Plaaslike verkiesings

DA kry pak in peilings

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Steun vir die DA het met tot vier punte gedaal sedert die Phoenix-plakkaat-fiasko, wys interne peilings.

In September het sowat 24% van kiesers nog in interne peilings aangedui hulle is van plan om op 1 November DA te stem. Dit is nou 20,7%, verneem Rapport.

'n DA-bron met insae in die party se peilings sê verlede week "se rondvallery in Phoenix het heel waarskynlik hierdie peilingsuitslae tot gevolg gehad".

Dean Macpherson, DA-LP en die party se voorsitter in KwaZulu-Natal (KZN), het sonder die medewete van partystrukture plakkate in Phoenix aangebring wat lui "Die ANC het julle rassiste genoem" en "Die DA noem julle helde".

Dit was 'n verwysing na Indiër-inwoners wat gemobiliseer het om hul buurt te beskerm met die onluste in Julie in KZN.

Altesame 36 mense - meestal swart mans - is in die proses in Phoenix dood.

Die plakkate het skerp kritiek van binne en buite die DA ontlok.

DA-leier: ‘gemaklik met waar ons is'.

Nadat Macpherson en John Steenhuisen, DA-leier, aanvanklik die plakkate verdedig het, het die DA se federale uitvoerende raad besluit die plakkate moet verwyder word en dat Macpherson verskoning moet vra, wat hy gedoen het.

Macpherson se verskoning het Maandag gelei tot die bedanking van Mike Waters, stigterlid van die DA en 'n voormalige LP, as die DA se verkiesingsveldtogbestuurder in Ekurhuleni.

"Die verskoning van die party en die besluit om die plakkate af te haal, is verskriklik en verraai die helde wat tydens die geweld en plundering lewens verdedig het," het Waters in sy bedankingsbrief geskryf. Hy bly aan as DA-lid.

Die afgelope week se interne peilingsuitslae het as 'n skok vir die party gekom nadat Steenhuisen in September aan Daily Maverick gesê het interne peilings wys steun vir die DA van 24%.

In 2019 se algemene verkiesing het die DA 20,8% van die stemme gekry en in 2016 se munisipale verkiesings 26,9%.

Enigiets bo 20,8% sou dus 'n bevredigende uitslag wees, aangesien dit op matige herstel sedert 2019 sou dui toe veral Afrikaner-kiesers die party gestraf het.

Die jongste peiling dui daarop dat die Phoenix-plakkate die party se beskeie vordering van die afgelope maande ongedaan kon gemaak het.

DA-bronne sê die kool was nie die sous werd nie.

"Daardie plakkate is in Phoenix opgerig om in drie marginale wyke steun by die ANC te probeer afrokkel," beweer 'n bron wat die party help met sy Kaapse verkiesingsveldtog.

"Daardie drie wyke sou nie die eThekwini-metromunisipaliteit uit die kloue van die ANC kry nie, maar wat hierdie plakkate nou gedoen het, is om die fokus op 'n voorval te plaas waarby daar definitief rassespanning betrokke is.

"Ja, dit is waar dat die ANC en die EFF rassespanning kom aanblaas het in 'n Indiër-gemeenskap wat grootliks net probeer het om hulself te beskerm, maar dit is ook waar dat sekere mense in hierdie gemeenskap toe soos vigilantes die reg in eie hande geneem en swart mense doodgeskiet het.

"Terwyl ons nou dalk enkele stemme in Phoenix wen, moet diegene van ons in die res van die land waar ons regtig verkiesings kan wen, dus nou aan swart kiesers, wat vir die eerste keer daaraan dink om DA te stem, verduidelik hoekom daardie plakkate die lig gesien het."

Die party spook nou om kiesers weer op dienslewering te laat fokus.

'n Bron in Tshwane sê: "Ons boodskap was nog die hele tyd dat die DA dinge gedoen kry; 'n gesprek oor dienslewering waarmee ander partye nie kan saampraat nie. Die taak is nou om net weer daardie boodskap uit te kry en aan te beweeg ná die Phoenix-fiasko."

Steenhuisen het die afgelope week aan EWN gesê hy is gemaklik "oor waar ons in hierdie stadium is".

Die DA se interne peiling kom nadat die Instituut vir Rasseverhoudinge in September steun van 20,5% vir die DA gemeet het. Steenhuisen het toe vir Rapport gesê hy glo hierdie verkiesings is 'n "konsoliderende verkiesing" ná 2019 se verliese.

"Enige groei sal verwelkom word, want ons moet nou weer ons kritici verkeerd bewys en kiesers oortuig dat die party ideologies samehangend is," het Steenhuisen toe gesê.

¦ Intussen het Mpho Phalatse, die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, aan Rapport se susterskoerant City Press gesê die party sluit nie 'n koalisie met enige party uit nie, selfs nie die EFF nie, as hulle op 1 November minder as 50% van die stemme kry. Die vorige DA-EFF-pakt het in trane geëindig.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM