Plaaslike verkiesings

ANC mis ‘sy Ace’ in kiestyd in Vrystaat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gehawende stoele staan in die Arthur Nathan-swembad in Bloemfontein. Dié swembad is in 1907 geopen as die eerste munisipale swembad hier en glo destyds die grootste in die land. Dit is ’n nasionale gedenkwaardigheid, maar is nou onbruikbaar.Foto’s: D
Gehawende stoele staan in die Arthur Nathan-swembad in Bloemfontein. Dié swembad is in 1907 geopen as die eerste munisipale swembad hier en glo destyds die grootste in die land. Dit is ’n nasionale gedenkwaardigheid, maar is nou onbruikbaar.Foto’s: D

Ná die skorsing van hul sekretaris-generaal, Ace Magashule, is die ANC in die Vrystaat sonder hul "troefkaart" en dít kan hulle op 1 November duur te staan kom by die stembus, hoop die DA.

Werner Horn, provinsiale voorsitter van die DA in die Vrystaat, veg vanjaar in die sesde agtereenvolgende verkiesing in Mangaung. Hy sê Magashule het 'n besonderse vermoë om persoonlik aan die ANC-verkiesingsveldtog momentum te gee.

"Nou is daar niks daarvan te sien nie."

Die DA verwag dit kan veroorsaak dat ANC-kiesers wat in 2016 altesaam 58 van die 100 raadsetels aan hul party besorg het, dié keer van die stembus wegbly.

Die DA het toe 27 setels gewen, die EFF nege en die VF Plus twee.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, stem saam.

Die munisipaliteit doen nie sy werk nie. Ons doen iets... maar die gevaar is hoe meer jy doen, hoe minder doen hulle!

—  Ds. De la Harpe le Roux

"Die ANC gaan Magashule onteenseglik mis," sê hy.

Hy verwag 'n groot wegblystem onder ANC-kiesers, maar meen tog die party is steeds verseker van 'n sinvolle meerderheid in Mangaung en die meeste groot dorpe in die Vrystaat.

"As Cyril (Ramaphosa) met sy vriendelikheid en beloftes 'n draai kom maak, kan hulle dalk nog 'n paar stemme kry, maar hy was nog nie daar nie," sê Venter.

In 'n interne ontleding wat Rapport gesien het, erken die ANC self daar is aktiwiteit in Mangaung, "maar werwingsvlakke (is) steeds baie laag".

'n Werker vee Monumentweg in Bloemfontein as deel van die Torings van Hoop-program. Uit vrees vir munisipale werkers wou die man anoniem bly. "Die munisipaliteit doen konkelwerk. Ons maak skoon. Skoonheid is goddelikheid," sê hy.
'n Werker vee Monumentweg in Bloemfontein as deel van die Torings van Hoop-program. Uit vrees vir munisipale werkers wou die man anoniem bly. "Die munisipaliteit doen konkelwerk. Ons maak skoon. Skoonheid is goddelikheid," sê hy.

Venter sê dienslewering in Mangaung is waarskynlik die swakste van al die metrorade. Die grootste knelpunt is volgens hom waterverskaffing, wat op die brood van sowel die nasionale as plaaslike regering gesmeer moet word.

Horn sê inwoners van Bloemfontein se suidelike voorstede is gereeld sonder water.

Dit het in 2017-'18 begin toe die raad Bloemwater meer as R1 miljard geskuld het en die watertoevoer tot 30% van die normale vlakke beperk is. Sedertdien gaan dit darem 'n bietjie beter.

Mangaung is onder administrasie en die administrateur betaal darem nou die raad se lopende waterrekening en doen afbetalings op die agterstallige skuld.

"Vullisverwydering is 'n gemors," sê Horn. "Daar gaan soms 'n maand of twee verby sonder dat vullis verwyder word." Met Rapport se besoek het stapels vullis oral in die middestad gelê.

Werner Horn, voorsitter en veldtogbestuurder van die DA in die Vrystaat, by rommel wat weens die swak dienslewering van die Mangaung-metroraad in Bloemfontein langs die strate ophoop.
Werner Horn, voorsitter en veldtogbestuurder van die DA in die Vrystaat, by rommel wat weens die swak dienslewering van die Mangaung-metroraad in Bloemfontein langs die strate ophoop.

Horn sê inwoners organiseer hulself uit radeloosheid om hul omgewings netjies te maak. In Westdene, waar hy woon, dra inwoners R50 per maand by om 'n private kontrakteur die dag ná die munisipaliteit se beplande vullisverwydering te laat kom vir ingeval die vullis steeds daar is. Inwoners hou die parke in stand of versier die middelmannetjies en straathoeke met plante.

Ds. De la Harpe le Roux van die Tweetoringkerk in Bloemfontein het vroeër namens die NG Kerk se sinode Torings van Hoop, 'n organisasie sonder winsbejag, begin.

Diegene wat die sopkombuis besoek, kan iets verdien deur die strate in die middestad skoon te maak. Hulle word betaal uit bydraes van ondernemings daar.

Le Roux sê hy is nie betrokke by partypolitiek nie. Die munisipaliteit doen nie sy werk nie en hy glo daaraan "om 'n lig aan te steek waar dit donker is".

"Ons doen iets, maar hou steeds die munisipaliteit verantwoordelik. Die gevaar is natuurlik hoe meer jy doen, hoe minder doen hulle!"

Horn erken die VF Plus het in 2016 in Mangaung gegroei, weliswaar nie soveel as in die noordelike provinsies nie. Hy hoop dat die kiesers wat voorheen vir die DA gestem het, in gedagte sal hou hoe DA-raadslede inwoners die afgelope paar jaar bygestaan het met diensleweringsprobleme.

Venter wys daarop dat die VF Plus in 2019 sterk gegroei het op die Vrystaatse platteland en sê as dié tendens op 1 November in Mangaung voortduur, sal dit ten koste van die DA wees.

Antoinette Slabbert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM