Dié week is die finaal van Aansit op VIA (DStv-kanaal 147), waar die twee finalisspanne dinge uitkook in 'n professionele kombuis om die beoordelaars, Reuben Riffel, Nic van Wyk en Chris Erasmus, asook hul groep kompeteerders te beïndruk.
Die twee spanne berei 'n driegang-spyskaart wat hulle in hul eie restaurant sou bedien. Die wenners stap weg met die prys ter waarde van meer as R200 000, wat 'n sewedagbootreis met vliegtuigkaartjies na Frankryk insluit.
Wie gaan met die groot prys en titel wegstap?
Ons gesels met die twee finalisspanne oor hul liefde vir kos maak en die moeilikste aspek van die kompetisie.
Span 1 - Ma-en-dogter-duo, Joanita en Jana

Joanita
Hoe het dit gevoel om te weet jou span dring deur na die finale ronde van die program?
Om na die finaal deur te dring was soos daai laaste hekkie voor die eindstreep - die opwinding is naby, maar daar is nog baie werk wat voorlê om by die eindstreep uit te kom.
Wat het jou laat besluit om in te skryf vir die kookprogram?
Jana, my spanmaat en dogter, het ons ingeskryf omdat ons al twee so lief is vir kos maak - en natuurlik vir die fantastiese prys!
Wat was vir jou die snaaksste oomblik op die program?
Toe ons die tafel moes dek en die spyskaarte weg is, moes ons inderhaas ander laat druk en iemand moes jaag om dit te bring. Dit is tot vandag toe nog weg!
Het jy enigiets nuuts by jou spanmaat geleer of 'n lekker wenk opgetel?
Saam met Jana het ek weer besef hoeveel pret dit is om in 'n kombuis te wees en dat nuwe metodes en nuwe bestanddele niks is om voor bang te wees nie.
Wat is die moeilikste aspek van die kompetisie?
Tyd, tyd en tyd. En om vir sulke goeie koskenners en sjefs te kook.
Waar het jou liefde vir kos maak begin?
My liefde vir kos maak het begin in my ma, Rita, se kombuis en het gegroei rondom my man en kinders se smake en liefde vir kos.
Wat is volgende vir jou en jou spanmaat?
Ek wil graag my "eettuin" uitbrei. En miskien nog 'n kookervaring iewers in Afrika.
Jana
Hoe het dit gevoel om te weet jou span dring deur na die finale ronde van die program?
Dit was onwerklik, ek was so dankbaar dat ek en my ma nog verder op hierdie reis van Aansit saam kan kook. Dit was so 'n spesiale reis saam met haar.
Wat het jou laat besluit om in te skryf vir die kookprogram?
Toe die uitdaging van Aansit oor ons pad kom, kon ek nie anders as om dit aan te gryp nie. Dis 'n uitdaging waar kos maak betrokke is; dit is so reg in ons kraal.
Wat was vir jou die snaaksste oomblik op die program?
Sjoe, daar was so baie: Ek het baie lekker gelag toe Pearl verduidelik hoe haar wildsvleis letterlik uit die bord spring. Ek het baie lekker saam met Pearl en Alvina gekuier.
Het jy enigiets nuuts by jou spanmaat geleer of 'n lekker wenk opgetel?
My ma se deursettingsvermoë om iets perfek reg te kry is inspirerend. En as jy iets nie regkry nie, dan probeer jy dit weer en weer óf jy kies sommer iets wat nog meer uitdagend is. My ma se karakter in stresvolle tye is iets waarna ek streef. En as dit by kos kom, gaan haar idees bo-oor my kop. Sy is die kreatiefste persoon wat ek ken.
Wat is die moeilikste aspek van die kompetisie?
Die moeilikste aspek is vir seker om ons kompetisie se kos te kritiseer. Ons het wonderlike tye saam met al die ander deelnemers gehad en om hul kos waaraan hulle ook baie hard gewerk het te kritiseer, was vir my baie moeilik.
Waar het jou liefde vir kos maak begin?
Sjoe, ek kan nie dink aan 'n tyd wat kos nie die sentrale tema in ons huis was nie - kos en liefde, soos my pa sê. Ons praat in kos, ons vra nie vir mekaar hoe dit gaan nie; ons vra: "Wat eet julle vanaand? Of wat het julle geëet?" Die antwoord bepaal dan gewoonlik die trant van die res van die gesprek. Ons hele familie is baie lief vir kos, eksperimenteer en dan natuurlik die eet daarvan. Ons troos met kos en ons vier ook met kos. Kos bring ons familie bymekaar. Rondom 'n tafel met lekker kos word altyd onvergeetlike herinneringe gemaak.
Wat is volgende vir jou en jou spanmaat?
Ons wil graag aanhou om ons passie vir kos saam uit te leef en dalk kom daar 'n verrassing of twee oor ons pad.
Span 2 - Pa-en-seun-duo, Derek en DJ

Derek
Hoe het dit gevoel om te weet jou span dring deur na die finale ronde van die program?
Dit was 'n ongelooflike gevoel, want ons het nooit in ons wildste drome gedink dat ons na die finaal sou deurdring nie. Die kompetisie was baie straf en almal se kookkuns is besonders. Die kookkuns was van 'n baie hoë standaard. Dit was onwerklik om te besef dat ons sowaar deurgedring het na die finale ronde.
Wat het jou laat besluit om in te skryf vir die kookprogram?
My seun, DJ, het ons ingeskryf en dit was sy uitdaging vir my dat ons dit as 'n pa-en-seun-span doen. Ons het dit nog altyd geniet om saam te kook. DJ het 'n goeie aanvoeling vir kook en 'n goeie gevoel vir geure, wat 'n paar interessante resultate lewer. Saam maak ons 'n goeie span. Dit het altyd vir ons oor die kameraadskap gegaan.
Wat was vir jou die snaaksste oomblik op die program?
Dit sou moeilik wees om 'n enkele gebeurtenis as die snaaksste te identifiseer, daar was baie snaaksse oomblikke dwarsdeur die program. Die interessantste was egter hoe ander spanne kos en temas gekoppel het. Sommige was baie interessant en slim, en ander het net eenvoudig nie gewerk nie. Dit was regtig vir my 'n hoogtepunt om dit te ervaar.
Het jy enigiets nuuts by jou spanmaat geleer of 'n lekker wenk opgetel?
Ja, ek het geweldig baie by DJ geleer. Ek was verstom oor hoe hy ontpop het in hierdie bekwame kok wat 'n paar baie interessante tegnieke gebruik. Sy geurkombinasies en gebruik van materiaal wat hy in die natuur vind, het vir interessante koservarings regdeur die kompetisie gesorg.
Wat is die moeilikste aspek van die kompetisie?
Die kompetisie was baie straf, veral die laaste deel, want al die mededingers is baie bekwame kokke. Soos die kompetisie gevorder het, het die druk toegeneem, meer dinge om te doen met meer elemente wat by elke gereg gevoeg is. Elke gereg moes 'n kosteaterelement hê, wat meer druk bydra. Die tydsbeperkings was 'n groot uitdaging.
Waar het jou liefde vir kos maak begin?
Dit het op 'n jong ouderdom begin - albei my ouers was ywerige kosmense en ek was gelukkig genoeg om aan 'n breë spektrum van koservarings blootgestel te word. Die eksperimentering met geure, tekstuur en kleur was 'n reis en passie - spesifiek wat erfenis- en tradisionele kos betref.
Wat is volgende vir jou en jou spanmaat?
DJ kyk daarna om 'n klein eetplek oop te maak wat die kosreis van herontdekking van erfenis- en tradisionele kos sal beklemtoon. Daar sal 'n sterk klem wees op die gebruik van natuurlike produkte wat hy in die omgewing vind.
DJ
Hoe het dit gevoel om te weet jou span dring deur na die finale ronde van die program?
Ek moet eerlik wees, toe ons begin het met die kompetisie, het ek regtig nie gedink ons gaan so ver kom nie. Ek het geweet ons kan lekker kook, maar ek het nie gedink ons gaan teen al daardie spanne in die top-twee opeindig nie. Dit was baie onverwags, maar 'n fantastiese gevoel.
Wat het jou laat besluit om in te skryf vir die kookprogram?
Dit was nogal 'n impulsiewe besluit. Ek het die kans gesien en my pa gevra of hy sal belangstel en sonder om te dink, het hy ook ja gesê. Ons het nie eintlik geweet waarvoor ons onsself inlaat nie, maar ons het net besluit om voluit te gaan.
Wat was vir jou die snaaksste oomblik op die program?
Die snaaksste ding vir my was hoe mense met mekaar in interaksie tree en hoe verskillende mense bymekaar moes kom en geforseer is om om dieselfde tafel te sit en dan mekaar te beoordeel. Ook hoe die mense reageer en mekaar leer ken. Dit was vir my baie interessant en ons het snaakse gesprekke gehad.
Het jy enigiets nuuts by jou spanmaat geleer of 'n lekker wenk opgetel?
Ek het baie geleer by my pa. Ons kook al 'n leeftyd lank saam, maar nog nooit in so 'n hoëdruksituasie nie. Ons het lekker geleer wat mekaar se sterk punte in die kombuis is. As mens in die huis is, kook mens net lekker rustig saam, maar dis nie van "Oukei, ek gaan nou dit doen, jy gaan dat doen nie". Hier moes ons regtig sien wie is die een wat die kreatiwiteit op die bord bring en wie's die tegniese een, wie droom groot - en dit was vir my baie interessant om daardie aspekte van my pa te leer ken.
Wat is die moeilikste aspek van die kompetisie?
Die tydlimiet is beslis die moeilikste deel van die kompetisie. Ons het so baie goed aangepak en jy beplan 'n spyskaart en jy dink dis fantasties en kreatief en dan vang die tyd jou onkant. Jy kan dan niks verander nie en tog moet jy almal voer en alles moet dieselfde lyk. So dit was verreweg die moeilikste vir my.
Waar het jou liefde vir kos maak begin?
Dit het beslis by my familie begin. My ma is 'n ongelooflike goeie kok. My pa ook. Een aand sal my ma kook en dan sal my pa weer kook. Dit was my voorbeeld en ek wou dit graag self ook kon doen. Hulle het my toegelaat om eiers te flop en dan gemaak of hulle dit geniet. Hulle het my net altyd aangemoedig. Hulle het my ook gewys mens kan jouself regtig uitleef in kos, jy hoef nie net 'n resep te volg nie.
Wat is volgende vir jou en jou spanmaat?
Ek wil na die program 'n restaurant begin in Stanford met die naam Searles Garagiste. Garagiste is 'n Franse term vir 'n garage-wynmaker. Ek wil my liefde vir wyn en kos by die restaurant kombineer. Die restaurant sal ook my styl van kos maak uitbeeld - om kos te gebruik wat in die omgewing is en wat natuurlik voorkom en seisoenaal is. Ek sal ook verder in die toekoms graag kleinskaalwyn daar wil begin maak.
Ons sien ook die week (6 - 12 Desember) uit na hierdie episodes op VIA:
Minki, Maandae om 20:00
Doodgewone Jo, Dinsdae om 20:30
Martelize se stamtafel, Woensdae om 17:00
Op soek na Eden, Woensdae om 18:30
Kom ons braai, Saterdae om 20:00



















