Beeld-Kinderfonds: Plaaskinders vind baat by jou bydrae

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Plaaskinders in die Lesedi-distrik in Limpopo kan Monkeynastix-klasse bywoon danksy die Beeld-Kinderfonds se ondersteuning aan die projek.
Plaaskinders in die Lesedi-distrik in Limpopo kan Monkeynastix-klasse bywoon danksy die Beeld-Kinderfonds se ondersteuning aan die projek. (Foto: Verskaf)

Plaaskinders in die Lesedi-distrik in Limpopo kan Monkeynastix-klasse bywoon danksy die Beeld-Kinderfonds se ondersteuning.

“Die kinders is ontsaglik entoesiasties oor die lessies en sien met oorgawe daarna uit. Hul fyn en groot motoriese vaardighede word uitgedaag, geoefen en verbeter,” sê Anné Pretorius van Lesedi Day Care.

Die 51 kinders wat in 2025 by die Beeld-Kinderfonds se betrokkenheid baat gevind het, getuig van die impak daarvan, sê Pretorius.

Monkeynastix is ’n holistiese, kreatiewe fiksheidsprogram vir kinders (een tot agt jaar) wat beweging, musiek en speletjies kombineer om basiese vaardighede soos balans, koördinasie en lenigheid in ’n veilige, niemededingende omgewing te ontwikkel, en so ’n liefde vir beweging en fiksheid by hulle te kweek.

Plaaswerkers se kinders neem deel aan Monkeynastix by Lesedi Day Care.
Plaaswerkers se kinders neem deel aan Monkeynastix by Lesedi Day Care. (Foto: Verskaf)

“Sonder die weeklikse Monkeynastix-klasse sal daar ’n reuseleemte by Lesedi Day Care wees. Ons is inderwaarheid van hierdie skenking afhanklik om gehaltesorg vir ons kinders van plaaswerkers te verseker.”

Volgens Adrie van Staden, uitvoerende hoof van die Beeld-Kinderfonds, bevorder die klasse die kinders se “selfvertroue, fisieke ontwikkeling, en die dissipline help wanneer hulle skool toe gaan”.

Kleuters by Lesedi Day Care neem aan Monkeynastix deel  om onder meer selfvertroue en dissipline te ontwikkel.
Kleuters by Lesedi Day Care neem aan Monkeynastix deel om onder meer selfvertroue en dissipline te ontwikkel. (Foto: Verskaf)

“Die Beeld-Kinderfonds ondersteun verskeie ontwikkelingsprojekte om behoeftige kinders se horisonne te verbreed,” het Van Staden gesê.

Om meer uit te vind oor die begunstigdes van die Beeld-Kinderfonds (wat jaarliks duisende kinders se lewe raak), besoek die Beeld-Kinderfonds se webwerf.

Die Beeld-Kinderfonds reik art. 18A-kwitansies uit wat dien as ’n belastingaftrekking. Dit geld individue en ondernemings, en die 18A-voordeel geld tot 10% van jou belasbare inkomste.

Besoek die Beeld-Kinderfonds se webwerf vir meer inligting oor die fonds en sy begunstigdes.

“Dis maklik om ’n bydrae aan die Beeld-Kinderfonds te maak en in die proses kinders se lewe te verbeter,” moedig Van Staden skenkers en voornemende skenkers aan.

“Die Beeld-Kinderfonds mik daarna om R3 miljoen in te samel met hierdie boekjaar wat einde Maart volgende jaar eindig, en het jou ondersteuning nodig om hierdie dienste in die toekoms te kan voortsit,” sê Van Staden.

Jy kan op een van die volgende maniere bydra:

• Elektroniese betalings kan direk in die Beeld-Kinderfonds se Absa-tjekrekening (rekeningnommer: 2840157329 en met jou selfoonnommer as verwysing) gedoen word;

• Of betaal sonder ’n bankrekeningnommer met PayShap, ’n veilige kits- en onmiddellike tussenbankbetalingsdiens om betalings te doen en te ontvang. Dis nou op alle banke se apps beskikbaar. Jy kies PayShap as betaalmetode en gebruik die Beeld-Kinderfonds se PayShap-ID – 0614794791 – om ’n betaling te doen. Gebruik jou selfoonnommer as verwysing.

• Kaartbetalings kan deur die SnapScan-skakel gedoen word. Gebruik jou selfoonnommer en jou naam as verwysing.

Jy sal binne 72 uur ’n SMS of WhatsApp-boodskap van die Beeld-Kinderfonds ontvang om jou inskrywings te bevestig.

Rig navrae aan Van Staden by 061 479 4791 of info@beeldkinderfonds.co.za.

SPELETJIES VANDAG

CTA