Minder as twee weke voor die plaaslike verkiesings, is pres. Cyril Ramaphosa Donderdag as deel van die ANC se verkiesingsveldtog in die Kaapstad-metro oral met groot toejuiging ontvang.
In die vorige plaaslike verkiesings in 2016 kon die ANC skaars 25% van die stemme in Kaapstad op hom verenig terwyl die DA 'n volstrekte meerderheid gekry het.

Ramaphosa, wat ook die president van die ANC is, het onder meer Mamre, Mfuleni en Khayelitsha besoek.
Hy het gemeenskappe in Afrikaans, Xhosa en Engels toegespreek om stemme vir sy party te probeer werf.
Die verkiesings word op 1 November gehou.
Daar was op die saamtrekke byna geen sprake van die handhawing van Covid-19-gesondheidsmaatreëls nie, hoewel Ramaphosa in 'n stadium gevra het dat mense hul hande moet opsteek as hul maskers saamgebring het.
In Mamre het Ramaphosa gesê met sy besoek het dit duidelik geword dat die DA inwoners sleg behandel en dat die plek baie probleme het.
"Die mense van Mamre is moeg vir die DA en soek verandering. Die agent vir verandering is die ANC, en mense moet uitgaan om vir die ANC te stem."

Hy het 'n hele paar huise besoek en namens die ANC 'n splinternuwe huis aan 'n inwoner belowe omdat hy nie tevrede was met hoe haar huis lyk nie.
Op 'n skoolterrein in Mfuleni het Ramaphosa gesê die ANC erken dat hy in die verlede foute gemaak het, maar dat die party intussen daaruit geleer het.
"Ons vernuwe onsself en ons herposisioneer onsself om ons mense te dien," het Ramaphosa gesê. Baie van die mense in die skare het hul selfone omhoog gehou om video's van hom te neem.
Hier het hy ook die DA gekritiseer, en onder meer verwys na rioolvuil wat in die strate afloop en die toestand van paaie.
In Groenpunt, Khayelitsha, het Ramaphosa die gemeenskap toegespreek op 'n oop stuk veld tussen die sinkplaat-huise en kragdrade wat van lamppale gespan is.
Hier het hy ook die DA gekritiseer, en onder meer verwys na rioolvuil wat in die strate afloop en die toestand van paaie.
Hy het gepraat oor die ANC-regering se rol met die instelling van maatskaplike en die spesiale Covid-19-toelae, bekostigbare onderwys en die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS).
"Ons is 'n omgee-regering en ons reageer op die uitdagings en soek na maniere waarop ons lewens kan verbeter en beter gemeenskappe kan bou."
Van die gemeenskapslede wat die saamtrek hier bygewoon het, het aan Netwerk24 gesê hulle is weens verbreekte beloftes nie van plan om ANC te stem nie, maar wou bloot kom luister wat Ramaphosa te sê gehad het.



















