VIA | Dís Beer Adriaanse se gunsteling-vasvraspeletjie-program

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
thuym
thuym

Die akteur Beer Adriaanse is weer die aanbieder in die tweede seisoen van die gewilde algemene kennis-en-vasvraspeletjie-program, Slim vang sy baas (DStv-kanaal 147). In dié program ding twee spanne van drie elk teen mekaar om te sien wie met R10 000 kan wegstap.

Ons gesels met Beer oor sy rol as aanbieder, watter vasvraspeletjie-program sy gunsteling is én wat vir hom die snaaksste oomblik op die program was.

Beer Adriaanse is die aanbieder van VIA se 'Slim vang sy baas'!
Beer Adriaanse is die aanbieder van VIA se 'Slim vang sy baas'!

Geniet jy dit om die aanbieder van Slim vang sy baas te wees? Hoe verskil dit van jou vorige aanbiedersol in die vasvraspeletjie, Die flinkste familie?

Ek geniet dit baie om Slim vang sy baas aan te bied en wat ek waardeer van die program, in teenstelling met Die flinkste familie, is dat die groepe wat deelneem nie familie van mekaar hoef te wees nie. Dis lekker uiteenlopende groepe met vuur en drang. Dis interessant hoe die spanne gevorm is en ek moet sê ek's gek oor algemene kennis, so Slim vang sy baas is bietjie meer my tipe program. Ek leer so baie in elke episode en ek voel so trots op myself wanneer ek van die vrae se antwoorde ken [lag].

Watter rol verkies jy - die van aanbieder of die van akteur?

Ek dink ek sien myself meer as 'n akteur, net omdat ek dit al langer doen en omdat skryf en regie ook vir my deelvorm van toneelspel. In die rol van aanbieder, daarteenoor, moet mens dinge opmaak soos wat jy aangaan. Jy moet wakker bly en gaan waar die episode, jou gaste en die speletjies jou lei. Tog is elk van hierdie rolle uniek op hul eie manier.

Wat is jou gunsteling-vasvraspeletjie-program?

My gunsteling-vasvraspeletjie-program na al die jare is nogsteeds Noot vir noot. Ek het ná hierdie twee seisoene van Slim vang sy baas weer ou episodes van Noot vir noot gaan kyk en dit was oorweldigend om te sien hoe goed die program was, veral noudat ek bietjie meer weet hoe sulke programme werk. Daai aanbieder is 'n storm! En dan is ek mal oor die oorsese programme: QI, Who's Line is it Anyway? en Nevermind the Buzzcocks.

Wat was vir jou die snaaksste oomblik op die stel van Slim vang sy baas?

Van die snaaksste oomblikke vind plaas wanneer die spanne charades speel. Dis wanneer hulle woorde moet uit-act sonder om te praat. Dis snaaks om te sien hoe mense wat nie toneelspeel vir 'n loopbaan nie, die woord uit-act. Van die mense is regtig ongelooflik goed daarin, maar dis ook baie snaaks om te sien hoe sleg van die mense daarin is terwyl die res van hulle span angstig raak en moet raai wat hulle probeer uitbeeld [lag].

Watter span het vir jou uitgestaan?

Ek het baie gehou van die episode waar die twee radiostasies teen mekaar meeding. Dan is ek ook mal oor al die spanne wat ekstra moeite doen, hetsy hulle met uniforms opdaag of vir hulle hemde laat maak met hulle spannaam op of selfs 'n kreet het.

Die deelnemers moet natuurlik op hul voete dink; was daar oomblikke in die program wat jy ook op jou voete moes dink?

Dit voel vir my as ons sê "en aksie" dan is dit 'n storm en dan moet ons nou maar net saam-saam daardeur kom. Ons moet maar almal op ons voete dink - ons het nie veel geskrewe teks nie, net die feite is neergeskryf. Ek en die deelnemers moet maar net met mekaar gesels en dis 'n heerlike wisselwerking wat gebeur. So ja, ons dink maar almal ewe veel op ons voete - alhoewel hulle speel vir geld en ek speel net vir my reputasie [lag].

Ons sien ook die week (15-21 November) uit na hierdie episodes op VIA:

Ry of bly?, Maandae om 18:30

Rachel's Angels: Inspirasiestories, Maandae om 21:00

My berge met Bouwer, Dinsdae om 21:00

Martelize se stamtafel, Woensdae om 17:00

Kom ons braai, Saterdae om 20:00

SPELETJIES VANDAG

CTA