Begroting

Dit was amper of daar was Begroting 4.0

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
John Steenhuisen, minister van landbou en DA-leier, en Andrew Whitfield, adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging. Foto's: Gallo en Getty Images
John Steenhuisen, minister van landbou en DA-leier, en Andrew Whitfield, adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging. Foto's: Gallo en Getty Images

Suid-Afrika het Donderdagmiddag enkele oomblikke asem opgehou omdat dit gelyk het asof Begroting 4.0 die land se voorland is.

Dit was toe John Steenhuisen, DA-leier, in die party se spreekbeurt tydens die debat oor die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste uitgevaar het teen pres. Cyril Ramaphosa se besluit om Andrew Whitfield as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging af te dank.

Steenhuisen het egter bevestig die DA sal wel as deel van die regering van nasionale eenheid (RNE) ten gunste van die wetsontwerp stem.

Die nasionale vergadering het oor die wetsontwerp gedebatteer wat regskrag gee aan die verdeling van inkomste, soos uitgestippel in die begroting wat in Mei ter tafel gelê is.

Volgens Steenhuisen het die DA besluit om eerder Suid-Afrika se belange bo partybelange te stel deur ten gunste van die wetsontwerp te stem.

Hy het wel skerp uitgevaar teen Ramaphosa se besluit om Whitfield af te dank, glo omdat hy nie behoorlik toestemming gevra het vir 'n oorsese reis nie.

Volgens Steenhuisen het Whitfield al in Februarie skriftelik toestemming gevra, sonder om enige reaksie of antwoord van die presidensie te ontvang.

Hy voer dus aan Ramaphosa se rede vir Whitfield se afdanking is baie skraal en toon die hoogste vlakke van skynheiligheid omdat daar soveel kabinetslede in die kabinet oorbly wat betrek word by bewerings van plundery en staatskaping.

Die bal is nou in Ramaphosa se baan om te wys of hy 'n man van sy woord is, sê Steenhuisen. As die situasie nie reggestel word nie, sal dit die "grootste politieke fout in die moderne Suid-Afrikaanse geskiedenis wees".

Volgens hom lyk dit asof Whitfield gestraf word juis omdat hy sy werk so suksesvol gedoen het, deur onder meer ongemaklike vrae te vra oor die tender vir die nasionale lotery, oor verdagte aanstellings in die raad van die Nywerheidsontwikkelingsraad, en oor plundery by die Transformasiefonds.

Volgens Steenhuisen het Ramaphosa hom Woensdag kort voor die kabinetsverandering ingelig dat hy Whitfield gaan vervang. Steenhuisen het vir 24 uur gevra om eers met Whitfield te praat en die DA in te lig. Maar drie uur later het Whitfield reeds 'n brief gekry wat hom inlig dat hy vervang gaan word.

Die feit dat Ramaphosa eensydig 'n DA-adjunkminister verwyder sonder om sy vennoot in die RNE toe te laat om dit eers met die persoon en sy party te bespreek, is 'n berekende aanval op die tweede grootste party in die regerende koalisie, het Steenhuisen gesê.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM