Verkiesing 2021: Fokus op Knysna, Bitou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Knysna Foto: Getty Images
Knysna Foto: Getty Images

Groot belangstelling heers in Knysna en Plettenbergbaai (Bitou), twee van die bekendste vakansiedorpe in Suid-Afrika, om te sien in watter rigting die politieke mag in die komende plaaslike verkiesings gaan swaai.

Knysna

In Knysna het die DA 11 van die 21 setels nodig om in beheer te kom. Die ANC in koalisie met Cope, die Knysna Unity Congress en die ACDP, regeer die munisipaliteit.

Onlangs het Elrick van Aswegen, die burgemeester, van Cope, egter dié party vir die ANC verruil en is hy hoog op hul lys van proporsionele kandidate.

Elrick van Aswegen, Knysna se burgemeester. Foto: Facebook
Elrick van Aswegen, Knysna se burgemeester. Foto: Facebook

• Die ANC het by navraag oor sy verkiesingsmanifes vir Knysna gesê sy sespuntplan vir Knysna sluit in 'n inklusiewe ekonomie, werkskepping en die vermindering van armoede. "Ons gaan bestaande vennootskappe met sakeondernemings uitbrei en maatreëls verskerp om plaaslike klein-, middelslag- en makro-ondernemings te help om die ekonomie te verander."

Volgens die ANC het hy finansiële en administratiewe stabiliteit in Knysna teweeggebring en is die munisipaliteit weens sy toedoen geïdentifiseer as 'n toppresterende munisipaliteit met beduidende potensiaal.

Die ANC sal ook voortgaan met opknappings van die Charlesford-waterpompstasie-skema en die kapasiteit by die waterbehandelingsnetwerk uitbrei. Daar sal basiese dienste van gehalte vir almal wees en die ontwikkeling van infrastruktuur sal herprioritiseer word tot voordeel van alle geïntegreerde menslike nedersettings.

Die ANC sal die huidige "skewe benadering" tot grondgebruik verander, wat die hersonering van munisipale grondgebruik insluit, ten einde geïntegreerde behuising, ontspanningsgeriewe en ekonomiese bedrywighede daar te stel om die "apartheidserfenis van skeiding te oorkom".

Straatligte en padtekens sal ook verbeter word in die dorp en townships, en gemeenskapsveiligheidsforums en straatkomitees sal versterk word.

Jeug- en maatskaplike ontwikkeling sal aandag geniet en 'n behoeftebepaling sal gedoen word van vaardighede in die plaaslike ekonomie. Maatskaplike kwessies sal aandag geniet deur werkverhoudings- en vennootskappe te vorm met gemeenskappe, nieregeringsorganisasies en private maatskappye.

Tertuis Simmers, adjunkleier van die DA in die Wes-Kaap. Foto: WCPP.GOV.ZA
Tertuis Simmers, adjunkleier van die DA in die Wes-Kaap. Foto: WCPP.GOV.ZA

• Tertuis Simmers, adjunkleier van die DA in die Wes-Kaap, sê uitdagings wat Knysna voor te staan kom, is "onvolhoubare grootmaat-dienstebeplanning met praktiese implikasies vir die toekomstige ontwikkeling en groei van die dorp. Daar is ook die huidige administrasie wat in sekere sleuteldepartemente 'n impak op dienslewering het".

Oor deurslaggewende kwessies vir dié verkiesing en waarop die DA gaan fokus indien hy suksesvol gaan wees, sê hy "ons wil 'n volhoubare meesterplan vir ontwikkeling opstel sodat ons infrastruktuurbeleggings vir die toekoms kan ontsluit wat werkskepping moontlik sal maak vir almal".

"Ons wil ook 'n verantwoordbare administrasie in plek kry wat ware dienslewering sal moontlik maak."

• Nog 'n party wat sê hy is besig om groot steun in Knysna en Bitou te kry, is die Patriotic Alliance (PA).

Michele Botha, die PA se burgemeesterskandidaat vir Bitou, sê daar is politieke inmenging in Knysna én Bitou. In Knysna is daar swak dienslewering in plekke soos Hornlee. Volgens haar is die PA se raadslede reeds besig om strate skoon te maak, en water-, sanitasie- en elektrisiteitsprobleme aan te meld.

"Hulle vul nou die gaping wat gelaat is deur die raadslede wat gefaal het."

Bitou

In Bitou het die DA in 2016 ses uit die 13 setels gewen, die ANC ook ses en die Active United Front (AUF) een. Die ANC het die burgemeesterspos aan die AUF aangebied.

Die koalisie het in 2017 skipbreuk gely en die DA en die AUF het toe 'n koalisie gevorm. Die koalisie het ook nie lank gehou nie en daaruit het twee forensiese ondersoeke gespruit wat die DA aangevra het.

Daar was verdere woelinge rondom die burgemeester, en in September vanjaar is die AUF-raadslid finaal geskors hangende 'n hofbeslissing (oor 'n hoofstuk 106-verslag weens bewerings van korrupsie). Daar word gewag op uitspraak van die hof oor 'n versoek van die ANC om verlof om te appelleer teen 'n hofbeslissing dat 'n raadsvergadering gehou moet word om 'n nuwe burgemeester te verkies.

• DA: Simmers sê een van die uitdagings in Bitou is foutiewe munisipale rekeninge wat maandeliks aan verbruikers gestuur word. Dit is weens 'n onbekwame administrasie en gebrekkige administratiewe stelsels.

"Daar is ook onvolhoubare beplanning in alle aspekte, met praktiese implikasies vir die inwoners."

Die DA wil volgens hom 'n verantwoordbare administrasie in plek kry wat ware dienslewering moontlik sal maak en wat korrekte munisipale rekeninge sal verseker, maar ook korrekte data opstel sodat die kwesbares in die sewe wyke gehelp kan word.

"Ons wil die Bitou-lughawe weer eens in 'n toestand kry sodat vliegtuie daar kan land om sodoende ons toerismesektor te help herbou gegewe die impak van die Covid-19-pandemie.

"Ons wil 'n volhoubare meesterplan vir ontwikkeling opstel sodat ons infrastruktuurbeleggings vir die toekoms kan ontsluit en wat werkskepping sal meebring."

• PA: Volgens Botha het hulle groot politieke inmenging in Bitou en Knysna gesien. Kiesers weet ook nie wie hul raadslede is nie. "Ons mikpunt is om toe te sien dat ons wyksraadslid- en proporsionele raadslid-kandidate teenwoordig bly in hul wyke, probleme uitsorteer en sorg dat daar goeie oorsig is oor die inwerkingstelling van die geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die Bitou- en Knysna-munisipaliteit.

• Die ANC in Bitou het kiesers verseker "hy wil Bitou terugvat". Die ANC wil dienslewering verbeter en aandag skenk aan behuising.

SPELETJIES VANDAG

CTA