Verkiesing 2021

Orania ook Maandag na stembus

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Victor Correia was een van die beamptes wat in die stemlokaal in Orania gewerk het. Foto: Joost Strydom
Victor Correia was een van die beamptes wat in die stemlokaal in Orania gewerk het. Foto: Joost Strydom

Inwoners van Orania in die Noord-Kaap is ook Maandag stembus toe.

Dié Afrikaner-tuiste neem egter nie aan die plaaslike verkiesings deel nie, maar het hul eie verkiesings waarin hulle vir hul eie kandidate stem. Die inwoners kan wel provinsiaal en nasionaal stem.

Die historikus Louis Bothma, wat ook in Orania woon, het die eerste keer in 30 jaar gestem. Hy het op Facebook die nuus gedeel dat hy sy kruisies getrek het.

"1 November 2021. 'n Dag wat ek nooit sal vergeet nie. Ek stem die eerste keer sedert 17 Maart 1992 - dié dag toe die Nasionale Party wit kiesers wysgemaak het dat 'n nee-stem in die referendum 'n stem vir die ANC sou wees."

Die stemme word ná die stemproses in Orania getel. Foto: Joost Strydom
Die stemme word ná die stemproses in Orania getel. Foto: Joost Strydom

Bothma sê hy was Maandagoggend met 'n knop in die keel een van die eerste kiesers in Orania wat hul kruisies agter 'n paar kandidate se name getrek het.

"Let wel, nie vir die een of ander politieke party of sy kandidate gaan stem het nie, maar gebreek het met die koloniale kiesstelsel wat ná 31 Mei 1902 op Suid-Afrika deur Groot Brittanje en haar kolonies afgedwing is en in 1994 'n stap verder - weg van demokrasie - gevoer is."

Hy het slegs twee maal tevore gestem en dit was in die referendum van 1983 en 1992.

"Omdat daar nooit 'n kandidaat van my keuse in die kiesafdelings was waar ek gewoon het nie, het dit so gekom dat ek nog nooit in my lewe vir 'n politieke party gestem het nie. Destyds was ek erg ontsteld daaroor, maar vandag is ek bly dat dit so uitgewerk het."

Bothma sê hy gaan die paar volksverteenwoordigers vir wie hy gestem het, fyn dophou.

"Ek laat my nie deur knievallers lei nie."

Oraniërs het ook Maandag in hul eie verkiesings gestem. Foto: Joost Strydom
Oraniërs het ook Maandag in hul eie verkiesings gestem. Foto: Joost Strydom

Joost Strydom, woordvoerder van Orania, sê Orania se bestaansreg as unieke munisipaliteit is in 2000 in 'n hofsaak erken.

"Ons stem sedert 2000 op ons eie. Ons stem plaaslik nie vir enige politieke partye nie, maar wel vir kandidate."

Oraniërs word wel nie verhoed om aan verkiesings deel te neem nie.

Die kandidate word benoem en verteenwoordig Oraniërs.

Strydom sê vanjaar is 21 kandidate benoem, van wie 11 verkies is. Een is 'n "uitwoner-kandidaat".

Strydom sê so 'n kandidaat is lid van die Orania-beweging of iemand wat eiendom in Orania besit, maar nog nie daar woon nie. Dié kandidaat is die 12de lid van die Orania Verteenwoordigende Raad.

Louis Bothma, die historikus, het ook Maandag as 'n inwoner van Orania vir die eerste keer in 30 jaar gaan stem. Foto: Facebook/Louis Bothma
Louis Bothma, die historikus, het ook Maandag as 'n inwoner van Orania vir die eerste keer in 30 jaar gaan stem. Foto: Facebook/Louis Bothma

Strydom sê slegs uitwoners kan vir mekaar stem en inwoners vir mekaar.

Hy sê 963 inwoners en 138 uitwoners het vir die volkstaat se plaaslike verkiesings geregistreer. Die stempersentasie van albei is op 80% bereken.

Orania is in die Thembelihle-munisipaliteit waar die ANC met 39,81% van die stemme gewen het. Die EFF is tweede met 24,54% en die DA derde met 12,21%.

Boere en plaaswerkers buite Orania het by die OVK-stempunt by die Orania Volkskool gestem.

Die VF Plus het by die stempunt met 87,75% gewen terwyl die DA 10,6% en die ACDP 1,6% van die stemme gekry het.

In die aangrensende stemdistrik op die plaas Boland het die EFF die wyk met 34,27% stemme gewen, die VF Plus is tweede met 32,87% en die DA derde met 27,97%.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM