Dis platsak-Januarie en almal is bekommerd oor hul finansies, maar moenie vrees nie, want daar is 'n splinternuwe program op VIA (DStv-kanaal 147) waar die finansiële kenner Theo Vorster jou wys hoe om finansieel te floreer en jouself sommer vroeg in die nuwe jaar reeds gereed te maak vir moeiliker maande wat mag voorlê.
In Jou geldsake: Meesterklasse met Theo gee Vorster dertien duo's, wat van vriende tot besigheidsvennote en getroudes insluit, se beursie 'n hupstoot met sy toeganklike meesterklasse.
Volgens Vorster is mense geneig om emosionele besluite te maak as dit by geld kom en die vraag is: Hoekom doen ons dit? "Mense is verskillend en daar is nie 'n reg of verkeerd as dit by jou geldsake kom nie," sê hy.
In die eerste episode gesels hy met die twee vriendinne, Madeleine Fourie (56) en Malinda Visser (56), oor rasionele besluitneming en hoe jy jouself suksesvol deur 'n finansiële krisis kan kry.

"Jou laat veertigs en vyftigs is gewoonlik 'n tyd wat jy die maksimum inkomste verdien. Jy begin jou planne agtermekaar kry en jy begin ordentlik beplan vir 'n aftrede 10 of 20 jaar later. En dan kom 'n onvoorsiene ekonomiese ineenstorting. Dan kom Covid. Ons gesels juis vandag met twee vriendinne wat ernstig deur hierdie pandemie geraak is."
In episode 1 kyk ons na hoe die pandemie hul geldsake geraak het - en hoe dit hul steeds raak - plus hoe jy jou finansies kan regruk ná slegte besluite.
Vir Malinda wil sy eerstens 'n goeie lewe kan lei. Sy wil betaal wat sy moet, nie in die nag te hoef wakker te lê nie en darem nog 'n ietsie hê om met iemand te kan deel.
Madeleine se fokus is op 'n suksesvolle aftrede.
Hier is Vorster se drie moets en drie moenies aan dié vriendinne oor goeie finansiële besluite tydens moeilike omstandighede.

Jy moet:
1. Prosedures, prosesse of riglyne in plek hê, sodat wanneer dinge skeefloop, jy kan terugval op strukture wat jou besluite sal lei. Eerder as wat emosies en druk jou besluite lei.
2. Weet waarna jy op pad is. Vra jouself: Waarvoor spaar ek?
3. Teruggaan na die beleggingsbesluite en kyk of dit rasioneel was. Of was jy dalk beïnvloed deur emosies en spanning? Gebruik hierdie terugblik as 'n leerskool vir toekomstige besluite.
Jy moenie:
1. Langtermyn-kontrakte aangaan nie. Moenie aanvaar dat die pandemie of die ekonomiese impak daarvan oornag gaan verander nie.
2. Beplan asof dinge "normaal" is nie. Jou wêreld kan in 'n oogwink verander, so moenie jou besluite baseer op huidige omstandighede nie.
3. Emosionele korttermyn-besluite maak as dit by jou welvaart of toekomsbeplanning kom nie.
So, hoe nou gemaak? Gaan terug na die finansiële- en beleggingsbesluite wat jy tydens die pandemie gemaak het en kyk of dit rasioneel was. Die besluite wat gegrond was in onstabiele omstandighede en emosies - die "quick fixes" - moet nou reggestel word.
Kyk hier na episode 1 se lokprent:
Jou geldsake: Meesterklasse met Theo saai vanaf vanaand, Woensdag 12 Januarie om 18:00 uit op VIA (DStv-kanaal 147). Heruitsendings Woensdag 12 Januarie om 22:00, Sondag 16 Januarie om 16:00 en Saterdagoggend 19 Februarie om 08:00.



















