Vier van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se vlagskip-dramas is in Desember 2021 en Januarie 2022 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.
Hierdie vier teaterstukke wat onlangs op film vasgevang is, sluit drie Suid-Afrikaanse werke en 'n vertaalde Vlaamse teks in: Rachelle Greeff se ikoniese Die Naaimasjien, Philip Rademeyer se Opdrifsel, Tom Lanoye se Koningin Lear (vertaal deur Antjie Krog) en Reza de Wet se Asem (vertaal deur Marthinus Basson).
Ons gesels met Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Waarna kan kykers uitsien?
Daar wag werklik 'n spesiale ervaring vir kykers, aangesien hulle die laaste paar jaar se beste toneelstukke op hul eie televisieskerms kan kyk. Dis ons Kersfees- en Nuwejaarsgeskenk aan die kykers. Elke toneelstuk wat verfilm is, het 'n unieke aanslag en die room van Suid-Afrikaanse akteurs is betrokke.
Hoe voel jy noudat hierdie toneelstukke verfilm is?
Dis regtig heerlik dat ons hierdie stukke kon vasvang en verewig op film. Die Naaimasjien is so 'n ikoniese stuk, met Sandra Prinsloo wat skitter. Asem het ons op 'n ander manier verfilm. Ons het daarvoor spesiale toestemming gekry om die produksie in 'n skuur by die Worcester-museum te verflim, in plaas daarvan om dit op 'n tradisionele verhoog te skiet. Koningin Lear is 'n majestueuse werk. Dis gebaseer op Shakespeare se Koning Lear. Dis 'n lekker familiedrama en mense gaan hulself heel waarskynlik daarmee kan vereenselwig (net nie op so 'n drastiese manier nie), noudat dit die feestyd is en families almal saamkuier. En Opdrifsel is 'n baie emosionele, hartverskeurende verhaal. Kykers sal hul sneesdoekies byderhand moet hou. Dis meer tradisioneel op die verhoog geskiet.
Hoekom moet mense spesifiek hierdie teaterdramas kyk?
Dis vir die KKNK belangrik om hoëgehalte-opnames van produksies te maak en dis werklik van die bestes uit die skatkis van die KKNK se teaterdramas hierdie. Kykers kry so ook die wonderlike geleentheid om teaterstukke wat hulle byvoorbeeld nie by vorige feeste kon kyk nie, te beleef, of dalk weer te beleef.
Wat is die doel van die verfilming van teaterdramas?
Die besluit om hierdie teaterstukke te verfilm is 'n manier vir ons as die KKNK om werk te skep vir betrokkenes in die uitvoerende kunste. Teaters en feeste kon nie voortgaan sedert die pandemie nie, en selfs nou is daar maar nog selde vertonings. Indien daar wel vertonings is, is dit maar vir baie klein gehore. KKNK het in 2019 hul 25ste fees aangebied. Oor die jare was daar soveel wonderlike produksies, maar die meeste daarvan is net in mense se geheue of hulle het miskien een of twee foto's van die geleentheid. Nou, deur die vertonings op film vas te lê, vang ons ook die ongelooflike talent wat in Suid-Afrika is vir die toekoms vas. Dit word deel van 'n visuele dokumentering van ons teatergeskiedenis.
Hoe was dit vir die akteurs?
Ek is baie versigtig om namens hulle te praat, maar wat ek wel kan sê, is dat teater en film totaal verskillend is en dat die akteurs verskillende aanslae met die twee moet hê. Selfs die ontwerp is aangepas. Omdat die kameras naby aan die akteurs is, moet en kan hulle meer intiem speel. Ek dink dis ook anders as om 'n TV-drama op te neem, want die akteurs moet tog 'n teatrale balans vind. Dit gee ook aan die akteurs 'n geleentheid om meer intiem en fyn te werk, want die kamera mis niks. Maar die meeste van die akteurs is gesoute TV-akteurs en dit, dink ek, het hulle tog baie gehelp.
Watter een van die teaterdramas lê jou die naaste aan die hart?
Ek kan nie een van hulle uitsonder nie. Elkeen het om verskillende redes 'n baie spesiale plek.
As daar nog een teaterdrama is wat jy graag verfilm sal wil hê, wat sal dit wees en wie moet die hoofrol speel?
Daar is baie. Die lys is lank en die gehore moet maar net vasbyt om te sien wat dit is.
Is daar nog enigiets interessants wat jy met die lesers wil deel?
Opdrifsel sou in 2020 sy debuut by die KKNK gemaak het, maar toe is die fees ongelukkig weens die pandemie gekanselleer. In 2021 het ons besluit om die toneelstuk te verfilm. Dis anders as met die ander teaterfilms, waar die produksies 'n lewe voor gehore gehad het voordat dit verfilm is.
Neem kennis: Die teaterdramas is slegs geskik vir gehore 18 jaar en ouer.
Antoinette Kellermann, wat in Koningin Lear speel, oor haar ervaring: "'n Grootse ervaring! Moontlik gemaak deur 'n toegewyde en waaghalsige groep mense wat teater wil lewendig hou. Dankie!"
Die skedule vir dié vier produksies word hieronder aangedui.
• Die Naaimasjien: 25 Desember 20:00. Geen heruitsendings.
• Asem: 26 Desember 21:00, met heruitsendings op 3 Januarie 21:00 en 6 Januarie 21:00.
• Koningin Lear: 1 Januarie 21:00, met heruitsendings op 5 Januarie 21:00 en 8 Januarie 21:00.
• Opdrifsel: 2 Januarie 21:00, met heruitsendings op 4 Januarie 21:00 en 7 Januarie 21:00.
Ons sien ook die week (13 - 19 Desember) uit na hierdie episodes op VIA:
Minki, Maandae om 20:00
Landbouweekliks, Dinsdae om 19:30
Doodgewone Jo, Dinsdae om 20:30
Op soek na Eden, Woensdae om 18:30
Kom ons braai, Saterdae om 20:00




















