ActionSA wil Kaapstad meer bekostigbaar maak deur die MyCiTi-busdiens op weeksdae gratis aan inwoners beskikbaar te stel.
Volgens Dereleen James, ActionSA se burgemeesterskandidaat in Kaapstad, is dié plan daarop gemik om verligting aan Kapenaars te bring.
James het Dinsdag ’n MyCiTi-bus van Mitchells Plain na die Kaapse sakekern geneem as deel van die party se veldtog.
“Ons plan reageer op die realiteit dat Kapenaars ’n oneweredige deel van hul huishoudelike inkomste aan vervoer bestee, en in wese ’n tweede huur betaal bloot om by die werk uit te kom. Terselfdertyd verloor die gemiddelde Kaapse padgebruiker 96 uur per jaar in verkeer, wat die stad se ekonomie naastenby R3 miljard per jaar aan verlore ekonomiese bedrywigheid kos,” sê James.
ActionSA beskou goedkoper openbare vervoer as ’n prioriteit vir Kapenaars.
“Hierdie voorstel is die eerste van ’n reeks maatreëls wat ons oor die volgende drie weke bekend sal stel. Hierdie maatreëls sal ’n geloofwaardige aanbod voor inwoners plaas wat gatvol is daarvoor dat hulle onmoontlike kompromieë moet maak tussen die onbekostigbare behuising, vervoer, water en basiese noodsaaklikhede,” sê sy.
Volgens James hanteer MyCiTi daagliks sowat 65 000 passasiersritte, met ’n bedryfskoste van R1,71 miljard in die 2024-’25 boekjaar. Inkomste uit die diens is R336 miljoen, wat slegs 0,52% van die stad se totale jaarlikse uitgawes van R64,34 miljard verteenwoordig.
“Om gratis MyCiTi-ritte op weeksdae gedeeltelik te finansier, stel ActionSA ’n innoverende toeristeheffing op korttermynverblyf voor, gebaseer op internasionale beste praktyke. Dit sal ’n nuwe inkomstestroom skep sonder om ’n verdere finansiële las op belastingbetalers te plaas.
“ ’n Beskeie heffing van R100 per toeris per nag kan na raming R975 miljoen tot R1,3 miljard per jaar genereer, gebaseer op sowat 26 000 eenhede wat op kort termyn verhuur word, 250 bespreekte nagte en een tot twee gaste per bespreking,” sê James.
Sy hou vol dat die bogenoemde toeristeheffing meer as genoeg sal wees om die verlies aan inkomste te dek wat uit die gratis busdiens sal voortspruit.
“As deel van hierdie plan sal ActionSA ook werk aan die instelling van ’n MyCape-kaart (soortgelyk aan dié in Europese stede) wat betaling tussen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, MyCiTi en minibustaxi’s moontlik maak. Stede behoort aan die mense wat daarin woon,” sê James.







