Die tesourie beloof om openbare deelname te verbeter.
Kommentaar op die tegniese belastingvoorstelle wat die tesourie in Augustus vir kommentaar uitgereik het, word tans verwerk en die tesourie hoop om binne die volgende week of wat werksessies met belanghebbers te hou, het Chris Axelson, adjunk-direkteur-generaal van belasting en finansiëlesektorbeleid by die tesourie, Woensdag gesê.
Die parlement se staande en gekose komitees oor finansies moet ook dan nog openbare sittings oor die wysigings aan belastingwette hou. Die insette uit die openbare deelname en werksessies sal dan in ag geneem word voordat die wette tydens die mediumtermynbegrotingsraamwerk op 12 November in die parlement ter tafel gelê word.
Volgens Axelson het die tesourie in Augustus vir die eerste keer selfs ’n werksessie oor fiskale beleid met ’n groot reeks nieregeringsorganisasie en ander belanghebbers gehou, Dit is ook op YouTube uitgesaai.
Effektetrusts
Oor omstrede veranderinge aan hoe effektetrusts belas word, het Nhlanhla Radebe, direkteur vir sake-, finansiële en internasionale belasting by die tesourie, beloof dat nog verder gekonsulteer gaan word en daar moontlik veranderinge kan kom waar gemeen word die tesourie het te ver gegaan.
Dit gaan oor waar batebestuurders effektetrustfondse laat saamsmelt. Ingevolge nuwe wetswysigingsvoorstelle wil die tesourie hê sulke samesmeltings of oornames van fondse moet belasbaar in die hande van die onderliggende beleggers wees, pleks daarvan dat dit soos tans vrygestel is van belasting. Sommige in die batebestuursbedryf meen dié stappe is in stryd met die regering se poging om ’n spaarkultuur aan te moedig.
Volgens Axelson is die wysigingswetsontwerp op belastingwette (TLAB) en die wysigingswetsontwerp op belastingadministrasie (Talab) eers op 16 Augustus vir openbare kommentaar gepubliseer weens die verskeie vertragings wat die begrotingsproses vanjaar ervaar het.
Kommentaar daarop het op 12 September gesluit en die tesourie werk nou deur die kommentare. Werksessies word vir 21 en 23 September beplan.
BTW en skole
Van die ander omstrede voorstelle is dat skole wat tot dusver vrygestel was van die vereiste om vir enige onderwysverwante dienste vir BTW geregistreer te moet wees, nou ook nie vir enige ander dienste vir BTW geregistreer hoef te wees nie.
Dit is soos vir aktiwiteite waar die skoolsaal, gimnasium of sportgeriewe aan iemand anders verhuur word vir inkomste. Maar die deregistrasie van BTW het volgens die tesourie wel eenmalige belastinggevolge, en kritici is bekommerd dat baie skole nie finansieel gereed is vir dié onverwagte belastingaanspreeklikheid nie.
Aansporing vir stedelike vernuwing word verleng
’n Welkome wysiging is dat die belastingaansporing om binnestedelike verval te keer, vir nog vyf jaar tot 2030 verleng sal word.
Dié aansporing is in 2003 ingestel. Private eiendomsontwikkelaars kon hierdeur aangemoedig word om vervalle gebiede in middestede op te knap. Daar was 16 aangewese binnestedelike gebiede wat geïdentifiseer is.
Volgens Axelson het die aansporing die tesourie R152 miljoen per jaar gekos. Toe munisipaliteite gevra is om terugvoer te gee, het sommige aangedui die aansporing is baie nuttig en hulle verkies dat dit behou word.
Ander munisipaliteite het glad nie eens gereageer nie.





















