Verkiesings: ‘Stabiliteit, veiligheid nodig in Phoenix’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pravitha Ganesan (51) van Phoenix sê sy het Maandag vir ’n ander politieke party as gewoonlik gestem omdat sy verandering wil sien.  Foto: Melinda Stuurman
Pravitha Ganesan (51) van Phoenix sê sy het Maandag vir ’n ander politieke party as gewoonlik gestem omdat sy verandering wil sien. Foto: Melinda Stuurman

Verandering is wat nou nodig is om stabiliteit en veiligheid in die gemeenskap van Phoenix in KwaZulu-Natal te vestig.

Dit is waarom die meeste van dié dorp se inwoners met wie Netwerk24 gepraat het aangedui het dat hulle Maandag vir 'n ander politieke party gestem het eerder as die een vir wie hulle altyd gestem het.

Dít kom nadat grootskaalse onluste en rassespanning in Julie vanjaar in Phoenix uitgebreek het. Die dorp is sowat 25 km noordwes van Durban-sentraal geleë en val onder die eThekwini-metro, waar die ANC tans aan bewind is.

Bheki Cele, minister van polisie, het in Augustus gesê 36 mense is in die onluste dood, waarvan 30 geskiet is.

Twee ander mense is in brande dood, een is doodgery, een is doodgesteek en twee ander is dood aan beserings weens aanranding.

"Die sterftes was weens misdadigheid met 'n element van rassisme," het Cele toe gesê.

Inwoners van Phoenix wys Maandag hul duime nadat hulle gestem het.  Foto: Melinda Stuurman
Inwoners van Phoenix wys Maandag hul duime nadat hulle gestem het. Foto: Melinda Stuurman

"Ons het verandering nodig. Ons het stabiliteit in ons dorp nodig. Ons kan nie weer in 'n situasie beland soos vroeër vanjaar nie. Dit is waarom ek vandag vir 'n nuwe party gestem het," sê DK Naidoo (64), 'n inwoner van Phoenix.

Pravitha Ganesan (51), ook van Phoenix, sê sy het ook Maandag vir 'n ander politieke party as gewoonlik gestem. "Kyk hoe lyk dit in ons gemeenskap. Daar is nie elektrisiteit nie en ons straatligte werk nie. Al wat ons wil hê, is dienslewering en daarom het ek vandag (Maandag) vir 'n ander party gestem."

Sy sê ook "dit is uiters belangrik dat wie ook al nou aan bewind gaan wees veiligheid en stabiliteit" moet bewerkstellig. "Ons wil veilig voel."

Chokozani Nzimande (41), nog 'n inwoner van Phoenix, het Maandag by die hoofstrand in uMhlanga vertel dat sy haar dag op die strand deurgebring het omdat sy nie sal stem nie. "Die regering beteken niks vir ons nie, en ons beteken niks vir hulle nie. Kyk net wat het gebeur in Phoenix. Waar was hulle toe?"

'n Ander inwoner, wat verkies om anoniem te bly, sê hy gaan ook nie stem nie, omdat die politieke partye net geraas maak, maar nêrens te sien was tydens die onluste nie.

John Steenhuisen, DA-leier, het Maandagoggend aan Netwerk24 gesê daar is 'n groot geleentheid vir ander partye om oor te neem in die eThekwini-metro.

"Die mense hier is siek en sat vir die ANC-sirkus en korrupsie in dié metro. Hulle is oop vir verandering. Daar is 'n groot geleentheid vir die DA en ander partye om die ANC in eThekwini uit die bewind en onder 50% te kry," het hy gesê.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het Maandag egter aan Netwerk24 gesê mense in eThekwini is steeds hoopvol oor die ANC. "Ek is oortuig daarvan dat ons die metro sal behou," het hy kortliks gesê.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het laat Maandagmiddag gesê behalwe vir 'n OVK-beampte in KwaZulu-Natal wat in hegtenis geneem is nadat sy stembriewe ingevul het en in stembusse gegooi het, is daar geen ernstige voorvalle by stempunte aangemeld nie.

Netwerk24 verstaan dat die beampte in die eThekwini-metro aan diens was.

20 stempunte in KwaZulu-Natal kon nie Maandag betyds open nie omdat gemeenskapslede betoog het.

SPELETJIES VANDAG

CTA