VIA | Vergewe ander só

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Monique Strydom
Monique Strydom

Skakel dié Donderdag in vir die eerste episode van die derde seisoen van Vergewe my op VIA (DStv-kanaal 147) om meer uit te vind.

In 2000 het ekstremiste Monique Strydom en haar man, Callie, saam met nog mense as gyselaars aangehou in die Filippyne. Ná 127 dae het die terreur opgehou. Waar bevind sy haarself nou ná twee dekades? Wat het sy toegepas in haar lewe ná die insident? En kon sy dit regkry om die ekstremiste te vergewe?

Hein Hofmeyr
Hein Hofmeyr

Terwyl ons aan die begin van 'n nuwe jaar staan, gesels ons ook met die kliniese sielkundige Hein Hofmeyr oor hoe 'n mens ander vergewe sodat jy 2022 ligter kan ingaan.

Hoekom moet ons ander vergewe?

Vergifnis speel 'n belangrike rol in ons geestesgesondheid en gemoedstoestand. Vergifnis is deel van die herstelproses deurdat jy die mag oor 'n situasie of verhouding terugneem. Deur hierdie proses neem jy 'n bewustelike besluit dat jy nie meer emosioneel of deur jou gedagtes beheer gaan word nie, en kan jy bepaal hoe jy geaffekteer gaan word of gaan reageer.

Ons staan aan die begin van 'n nuwe jaar. Hoe kan ons ander vergewe sodat ons die jaar ligter kan ingaan?

Vergifnis is veeldelig. Die eerste stap is om die insident, of wat gebeur het tussen jou en die ander persoon, te aanvaar. Aanvaarding beteken nie om te sê wat gebeur het, moes gebeur het nie, maar eerder om te verstaan dat dit wel gebeur het en dat jy deur jou reaksie die mentaliteit van 'n oorwinnaar moet aanneem. Deel van dié reaksie is om dan anders te dink oor wat gebeur het, anders te voel oor die insident en "oortreder", en dan anders op te tree of te reageer wanneer jy daaroor dink of met die persoon gekonfronteer word.

Monique Strydom
Monique Strydom

Jy het iemand vergewe. Wat is die volgende stap?

Die volgende stap is om jouself gereeld te herinner dat dit net regverdig is vir jou om weer beheer te neem oor jou gedagtes, gevoelens en optredes. Jy gaan terugslae beleef waar jy weer intense emosionele reaksies en selfs verwyt of wraakgevoelens beleef. Dis dán dat jy moet verstaan waar dit vandaan kom, nie jouself daaroor veroordeel nie en jouself daaraan herinner om te aanvaar en beheer terug te neem met 'n oorwinnaarsmentaliteit.

Wat het Strydom toegepas in haar lewe om 'n oorwinnaar te word?

Sy het die fokus van haarself afgehaal. Vir haar was dit om 'n liefdadigheid, Matla A Bana, te begin en om die roeping te kry om ander te help. "So wat doen jy as jy die fokus van jouself afhaal en jy begin op ander mense fokus? Dan vat jy eintlik jou doel terug," sê sy.

Kyk hier na episode 1 se lokprent:

Vergewe my word vanaf Donderdag 20 Januarie om 21:00 uit op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Heruitsendings op Sondag 23 Januarie om 22:30 en op Woensdag 16 Februarie om 19:30.

SPELETJIES VANDAG

CTA