Die regering reguleer nie die pryse van items wat van belasting op toegevoegde waarde (BTW) vrygestel is nie, en kan nie waarborg dat die voordele van BTW-vrystelling verbruikers sal bereik nie.
So reageer die tesourie op 'n skriftelike parlementêre vraag oor of die besparing van BTW-vrystelling op kos wel verbruikers bevoordeel.
Die tesourie is in die algemeen nie ten gunste daarvan om verligting aan arm huishoudings te bied deur items van BTW vry te stel nie, het Enoch Godongwana, minister van finansies, in sy skriftelike antwoord op 'n vraag van Hendrik van der Berg van die VF Plus in die Noord-Kaap gesê.
Die tesourie het nie 'n toegewyde stelsel om prysveranderings van items te monitor wat van BTW vrygestel is nie. Alle belastingbeleid word wel van tyd tot tyd geëvalueer om seker te maak die bedoelde mikpunte word bereik, lui die antwoord.
Van der Berg wou weet watter kosprodukte tans oorweeg word om bygevoeg te word tot die lys van items wat van BTW vrygestel is.
Volgens Godongwana oorweeg die tesourie tans verskeie opsies wat betref die wysiging van die lys van kositems wat van BTW vrygestel word. Voorleggings is van bedryfsverteenwoordigers en belastingbetalers ontvang, en nog voorleggings word verwag.
'n Aankondiging oor enige moontlike byvoegings tot die lys vrygestelde items sal gedoen word sodra die ondersoekproses afgehandel en 'n besluit geneem is, het Godongwana gesê.
LEES OOK |‘Beesvleis sonder BTW kan help met voedselkrisis'
Daar is tans 21 voedsel-items en sanitêre doekies op die lys van items wat van BTW vrygestel is. Volgens die tesourie is die BTW-vrystelling bedoel as 'n manier om die belastinglas op lae-inkomste-huishoudings te verlig. Die doelwit moet egter gebalanseer word met die totale koste vir die staatskas en die mate waarin die voordeel ook by hoër-inkomste-huishoudings uitkom.
Die BTW-vrystelling is bedoel om die prys van die item te verlaag met die bedrag wat gehef sou word as dit wel aan BTW onderhewig was. Die BTW-koers is tans 15%.
Toe BTW vir die eerste keer in 1991 ingestel is, was daar reeds 10 items - bruinbrood, mieliemeel, mielierys, stampmielies, gedroogde mielies vir menslike gebruik, droëbone, lensies, geblikte sardiens, melkpoeier en suiwelpoeiermengsels - van BTW vrygestel.
Teen 1993 is nog nege items bygevoeg - rys, groente, vrugte, groente-olie, melk, bereide melk soos karringmelk of maas, bruin koringmeel, eiers, en eetbare peulgewasse. Dit was toe die BTW-koers van 10% na 14% verhoog is.
LEES OOK | Nuwe aansoek kom om bevrore hoender van BTW vry te stel
In April 2018 is die BTW-koers van 14% na 15% verhoog, en was daar erge kommer oor die impak van die verhoging op arm huishoudings. 'n Paneel van onafhanklike kundiges is toe volgens Godongwana aangestel om die lys van BTW-vrygestelde items te hersien. Uit dié werk het voortgevloei dat witbroodmeel en koekmeel asook sanitêre doekies teen 2019 tot die lys gevoeg is.
Die paneel se aanvanklike aanbeveling was dat witbrood, babadoeke, en skooluniforms ook van BTW vrygestel word. Dit sou die staatskas sowat R4 miljard per jaar aan verlore inkomste kos.




















