VERKIESINGS | Peiling: Net derde van kiesers kan uitslag bepaal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kannaland is een van die brandpunte in vanjaar se plaaslike verkiesings in die Wes-Kaap. Foto: André Damons
Kannaland is een van die brandpunte in vanjaar se plaaslike verkiesings in die Wes-Kaap. Foto: André Damons

Slegs 'n derde van die meer as 42 miljoen kiesers wat daarop geregtig is om in Suid-Afrika te kan stem, sal die uitslag van Maandag se plaaslike verkiesings bepaal.

Dít terwyl die meeste ondersteuners van die grootste politieke partye soos die ANC, DA, EFF, IVP en die VF Plus aangedui het dat hulle slaggereed is om Maandag te gaan stem.

Kiesers in die Wes-Kaap is die gretigste om hul kruisies te gaan trek, terwyl hul eweknieë in Gauteng die huiwerigste is.

Dit is van die belangrikste bevindinge van 'n peiling wat 'n marknavorsingsmaatskappy vir die televisienuusdiens eNCA gedoen het. Dit is Woensdag bekend gestel - enkele dae voor Maandag se stemdag.

Mari Harris, direkteur en 'n politieke ontleder van Ipsos Suid-Afrika, het Donderdag gesê die bevindinge van dié peiling toon dat kieseropkoms Maandag die "belangrikste" aspek sal wees wat gaan bepaal hoeveel steun politieke partye gaan kry.

"Die groot ding Maandag sal dus vir politieke partye wees om hul ondersteuners by stembusse te kry om te stem."

Dié Ipsos/eNCA-peiling toon dat net 26,2 miljoen uit 42,6 miljoen stemgeregtigdes in Suid-Afrika vir die plaaslike verkiesings geregistreer is.

As daar Maandag, soos in vorige verkiesings, 'n medium-kieseropkoms is waar tot 56% van geregistreerde kiesers sal gaan stem, kan daar sowat 14,6 miljoen kiesers by stembusse verwag word.

Hiervan sal 53% vroue en slegs 6% jeugdige kiesers wees. Mense tussen die ouderdom van 55 en 75 sal waarskynlik die hoogste persentasie (29%) van kiesers uit alle ouderdomsgroepe uitmaak.

Die groot ding Maandag sal dus vir politieke partye wees om hul ondersteuners by stembusse te kry om te stem.

Die kieseropkoms sal ook die hoogste wees in die Wes-Kaap (65%), Noord-Kaap (59%) en KwaZulu-Natal, Limpopo en Noordwes (57% elk).

In die Vrystaat sal kieseropkoms na verwagting 55% wees, in Mpumalanga 53%, in die Oos-Kaap 52% en in Gauteng 51%.

Volgens Harris kan Wes-Kaapse kiesers die gretigste wees om te gaan stem danksy die goeie dienslewering van die DA die afgelope vyf jaar in die meeste munisipaliteite in dié provinsie.

Dit terwyl kiesers in Gauteng en elders huiwerig is omdat baie daar volgens Harris aangedui het dat hulle nie politici of politieke partye vertrou nie of meen dat hul stem niks beteken nie omdat niks ná verkiesings verander nie. Ander voel weer verkiesingsbeloftes word nie nagekom nie óf dat partye nie hul lewensuitkyk verteenwoordig nie.

"In provinsies soos Gauteng is kiesers se vorige ervarings met koalisieregerings of -politiek ná 2016 ook nie positief nie. Kiesers besef koalisieregerings sal waarskynlik weer gevorm word en daarom is hulle huiwerig."

Die Ipsos/eNCA-peiling toon ook dat die kieseropkoms veral laer sal wees in die mees bestrede metro's soos Tshwane en Johannesburg (albei 50%) in Gauteng, sowel as die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap (45%).

Die meeste ANC- en DA-ondersteuners (63% vir elke party) het luidens die peiling aangedui dat hulle Maandag sal gaan stem.

In provinsies soos Gauteng is kiesers se vorige ervarings met koalisieregerings of -politiek ná 2016 ook nie positief nie. Kiesers besef koalisieregerings sal waarskynlik weer gevorm word en daarom is hulle huiwerig.

Dit terwyl 59% van ActionSA-ondersteuners, 58% van die VF Plus, 56% van die IVP en 41% van die EFF ook hul kruisies sal gaan trek.

Harris meen die grootste partye sal die meeste baat vind by 'n laer kieseropkoms. "Dit is omdat die grootste partye, veral die ANC en DA, tot 'n groot mate die hulpbronne het om hul ondersteuners op stemdag by stembusse te kry."

• 1 346 rekenaargesteunde telefoniese onderhoude is van 9 tot 14 Oktober vanjaar met Suid-Afrikaners van ouer as 18, wat geregistreer is om te kan stem, vir die Ipsos/eNCA-peiling gevoer. "Die foutmarge op hierdie steekproef is tussen 1,16 en 2,57 persentasiepunte op 'n 95%-vertrouensvlak." Deelnemers was mense uit alle agtergronde in al nege provinsies.

Beurtkrag sal Maandag ook ANC-steun beïnvloed

Dawie Scholtz, 'n verkiesingsontleder, het Donderdag gesê die ANC het in verkiesingsveldtogte waaraan hy voorheen gewerk het 'n mate van steun verloor as daar kort voor dit beurtkrag was. "Ons het geen idee of dit weer die geval sal wees nie, maar uit my ervaring is dit hoogs waarskynlik."

Volgens hom is daar sommige ANC-kiesers wat kort voor verkiesings ook herinner word "aan die gebrek aan dienslewering, korrupsie en al daardie dinge en is dit nogal skadelik om beurtkrag so naby verkiesings te hê".

"Ek verwag daarom dat dit die ANC gaan kos. Ons moet net wag en sien hoeveel. Gegrond op historiese verkiesings is daar egter geen manier dat dit goed vir die ANC so kort voor 'n verkiesing kan wees nie," het Scholtz gesê.

SPELETJIES VANDAG

CTA