Verkiesing 2021

VF Plus verdubbel sy steun in Noordwes

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes. Foto: Susan Cilliers
Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes. Foto: Susan Cilliers

Die VF Plus se steun in Noordwes het meer as verdubbel sedert die vorige plaaslike verkiesings.

Met sowat 75% van die stemme wat teen Woensdagmiddag in die provinsie getel en geverifieer is, het die VF Plus se steun op 4,4% gestaan, teenoor 1,8% in die plaaslike verkiesings in 2016.

"Hoewel ons nog nie ons getal wyke in die provinsie van vier tot agt kon verdubbel nie, het die groot aantal stemme wat ons bykomend gekry het, ons proporsionele steun sodanig versterk dat ons verteenwoordiging in plaaslike rade gaan verdubbel," sê Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes. "Dit wys elke stem tel."

Groenewald sê die VF Plus is trots daarop om met byna 12% van die steun die amptelike opposisie te wees in die Kgetlengrivier-munisipaliteit, wat onder meer Koster bedien en gereeld in die nuus is weens swak dienslewering. Die ANC regeer steeds hier met byna 57% van die steun nadat al die stemme in Kgetlengrivier getel en geverifieer is.

Dit lyk of die ANC die volgende vyf jaar ook die septer in Noordwes se ander en meestal verkrummelende munisipaliteite sal swaai met meer as 50% steun in die provinsie. Sy steun was Woensdagmiddag 55,6%, laer as 2016 se 59,3%.

Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in die J.B. Marks-munisipaliteit. Foto: Susan Cilliers
Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in die J.B. Marks-munisipaliteit. Foto: Susan Cilliers

In sommige munisipaliteite, soos J.B. Marks wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, sal die ANC moontlik in koalisie met ander partye moet tree om aan die stuur te bly. "Samewerking tussen die ANC en EFF is waarskynlik ons voorland," sê Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Al die stemme is teen Woensdagmiddag in J.B. Marks getel en geverifieer. Die ANC se steun hier het sedert 2016 met 2% gedaal en staan nou op 48%. Die DA het ook steun verloor en kon net meer as 25% van die stemme op hom verenig, teenoor 2016 se 32,2%. Die VF Plus se steun in J.B. Marks het egter byna verdriedubbel. Die party het Maandag 13,5% van die stemme gekry teenoor 2016 se 5,3%.

Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in J.B. Marks, sê sy party het waarskynlik steun aan veral die VF Plus afgestaan, maar ook aan die Patriotic Alliance, wat aktief is in die bruin gemeenskap. "Ons het in 2019 (met die Schweizer-Reneke-debakel) van 'n slegte plek gekom en die kiesers het ons gestraf, maar baie van hulle het weer teruggekom. Ons sien dit aan die feit dat ons 'n wyk in Potchefstroom van die VF Plus teruggeneem het en geen wyke afgestaan het nie. Ons het onsself goed gestabiliseer en het nou 'n stewige grondslag van waar ons ons verder kan vestig as 'n diverse party wat almal se belange dien met skoon regering en goeie dienslewering."

Kenny Morolong, ANC-woordvoerder in Noordwes, sê dié party "voel nederig" dat baie mense steeds vertroue in hom het ondanks diensleweringskwessies.

Venter sê die landwye lae gemiddelde stempersentasie in swart woonbuurte (sowat 35%) teenoor 'n gemiddelde stempersentasie van 70% in tradisioneel wit woonbuurte, gaan 'n direkte uitwerking hê op die proporsionele verteenwoordiging in rade, ook in Noordwes.

Hy meen beleggers en sakelui sal die verkiesingsuitslae op plekke soos Lichtenburg en Mahikeng fyn dophou omdat die Clover-kaasfabriek vroeër vanjaar reeds uit Lichtenburg verskuif het weens voortslepende diensleweringsprobleme, en die Country Bird-onderneming in Mahikeng nou dreig om dieselfde te doen.

Die ANC se steun in dié twee gebiede het teen Woensdagmiddag op sowat 55% gestaan.

• Teen Woensdagmiddag was die EFF steeds die amptelike opposisie in Noordwes met 16,6% van die steun, teenoor 2016 se 15,5%. Die DA is die derde sterkste party in Noordwes, maar sy steun het tot dusver van 15,02% in 2016 tot 11,2% gedaal.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM