso Thabana (42) is die eienaar en het hard gewerk om haar kafee tussen buitelandse mans te registreer en sonder krag of water te laat floreer.  Foto: Mlungisi Louw
Violet Mahlehlele (22) besoek Blessing's General Dealer. Matlotliso Thabana (42) is die eienaar en het hard gewerk om haar kafee tussen buitelandse mans te registreer en sonder krag of water te laat floreer. Foto: Mlungisi Louw

Titelaktes nog net 'n pypdroom

Damien Sotho (2) en sy hoender geniet die nuwe omgewing nadat hy en sy gesin na Phomolong, Mangaung, verskuif is.  Foto: Mlungisi Louw
Damien Sotho (2) en sy hoender geniet die nuwe omgewing nadat hy en sy gesin na Phomolong, Mangaung, verskuif is. Foto: Mlungisi Louw

Thomas Stewart, 'n dosent van die departement stads- en streekbeplanning aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê jy kan net 'n titelakte kry as daar 'n "LG-plan" (landmeter-generaal) in die LG-kantoor goedgekeur is.

Die departement besoek jaarliks van die informele nedersettings in Mangaung, onder meer met 'n groep honneursstudente wat 'n studie van die beplanning al dan nie en die inwoners se maatskaplike omstandighede doen.

"Dit gebeur nadat formele beplanning goedgekeur en die terrein opgemeet en gepen is (fisieke ysterpenne wat 'n landmeter in grond inslaan op grond van 'n goedgekeurde plan), plus dienste geïnstalleer is.

Dit is lekker om my eie huis te hê en nie meer by my ouers te woon nie, net jammer ons het nie water of 'n straatnommer vir ons huis nie. Maar die lewe is baie beter hier.

"Dié erwe is blykbaar gepen en dit is teen die normale prosedure. Wat wel waar is, is dat titels en dienste beloof is. Die vraag is wanneer?"

Hoewel dit onwenslik is om mense uit hul ondersteuningsnetwerk te verskuif, blyk die meeste inwoners tevrede te wees met hul nuwe verblyf, veral omdat daar beloftes gemaak is met hul verskuiwing, sê Stewart.

"Opvallend is dat mense se oortuiging en persepsie dat hulle verblyfsekerheid het van so 'n aard is dat dit belegging aanmoedig. Mense maak tuin, bou meer permanente huise, sorg vir hulself met kleinsake soos 'n dagsorg. Ander maak gebruik van die sakegeleenthede deur winkels en ander noodsaaklike dienste op hul erwe te bedryf.

"Ek het op 'n groep afgekom wat stemme werf vir Pappie Mokoena - hy was 'n tyd terug burgemeester en het nou sy eie party gestig, die AASD. Daar was ook twee vriendinne, een met 'n DA- en een met Zuma-T-hemp."

Chrisjan Madie (31) stoot 'n trollie vol leë plastiekhouers saam met sy vrou, Mabithumelo, om water te gaan haal by die kraan wat 3 km van hul huis in Phomolong, Mangaung, geleë is. Hy werk vir Bloemwater.   Foto: Mlungisi Louw
Chrisjan Madie (31) stoot 'n trollie vol leë plastiekhouers saam met sy vrou, Mabithumelo, om water te gaan haal by die kraan wat 3 km van hul huis in Phomolong, Mangaung, geleë is. Hy werk vir Bloemwater. Foto: Mlungisi Louw

Behuising genees gemeenskappe

Leratho Khauli (27) en haar baba, Oarabatsa.  Foto: Mlungisi Louw
Leratho Khauli (27) en haar baba, Oarabatsa. Foto: Mlungisi Louw

Gail Day, voorsitter van die Vryemarkstigting se uitvoerende komitee, sê die oomblik as inwoners van formele nedersettings hul eie huis kry, is hulle geneig om onmiddellik die eiendom te verbeter.

"Hulle gebruik plaaslike arbeid, wat die hele gemeenskap lig."

Sy beskryf die Vryemarkstigting se Khaya Lam- (My Tuiste) projek as 'n baie emosionele ondervinding.

Tussen 5 en 7 miljoen huise in Suid-Afrika behoort nog aan munisipaliteite. Dit is ou apartheid-huise wat by die munisipaliteit gehuur is. Die stigting het al 4 500 titelaktes oorhandig met 6 000 wat in die proses is. Die stigting het verdere befondsing vir 20 000 titelaktes.

"Ons vorder geld in van borge in die privaat sektor. Dit kos R2 600 om 'n wettige huurder in 'n huiseienaar te verander, wat 'n inspuiting van R100 000 tot R120 000 in die ekonomie beteken.

"Huiseienaars het 'n belangstelling in 'n stabiele ekonomie. Khaya Lam maak grondhervorming 'n werklikheid."

• In 2014 het Suid Afrika 'n 63%- verstedelikte bevolking gehad (nie plaas- of voormalige "tuisland"-bewoners nie), sê Stewart. Daar word geprojekteer dat ons teen 2030 80% verstedelik sal wees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM