Verkiesings: DA se steun daal onder 60% in Kaapstad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kiesers staan Maandag tou in die Siqalo- informele nedersetting in Kaapstad terwyl die reënwolke saampak. Die kieseropkoms in Kaapstad was 47% vanjaar en 48% in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marias
Kiesers staan Maandag tou in die Siqalo- informele nedersetting in Kaapstad terwyl die reënwolke saampak. Die kieseropkoms in Kaapstad was 47% vanjaar en 48% in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marias

Die DA het net-net sy steun van 60% in die Kaapstadse metroraad verloor.

Teen Donderdag om 18:00 het die DA 58,2% en die ANC 18% van die stemme gehad.

Dit beteken dat die DA se persentasie van die stemme in dié stad sy laagste punt in tien jaar bereik het.

Die party het in die plaaslike verkiesings in 2016 en 2011 onderskeidelik 66% en 60,9% van die stemme gekry.

Die ANC se steun het ook gedaal van 24% in 2016 en 32% in 2011.

Tans het die DA nege rade wat hy in die Wes-Kaap beheer en 21 waar hy lei. Die ANC lei in Cederberg en Beaufort-Wes en Icosa loop in Kannaland voor.

Die DA het 403 setels in die provinsie gewen, met 177 vir die ANC, 39 vir Good, 34 vir die VF Plus, 28 vir die Patriotic Alliance (PA), 24 vir die EFF en 12 vir die ACDP.

In Kaapstad het die EFF steeds op twee na die meeste stemme (4%) gekry, gevolg deur Good (3,8%), die Cape Coloured Congress (2,8%), ACDP (2,3%), die VF Plus (1,6%), PA (1,5%) en Al Jama-ah (1,2%).

Volgens die OVK se jongste syfers was die kieseropkoms in Kaapstad vanjaar 47% en in die Wes-Kaap was dit 48%.

In die vorige verkiesing was dit 63% in die provinsie en 64% in die metro.

Lees meer hier.

Geordin Hill-Lewis Foto: Jaco Marais
Geordin Hill-Lewis Foto: Jaco Marais

https://www.netwerk24.com/netwerk24/plaaslikeverkiesing/2021/da-kry-pak-in-w-kaap-kleiner-partye-groei-20211103

Geordin Hill-Lewis, DA-burgemeesterskandidaat, het Woensdag gesê kiesers het vanjaar op 'n ongekende wyse getoon dat hulle ongelukkig is oor die stand van die munisipaliteite en metrorade oor die land heen.

Hy het in die uitslagsentrum in Century City gesêsy party wil in Kaapstad wys wat moontlik is "met goeie, DA-regering" en hy kan nie wag om te begin nie.

Hill-Lewishet belowe dat sy regering inwoners gaan beskerm "teen die gevolge van 'n gebrek aan basiese dienste van die nasionale regering", wat krag, polisiëring en openbare vervoer betref.

Hy voer aan die DA wil Kaapstad omskep in 'n "voorbeeld" van wat moontlik is as kiesers besluit om van die ANC weg te beweeg.

In sy veldtog het hy hom onder meer daartoe verbind om beurtkrag in Kaapstad te beëindig, meer magte van die nasionale regering af te rokkel en bekostigbare behuising te lewer.

Verder het Hill-Lewis gesê hy wil meer van die metroraad se dienste digitaliseer, beter toegang tot openbare deelname bied en groter beleggings in infrastruktuur en basiese dienste maak.

Hy is 34 jaar oud en het as DA-LP onder meer as woordvoerder oor finansies in die parlement gedien.

Hill-Lewis het 'n meestersgraad in ekonomiese beleid aan die Universiteit van Londen verwerf en sê hy is moontlik die jongste burgemeesterskandidaat in Kaapstad se geskiedenis.

Die ANC in die Wes-Kaap het Donderdag gesê hy neem kennis daarvan dat die DA in vergeleke met 2016 sy meerderheid in 15 munisipaliteite verloor het.

"Ons begin 'n skuif na die ANC sien in dié munisipaliteite en stemme wat na kleiner partye gegaan het."

Volgens die ANC het hy 12 wyke in "DA-vestings" soos onder meer Cederberg, Breedevallei, Knysna, Delft en Oudtshoorn afgeneem.

Hy het egter ook sy teleurstelling uitgespreek oor 'n "enorme daling in opkoms", veral in die ANC se steunbasisse, wat tot 'n swakker vertoning bygedra het.

Intussen sê die ANC se tussentydse provinsiale werkkomitee in 'n verklaring dat die party diep gaan nadink oor vanjaar se uitslae en hard sal werk, ook as lid van die opposisie, om vertroue te herwin.

Alan Winde Foto: Jaco Marais
Alan Winde Foto: Jaco Marais

Alan Winde, premier, het Donderdag ook die wenners en kandidate gelukgewens en gesê hy sien uit daarna om binnekort met die nuutverkose burgemeesters oor die Wes-Kaap heen te vergader.

"Dit is belangrik dat ons almal saamwerk om toe te sien dat ons die werkgeleenthede, basiese dienste, veiligheid en welstand verskaf wat elkeen in die provinsie verdien. Die volgende vyf jaar moet gaan oor gehalte, korrupsievrye dienslewering aan ons gemeenskappe sodat die Wes-Kaap vorentoe beweeg."

Anton Bredell  Foto: Verskaf
Anton Bredell Foto: Verskaf

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, het gesê sy departement staan gereed om alle munisipale rade by te staan in die prosesse wat nou moet volg, soos om 'n speaker, burgemeesters en lede van distriksrade te verkies.

Senior amptenare van die provinsiale departement word aangewys vir elke raad om ondersteuning te bied.

Altesaam 30 munisipale rade moet nou amptelik saamgestel word, insluitend 24 plaaslike munisipaliteite, die Kaapstad-metroraad en vyf distriksmunisipaliteite.

Die oorblywende lede van die distriksrade moet binne 14 dae ná die verkiesings deur plaaslike rade verkies word, terwyl 40% van die lede van distriksrade reeds met Maandag se verkiesings verkies is.

SPELETJIES VANDAG

CTA