Lekker warm weer, groot pryse en 'n goeie gees het vanjaar weer bygedra tot die sukses van Die Burger se 36ste gholfdag ten bate van die Kinderfonds.
Hierdie jaarlikse geleentheid is weer oudergewoonte by die Paarl-gholfklub op die Boschenmeer-landgoed gehou. Altesame 80 spelers in 20 spanne het dit verlede Donderdag teen mekaar uitgespook - alles ten bate van 'n goeie doel. PKF Cape Town het weer eens die spelers se mooi gholfhemde geborg.
Dit was 'n windstil somersdag en die gholfbaan was in 'n puik toestand - wat gesorg het dat daar uitsonderlike gholf gespeel kon word.
Die eerste 12 spanne het pryse ontvang, terwyl daar ook pryse was vir die langste dryfhou en die spelers wat die naaste aan die pen gekom het. Die jaarlikse sethoukompetisie het ook vir groot opwinding gesorg.
Die ATKV-Goudini Spa se span het met die trofee as die algehele wenners van die gholfdagkompetisie weggestap, terwyl Frontline SHEQ die naaswenners was.
'n Gesellige prysuitdeling is na afloop van die gholfdag gehou waar die wenspanne aangekondig is. Almal kon ook saam aansit vir aandete.
'n Lootjie ten bate van die Kinderfonds was vanjaar weer op die program en die wenner - die voormalige Blitsbok Chris Dry - het weggestap met 'n vyfliter-bottel wyn wat Van Loveren geborg het.
Daarbenewens is daar ook hulp gevra vir 'n uitreik na Huis Jabes, 'n veilige hawe vir vroue en kinders wat slagoffers van gesinsgeweld is. Limecrop het, soos elke jaar by dié geleentheid, hul hande diep in hul sakke gesteek en R10 000 hiervoor bewillig. Gideon van den Heever van Tankcon Logistics het 'n verdere R2 000 hiervoor geskenk.
Die geld gaan aangewend word om 'n Kerspartytjie vir Huis Jabes se inwoners te hou.
'n Geraamde collage van foto's van die 2019 Wêreldbekerrugby-toernooi is later opgeveil en het nog R1 500 vir Die Burger se Kinderfonds ingesamel. Frontline SHEQ het die foto's geskenk en Hino Parow se Gerard Fourie het die bod hiervoor gewen.
Die Burger wil graag al sy borge, spelers en veral die Paarl-gholfbaan bedank - sonder hierdie rolspelers sou die dag nie so 'n groot sukses gewees het nie.
Die Burger se gholfdag is al 'n instelling op die jaarkalender en ons hoop om al die ou gesigte, sowel as nuwes in 2024 by die 37ste een te sien.
Tot volgende jaar!
Hier is van die mense wat deelgeneem het aan die dag:

































