'n Bykomende meer as R19 miljard sal oor die volgende drie jaar bewillig word om derduisende onderwysers in klaskamers te hou.
Enoch Godongwana, minister van finansies, het dít Woensdag in sy hersiene begrotingsrede bekend gemaak.
Volgens hom beloop die salarisse van onderwysers 76% van provinsiale onderwysdepartemente se begrotings.
"Dit beteken dat slegs R24 uit elke R100 van hul begroting oorbly vir die finansiering van skoolinfrastruktuur, maaltye vir leerlinge uit arm agtergronde en vir skryfbehoeftes, handboeke, ensomeer."
Dié meevaller vir die onderwyssektor volg nadat Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, sedert verlede jaar sterk voorspraak by Godongwana en die nasionale tesourie gemaak het vir meer geld vir dié finansieel sukkelende sektor.
Dit nadat begrotingsbesnoeiings die laaste jare alle provinsiale onderwysdepartemente onder erge gelddruk geplaas het. Die besnoeiings het die Wes-Kaap genoop om sowat 2 400 onderwysposte oortollig te laat verklaar.
Godongwana sê verder dat die aantal leerlinge per onderwyser hoër bly as wat dit moet wees, wat beteken dat "ons steeds meer onderwysers in klaskamers benodig".
"Om te verhoed dat die vergoeding van onderwysers geld vir ander ewe belangrike gebiede van besteding opeis, is R19,1 miljard bygevoeg oor die mediumtermyn om ongeveer 11 000 onderwysers in klaskamers te hou."
Die begroting vir basiese onderwys beloop altesaam R349,5 miljard vir 2025-'26. Dit is effens minder as die R349,6 miljard wat in die verwerpte begroting van verlede maand toegeken is, maar 5,9% meer as die R324,8 miljard wat in die vorige boekjaar toegeken was.
Godongwana sê R10 miljard sal oor die volgende drie jaar ook aan vroeëkinderontwikkeling toegeken word om die subsidie per kind van R17 tot R24 per dag te verhoog. "Die bykomende geld sal ook die toenemende toegang tot vroeëkinderontwikkeling vir ongeveer 700 000 meer kinders, vanaf die ouderdom van vier jaar oud, ondersteun."
Gwarube het Dinsdag ook in die parlement gesê dat haar departement ook enorme begrotingstekorte vir skoolinfrastruktuur het.
Godongwana sê verder dat twee skoolinfrastruktuurprojekte wat deur die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) in Gauteng en die Wes-Kaap aanbeveel is, in die onderwys-infrastruktuurtoelae ingesluit is.
"Die departement sal 'n sektorversoek by die BFI indien om aan infrastruktuurbehoeftes in ander provinsies te voldoen. Provinsiale onderwysdepartemente sal voortgaan om die verbetering van onderwysuitkomste te prioritiseer deur leermateriaal te verskaf, skoolinfrastruktuur te verbeter, die toekenning van geld aan skole en om onderwysers te ontwikkel."
Intussen word R38,4 miljard ook oor die volgende drie jaar bewillig om onder meer skolesport te ondersteun.
• Die DA het aangedui dat hy enige belastingverhoging gaan teenstaan. Die parlement moet nog die begroting goedkeur. Dit is dus in dié stadium alles voorstelle.
- llewellyn.prince@24.com




















