Verkiesing 2021

Verkiesings: EFF het ‘10%-plafon’ bereik

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Julius Malema, EFF-leier. Foto: Felix Dlangamandla
Julius Malema, EFF-leier. Foto: Felix Dlangamandla

Hoewel die EFF by jong mense en ontevrede Suid-Afrikaners aanklank gevind het wat sy verkiesingsveldtogte in groot getalle bygewoon het, het dit nie veel by die stembus vir hom beteken nie.

Met byna 80% van die stemme wat teen Woensdag om 17:15 landwyd getel is, kon die EFF slegs 10,32% kry.

Die party wat aan sy tweede plaaslike verkiesings deelneem, het sover 460 stadsraadslede oor Suid-Afrika heen, maar beheer nog nie 'n munisipaliteit nie.

Sy beste vertoning is in Noordwes waar hy 16,48% van die stemme gekry het en sy swakste in die Wes-Kaap met minder as 3% steun.

Prof. Pieter Labuschagne, emeritus professor in politieke wetenskap aan Unisa, sê wat duidelik na vore kom, is dat die EFF 'n "10%-plafon" bereik het.

In enkele gevalle kon die EFF meer as 10% kry, maar in die oorgrote meerderheid van die gevalle was sy steun beperk tot onder dié vlak, sê hy.

"Dit is bemoedigend omdat dit wys dat kiesers deur die EFF se opruiende retoriek sien. Die kiesers besef dit is hol dreigemente en beloftes.

"Die ander groot rede is dat die EFF nie op plaaslike vlak iets konkreets kan bydra nie. Sy beleid is hoofsaaklik ideologies op nasionale vlak gerig waar daar dalk sterker steun vir die party is.

"Op plaaslike vlak herstel die uitgediende retoriek egter nie straatligte, verskaf elektrisiteit of maak slaggate reg nie," sê Labuschagne.

EFF-ondersteuners Vrydag in Katlehong, waar die partyleier Julius Malema hulle in hul laaste nasionale Tshela Thupa-saamtrek toegespreek het.  Foto: Twitter, EFF
EFF-ondersteuners Vrydag in Katlehong, waar die partyleier Julius Malema hulle in hul laaste nasionale Tshela Thupa-saamtrek toegespreek het. Foto: Twitter, EFF

Die party groei, maar nie aansienlik nie. Hy het sy plafon bereik in terme van sy retoriek.

—  Prof. Zwelinzima Ndevu

Prof. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, stem saam.

"Dit het nie in hul guns getel om slagspreuke uit te basuin waarmee hul ondersteuners saamstem nie. Met hul boodskap vind die party wel aanklank by jong mense en diegene wat ontevrede (met die regering) is. Maar dit is juis hulle wat op stemdag nie opdaag om vir dié party te stem nie. Dit het 'n impak op die EFF se vertoning gehad. Die party groei, maar nie aansienlik nie. Hy het sy plafon bereik in terme van sy retoriek."

Ndevu se raad aan die EFF is om sy boodskap aan ondersteuners te herverpak.

"Die EFF se boodskap, of dit nou opsetlik is of nie, dui daarop dat hulle alles in die land wil vernietig en dit dan weer wil herbou. Die meerderheid van Suid-Afrikaners sal nie wil sien dat die land in duie stort nie. Dis nie die meerderheid Suid-Afrikaners se wens wat lief is vir die land nie."

Ndevu sê die EFF sal ná die verkiesingsuitslag introspeksie moet doen.

"Van hul grootste flaters is dat hulle nie dit wat hulle vermag het om inwoners se lewe te verander en te verbeter aan die groot klok gehang het nie. Dit tel ook nie in hul guns dat hulle nie 'n prestasierekord het waar hulle 'n munisipaliteit bestuur nie."

Raymond Willemse en Sarel van der Walt

CTA