Vrystaatse forums vaar goed in verkiesing

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die SSDF is gestig omdat die gemeenskap self hul dorpe wou verbeter en het die week aan die plaaslike verkiesing deelgeneem. Werklose inwoners werk as vrywilligers om slaggate in paaie te herstel. Foto: SSDF/Facebook
Die SSDF is gestig omdat die gemeenskap self hul dorpe wou verbeter en het die week aan die plaaslike verkiesing deelgeneem. Werklose inwoners werk as vrywilligers om slaggate in paaie te herstel. Foto: SSDF/Facebook

Die Setsoto Service Delivery Forum (SSDF) het bewys met die regte aanslag kan mense gemotiveer word om vir 'n nuwe party te stem.

Dié politieke nuweling, wat nog nie eens 'n jaar aktief is nie, het 22,88% van die stemme in die Setsoto-munisipaliteit gewerf.

Naas die ANC het die SSDF nou die meeste steun in die munisipaliteit.

Die ANC se steun het met 11 persentasiepunte van 61% in 2016 tot 50% gedaal. Frans Cronjé, van die SSDF, sê die forum het gehoop om genoeg steun te kry sodat die ANC minder as 50% van die setels in die raad sou hê.

Ook die DA het in die munisipaliteit swakker as in 2016 gevaar en sy steun het van 16% tot 7% gedaal.

Die EFF kon nie veel groei nie en sy steun het van 8% na 9% gestyg.

Die VF Plus kon sy steunbasis van 1,6% na 4,84% vergroot.

Die dorpe Senekal, Marquard, Clocolan en Ficksburg word deur die Setsoto-munisipaliteit bedien.

Die SSDF is as 'n forum gestig om dié dorpe reg te ruk en lede het in Desember besluit om aan die plaaslike verkiesing deel te neem.

In die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit het 'n wegbreekfaksie uit die ANC daarin geslaag om 28% van die stemme te kry.

In die Moqhaka-munisipaliteit het die Moqhaka Community Forum (MCF) se stigter en voorsitter, Morena Thebe, gesê hy het gehoop dat die forum meer as 10% van stemme op hom kan verenig. Die MCF het 6% van die stemme hier gekry.

Die Moqhaka-munisipaliteit is een van die munisipaliteite met die laagste stempersentasie in die Vrystaat. Net 28% van kiesers het Maandag hul kruisies gaan trek, vergeleke met 2016 toe 52% gaan stem het.

Thebe, 'n fluitjieblaser wat aan die Valke inligting gegee het oor korrupsie in die munisipaliteit, sê die forum beveg korrupsie in die munisipaliteit en probeer dienslewering verbeter.

Alet van der Walt

SPELETJIES VANDAG

CTA