BTW-skok wag op skole

’n Argieffoto van hokkiespelers op die astrobaan van die Hoër Meisieskool Paarl. Skole wat voorheen vir BTW geregistreer was en inkomste gegenereer het deur hul geriewe soos ’n astrobaan of skoolsaal te verhuur, sal nou nie meer vir BTW geregistreer hoef te wees nie, maar kan wel aanspreeklik wees vir ’n laaste insetbelasting-aanspreeklikheid teen 1 Januarie 2026, ingevolge wetswysigings wat die tesourie voorstel.  
’n Argieffoto van hokkiespelers op die astrobaan van die Hoër Meisieskool Paarl. Skole wat voorheen vir BTW geregistreer was en inkomste gegenereer het deur hul geriewe soos ’n astrobaan of skoolsaal te verhuur, sal nou nie meer vir BTW geregistreer hoef te wees nie, maar kan wel aanspreeklik wees vir ’n laaste insetbelasting-aanspreeklikheid teen 1 Januarie 2026, ingevolge wetswysigings wat die tesourie voorstel.   (Foto: Jaco Marais)

Skole wat tot dusver vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer was, sal van 1 Januarie 2026 af nie meer BTW-handelaars wees nie.

Dit kan beteken dat hulle ’n groot bedrag belasting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verskuldig kan wees, waarsku belastingkenners.

Die implikasies van sekere tegniese belastingveranderings wat in die Maart-begroting voorgestel is, kom nou stuk-stuk na vore nadat die tesourie die wetgewing daaroor vir openbare kommentaar gepubliseer het. Dié veranderings, wat normaalweg in die jaarlikse begroting aangekondig word, word gewoonlik diep agter in die begrotingsdokumente weggesteek en kry nie onmiddellik soveel aandag as die veranderings aan belastingkoerse of nuwe belastings nie.

In ’n kommentaarstuk oor die BTW-verandering vir skole waarsku Duane Shipp, ’n belastingkenner van die belastingadviseurs WTS Renmere, dat dit kan beteken dat skole ’n aansienlike belastingverpligting teenoor die SAID het.

Dit is omdat art. 8(2) van die BTW-wet bepaal dat iemand wat ophou om ’n BTW-handelaar te wees, geag word om goedere en dienste te gelewer het tot op die punt dat hy opgehou het om ’n BTW-handelaar te wees. En daardie voorsiening van goedere en dienste het uitset-belastingimplikasies.

Die waarde van die geagte voorsiening word geag as die minste van óf die koste om die goedere of dienste te produseer of te verkry, óf die markwaarde daarvan.

Kan dit oor 12 maande afbetaal

Volgens Shipp besef die tesourie die implikasies en het hy voorgestel dat die betaalbare belasting in 12 maandelikse paaiemente betaal kan word of oor soveel maande as wat die kommissaris van die SAID toelaat. Dit is nog onseker hoe skole kan aansoek doen om die belasting oor langer as 12 maande te betaal.

Vorige aanslae kan nie heropen word

Die Wysigingswetsontwerp op Belastingwette het ’n nuwe artikel wat skole gerusstel dat belastingaanslae rakende hul bedrywighede wat BTW betrek het voor 1 Januarie 2026 nie weer deur hulle of die SAID geopen kan word nie. Aanslae van voor dié datum wat nog nie afgehandel is nie, kan wel nog gewysig word deur by die SAID aansoek te doen.

Maar waar die skool voorheen BTW gehef het vir goedere en dienste, sal die nuwe artikel nie toelaat dat die skool ’n BTW-terugbetaling daarop kry nie, hoewel die SAID ook nie enige boetes of rente daarop mag hef nie.

Shipp waarsku dat die wysigings grootskaalse implikasies inhou vir alle skole wat vir BTW geregistreer is. Skole het min tot geen tyd om te beplan of te begroot vir die BTW-aanspreeklikheid wat sal ontstaan weens hul deregistrasie as BTW-handelaar nie.

Dit geld ook nie-onderrigdienste

Die agtergrond van die hele saak is dat skole, universiteite en kolleges ingevolge die BTW-wet van 1991 vrygestel is van BTW waar enige goedere en dienste wat hulle lewer met onderwysdienste verband hou. Dit sluit in skool-, onderrig- en koshuisgeld.

Baie skole is wel betrokke by ander kommersiële aktiwiteite, soos om skooluniforms of sportklere te verkoop of om hul geriewe (soos ’n skoolsaal, hokkiebaan, aktiwiteitsentrum of gimnasium) aan individue, klubs of kerke te verhuur.

Vir daardie dienste het hulle dan as BTW-handelaars geregistreer en hef hulle BTW daarop.

Die nuwe wysigings skrap nou die vereiste dat skole vir dié nie-onderwysverwante goedere en dienste vir BTW geregistreer moet wees. Alle goedere en dienste wat skole dus nou lewer, sal nou vrygestel wees van BTW.

– francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA