Woensdag lê Enoch Godongwana, minister van finansies, die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement ter tafel.
Dit is nie die groot begroting in Februarie wat belastingaankondigings doen soos die aksyns op drank en sigarette, of aanpassings aan die kerwe vir persoonlike inkomstebelasting nie.
Dit is ’n beleidsraamwerk vir bestedingsprioriteite vir die volgende drie boekjare.
Die regering gebruik die geleentheid wel om vordering met belastinginkomste aan te kondig of om aan te dui wat sy nuutste verwagtinge oor ekonomiese groei en skuldvlakke is.
Hier is van die aspekte waarvoor mense in vanjaar se MTBR kan uitkyk:
1. Inflasieteiken
Godongwana en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het vroeër vanjaar ’n effense onderonsie gehad oor wie die gesag het om te besluit wat die Reserwebank se teiken vir inflasie moet wees. Kganyago wil dit van die huidige band van 3% tot 6% verander na slegs 3%, maar Godongwana het gesê dis ’n besluit wat die regering sal neem.
Waarnemers verwag moontlike beleidsinsigte van die tesourie en Godongwana hieroor, indien nie wel ’n amptelike aankondiging nie.
Nedbank se ekonome gis egter ook dat die tesourie dalk iets oor ’n fiskale anker kan aankondig. Dit spruit uit ’n poging om te keer dat besteding ongebreideld voortgaan deur streng en wetlik afdwingbare reëls en riglyne in te stel om wegholbesteding hok te slaan.
2. Inkomste en belasting
Syfers van die tesourie wys belastinginkomste het tot dusver vanjaar effe verbeter vergeleke met dieselfde tyd ’n jaar gelede. Met die lopie in die goudprys en ander metaalpryse verwag waarnemers dat inkomste uit veral maatskappybelasting dus nog verder kan styg na die jaareinde toe.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in vanjaar se hoofbegroting ekstra geld gekry om skuldinvordering te verbeter, en volgens die tesourie kan belastingverhogings van R20 miljard in Februarie 2026 se begroting vermy word as die SAID sy teikens haal.
Die MTBR kan groter duidelikheid gee oor hoe die SAID daarmee vorder, en of belastingbetalers dus kan ontspan of moet vrees vir skerper belastingverhogings in Februarie 2026.
Nedbank se ekonome reken ’n oorskryding van soveel as R60 miljard in verwagte belastinginvordering is moontlik.
3. Die RNE en politiek
Ná die derde probeerslag kon ’n begroting uiteindelik vanjaar goedgekeur word, en die MTBR is ’n volgende toetslopie van hoe die vennote in die regering van nasionale eenheid mekaar vind of nie in die proses om ’n samehorige ekonomiese en fiskale beleid te probeer handhaaf.
Mense sal moet uitkyk of die oproepe vir breër raadpleging oor begrotingskwessies wel neerslag vind in die MTBR.
Een van die aspekte waarvoor die DA hom veral beywer het, is die hersiening van besteding om vermorsing en ondoeltreffendheid uit te sny.
Dr. Mark Burke, DA-woordvoerder oor finansies, het Maandag aangedui die DA verwag juis dat Godongwana sal aankondig waar geld in die komende begrotingsiklus besnoei gaan word.
Die DA se wenslysie sluit in dat daar ’n belofte moet wees van geen belastingverhogings in Februarie nie danksy ’n doeltreffender SAID.

4. Wysigings aan bestaande begroting
Die MTBR is gewoonlik ’n geleentheid om die betrokke boekjaar se begroting aan te pas met enige besteding wat nodig geword het sedert dit goedgekeur is.
Met die vertraagde goedkeuring van vanjaar se begroting is normale bestedingspatrone egter waarskynlik verwring.
Van die ekstra bestedingsdruk wat moontlik deur wysigings gepak kan word, is finansiering vir programme wat ondergefinansier gelaat is weens die onttrekking van die Amerikaanse regering se Pepfar-geld vir vigsprogramme.
Daar kan dalk ook ekstra geld toegeken word vir die begrotingsgerief vir infrastruktuur, die Passasierspooragentskap se vernuwingsprogram vir treinwaens, en aanpassings aan provinsiale toekennings weens skuiwe in die bevolkingsamestellings in die provinsies.
5. Hulp aan staatsondernemings
Die MTBR sluit gewoonlik ’n oorsig in van die finansiële gesondheid van staatsondernemings. Dit is deel van die tesourie se verklaring oor fiskale risiko’s oor die komende drie boekjare.
Eskom kry in die lopende boekjaar ’n laaste betaling van R80 miljard vir skuldverligting, maar Transnet is nou die volgende groot fiskale risiko, met staatswaarborge wat tot R193 miljard uitgebrei is.
Ander risiko’s is nou die Padongelukfonds, en munisipaliteite se skuld aan Eskom.

6. Skuldvlakke
Die swak ekonomiese groei kan veroorsaak dat die verwagte staatskuld-tot-BBP-verhouding verswak. Al kon staatskuld dus verlaag word of stabiel bly, sal die verhouding verswak bloot omdat die BBP nie soos verwag gegroei het nie.
Die tesourie het gemik om staatskuld vanjaar teen 77,4% tot BBP te laat stabiliseer en dan te laat daal, maar Anchor Capital verwag nou dit kan tot net onder 80% styg in die 2028-boekjaar voor ’n stelselmatige afname.
Volgens Anchor Capital het die tesourie merkbaar gevorder om die lopende boekjaar se leningsvereistes te finansier. Dit is danksy hernude vraag van oorsee vir Suid-Afrikaanse staatseffekte. Daar kan ook hulp kom van ’n verdere onttrekking van die Reserwebank se rekening van goud- en buitelandsevalutareserwes (GFECRA) wat ’n hupstoot gekry het van rekordgoudpryse. Dit kan help dat die tesourie minder hoef te leen in die 2028-boekjaar.
7. Kredietgradering
Die tesourie sê gedurende die MTBR niks spesifieks oor kredietgradeerders se gradering van Suid-Afrika se staatskuld nie.
Maar waarnemers van Momentum wys daarop dat die effe beter belastinginkomste en laer opbrengste op staatseffekte (dus goedkoper lenings) kan meebring dat kredietgraderingsagentskappe dalk teen volgende jaar al kan besluit om hul graderings vir Suid-Afrika op te stoot.
Dit kan Suid-Afrika dus nader bring om uit rommelstatus te kom en uiteindelik eendag weer ’n beleggingsgradering te kry as die fiskale vooruitsigte standhoudend verbeter.







