Beurtkrag, koalisieregerings, die stryd teen korrupsie én die "grootste probleem" van leë verkiesingsbeloftes is van die drukkende kwessies wat politieke partye vir oulaas inspan as deel van hul ammunisie om meer steun te werf.
Dit was Donderdag ook ter sprake op die IVP en ActionSA se laaste nasionale verkiesingsaamtrekke in onderskeidelik Ulundi, KwaZulu-Natal, en Johannesburg, waar hulle kiesers probeer oortuig het om Maandag vir hulle te stem.
Met net drie dae oor voor die plaaslike verkiesings sal die ANC Vrydagmiddag ook sy laaste nasionale Siyanqoba-saamtrek hou in Thokoza Park, Soweto, waar pres. Cyril Ramaphosa die hoofspreker sal wees.
Julius Malema en sy EFF hou dieselfde dag ook hul laaste nasionale Tshela Thupa-saamtrek in Katlehong, Gauteng.
Politieke partye het tot Sondag om verkiesingsveldtogte te hou.

Intussen het Ramaphosa Donderdag die ANC se verkiesingsveldtog in Ekurhuleni voortgesit en daar onder meer die huidige vlaag van beurtkrag in Suid-Afrika probeer verdedig.
Volgens hom is Suid-Afrika se elektrisiteitsprobleme "nie so eenvoudig" nie, maar Eskom doen "alles moontlik" om die elektrisiteitstoevoer en -opwekking te herstel.
Ramaphosa het dit ook duidelik gemaak dat hy "nie eens bereid is om oor 'n moontlike koalisieregering ná die verkiesings te praat nie omdat die ANC 'n volstrekte" oorwinning in die meeste munisipaliteite sal behaal.
John Steenhuisen, DA-leier, het Donderdag op sy party se Jozi Road Show-saamtrek in Eldoradopark, Johannesburg, gesê hoewel die DA na 'n volstrekte meerderheid in Johannesburg streef, is hulle bereid om in koalisie te gaan met kleiner partye wat hul kernwaardes deel. " 'n Era van koalisies in baie munisipaliteite is onvermydelik soos ANC-steun afneem."
Die DA sal egter nie met die ANC of EFF in koalisies gaan nie.
Steenhuisen het verder belowe dat die DA beurtkrag daar ook sal beperk soos in Kaapstad as hulle daar aan die bewind kom.
Brett Herron, Good se sekretaris-generaal, het gesê die onlangse geskiedenis van Nelson Mandelabaai, Tshwane en Johannesburg is "baie swak advertensies vir koalisieregerings". As koalisies nodig is, sal Good elke geval op meriete oorweeg, sê hy.

Herman Mashaba, ActionSA-president, het Donderdag by dié party se laaste nasionale Let's Fix South Africa-saamtrek in Johannesburg gesê waar dié party aan die bewind kom, sal hy korrupsie daadwerklik bestry en "nie net daaroor praat nie".
"Die huidige verkiesingsveldtog is ook vol politieke partye wat van volstrekte meerderhede praat, terwyl dit baie duidelik is dat koalisies die toekoms van ons politiek is, of ons nou daarvan hou of nie."
ActionSA sal volgens Mashaba net deel van koalisieregerings word nadat hulle eers met inwoners van die betrokke munisipaliteite daaroor gepraat het.
Intussen het Mangosuthu Buthelezi, president-emeritus van die IVP, by dié party se Siyanqoba-saamtrek in Ulundi gesê "die leë beloftes" van talle politieke partye om kiesersteun te lok, is "ongetwyfeld die grootste probleem van die huidige verkiesingsveldtog".
" 'n Mens kan net teruggaan na elke verkiesingsveldtog sedert 1994 en na die getalle kyk om te sien hoe baie beloftes verbreek is.
"Ons gaan 'n miljoen werkgeleenthede skep!" het hulle (met verwysing na die ANC) gesê. "Ons sal 'n miljoen huise bou! Ons sal puttoilette in die volgende ses maande uitroei! Ons sal beurtkrag stop! Ons sal ontslae raak van diegene wat korrup is! Daar is bewys dat die beloftes leeg is, want hulle is nooit vervul nie," het Buthelezi bygevoeg.





















