Staatsamptenare ontvang vanjaar 'n salarisverhoging wat bó die inflasiekoers is.
Ingevolge van die 2025-loonooreenkoms van die staatsdienssektor sal die vergoeding van staatsamptenare met 5,5% in die 2025-'26 boekjaar styg. Dit is een persentasiepunt bó die geprojekteerde inflasiekoers.
'n Bedrag van R23,4 miljard is hiervoor bewillig.
Die vergoeding van staatsamptenare sal oor die daaropvolgende twee jaar in lyn wees met die inflasiekoers.
Dit stem ooreen met die verwerpte begroting van drie weke gelede.
Dié ooreenkoms sal die fiskus 'n bykomende R7,3 miljard in 2025-'26, R7,8 miljard in 2026-'27 en R8,2 miljard in 2027-'28 uit die sak jaag.
Die regering sal gedeeltelik van sy gebeurlikheidsreserwes gebruik maak om aan dié kostes te voldoen. Ofskoon die ooreenkoms die 2024-begroting en projeksies in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) oorskry, haal die driejaartydperk onsekerheid uit die begrotingsbeplanning.
Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), wat meer as 245 000 werkers verteenwoordig, het dié aanbod in Januarie, toe dit bekend gemaak is, as "baie progressief" beskryf.
Die aanbod was minder as die werkers se aanvanklike eis van 12% vir die boekjaar wat op 1 April begin, maar dit is dit steeds aansienlik hoër as Suid-Afrika se inflasiekoers van 2,9% en die Reserwebank se 4,5%-teiken om inflasie in toom te hou.
• Die DA het aangedui dat hy enige belastingverhoging gaan teenstaan. Die parlement moet nog die begroting goedkeur. Dit is dus in dié stadium alles voorstelle.
- philda.essop@24.com





















