Die geld wat deur die Beeld-Kinderfonds ingesamel word, word onder meer gebruik om kinders in kinderhuise by te staan om liggaam, siel en gees te ontwikkel.
Boonop kan jou bydrae om kinderhuise te help jou ’n splinternuwe ryding besorg met die RSG-Beeld-Kinderfondsprojek wat tans aan die gang is.
Twee van die kinderhuise wat begunstigdes van die Beeld-Kinderfonds is, is Catherine Robson in Vereeniging en Abraham Kriel in Potchefstroom.
“Die kinderhuise het ten doel om weerlose kinders wie se families nie in hul basiese behoeftes kan voorsien nie, te beskerm en te ondersteun, om kinders te bemagtig met ’n gesonde waardestelsel en lewensvaardighede en deur berading, terapie en aktiwiteite kinders die geleentheid te bied om te herstel van trauma – om die regte van kinders te beskerm en te bevorder,” sê Adrie van Staden, uitvoerende hoof van die Beeld-Kinderfonds.
Van Staden vertel twee verhale van hoe die Beeld-Kinderfonds kinders in kinderhuise werklik aangeraak het.
Die een verhaal is van ’n verwaarloosde seun wat in 2017 by Abraham Kriel aangekom het. Die einste seun het later hoofseun van sy hoërskool geword en het in 2024 op die veld gedraf as ’n Luiperds-rugbyspeler.
“Met behulp van geld wat die Beeld-Kinderfonds beskikbaar gestel het, kon hy geleenthede aangryp, sy talente ontwikkel en bo sy omstandighede uitstyg,” sê Van Staden.
Die ander verhaal het hom afgespeel onder die inwoners van Catherine Robson, waar een seun gekies is om aan die Rhino-rugbytoernooi deel te neem. Hy en drie vriende is ook gekies om aan die Jaru Sewes-rugbytoernooi deel te neem.
“Die befondsing van die Beeld-Kinderfonds het dit moontlik gemaak dat hulle kon deelneem. Andersins sou hulle die geleentheid deur hul vingers moes laat glip.”
Die seun wat aan albei toernooie deelgeneem het, is volgens Van Staden by een van die toernooie as die speler van die wedstryd aangewys, en by sy skool was hy die sportseun van die jaar.
Dis egter nie al nie – die Beeld-Kinderfonds maak dit moontlik vir inwoners van kinderhuise om byvoorbeeld die matriekafskeid by te woon of om aan uitstappies deel te neem sodat hulle meer blootstelling aan positiewe ervaringe kry.
“Dit oorbrug milieu-geremdheid,” sê Van Staden.
Jou bydrae tot die Beeld-Kinderfonds stel die fonds in staat om meer as 9 000 kinders per jaar te help. Jou bydrae skep egter ook vir jou, die skenker, ’n goue geleentheid om ’n splinternuwe kar, ’n kontantprys of ’n naweekwegbreek te wen.
’n Splinternuwe Suzuki Swift GL 1.2 (ter waarde van R224 900), ’n naweek by die Forever-oord Badplaas, met verblyf vir vier persone en wildritte (ter waarde van R5 000) en ’n R15 000-kontantprys is die groot pryse van die RSG-Beeld-Kinderfondsprojek.
’n Ieder en ’n elk wat voor 5 November in veelvoude van R50 aan die Beeld-Kinderfonds skenk, kom in aanmerking om die kar en die wegbreek te wen.
R50 verseker vir jou een inskrywing in die gelukstrekkings wat die wenners sal bepaal.
“Daar is ’n spesiale aanbod: As jy R200 skenk, sal jy een ekstra inskrywing kry, dus vyf in plaas van vier,” sê Van Staden.
Diegene wat teen 5 November, wanneer die projek afsluit, in totaal R1 600 of meer bydra, kom in aanmerking vir die kontantprys.
Die gelukstrekkings is op 11 November.
Wenners sal telefonies gekontak word en op RSG en Netwerk24 aangekondig word.
Rig navrae aan Van Staden by 061 479 4791 of info@beeldkinderfonds.co.za
Al die inligting en kompetisiereëls is beskikbaar op die Beeld-Kinderfonds se webwerf en die Beeld-Kinderfonds se Facebook-blad.
Neem só deel:
Jy kan op een van die volgende maniere bydra:
• Elektroniese betalings kan direk in die Beeld-Kinderfonds se Absa-tjekrekening (rekeningnommer: 2840157329 en met jou selfoonnommer as verwysing) gedoen word;
• Volg die skakel na die Beeld-Kinderfonds se betalingsportaal vir kaartbetalings en onmiddellike oorbetalings; of
• Jy kan ook die Beeld-Kinderfonds se QR-kode met jou bank-app skandeer of SnapScan gebruik om ’n betaling te doen.
Jy sal binne 72 uur ’n SMS of WhatsApp-boodskap van die Beeld-Kinderfonds ontvang om jou inskrywings te bevestig.





















