Die VDT-prokureurs-gholfdag word vanjaar die 22ste keer aangebied – op 6 November by die Woodhill-gholfklub in Pretoria.
Volgens Adrie van Staden, uitvoerende hoof van die Beeld-Kinderfonds, is die gholfdag ’n jaarlikste instelling wat ’n groot finansiële inspuiting aan die Beeld-Kinderfonds bied.
“Die gholfdag lewer jaarliks ’n groot bydrae tot die Beeld-Kinderfonds en ons is dankbaar vir VDT se volgehoue betrokkenheid daarby oor die jare heen.
“Die hoofborge dra die koste van die gholfdag. Ons sê graag dankie aan CMV-rekenmeesters, Aïda-eiendomme, FNB, Eskort, VDT, UOAS en die Cosmo Central Group wat die gholfdag moontlik maak.”
Volgens Van Staden word die geld wat ingesamel word, gebruik om kleuterskole in arm gemeenskappe te ondersteun en kleuters uit arm huishoudings die geleentheid te gee om kleuterskool by te woon.
“Die kleuterskole word ook ondersteun met opvoedkundige programme en personeelopleiding.”
Vir meer inligting besoek www.beeldkinderfonds.co.za/nuus/.
Rig navrae oor die gholfdag aan die Beeld-kinderfonds by 061 479 4791 of info@beeldkinderfonds.co.za.





















