Studentebehuising in die Eikestad is skaars - 'n vloekwoord vir talle wat hier studeer en sukkel om hul plekkie onder die eikebome te vind - veral as die koshuislewe nie vir jou is nie. Eiendomme het met Petro Maas van Stellies Student Stay oor dié uitdaging in die studentedorp gepraat.

Wat maak studentebehuising so gesog onder kopers?
Met die Universiteit Stellenbosch (US) hier op ons drumpel bied die Stellenbosch-mark die unieke geleentheid om goeie kapitaalgroei sowel as 'n hoë huurinkomste te genereer. Studentebehuising bied 'n ongelooflike kliëntebasis en voedingsaar vir verkope.
Die US kan glad nie genoegsame koshuisverblyf vir ingeskrewe studente verskaf nie en 'n groot getal studente verkies private losies - dus gaan daar altyd 'n groot behoefte wees aan laasgenoemde.
Die vraag is tans baie hoër as die aanbod, en ek kan nie dink dat dit sommer sal verander nie, veral nie in gewilde en goeie gebiede met billike huurtariewe en goeie geboubestuur nie.
Waarna moet ouers van studente spesifiek kyk wanneer hulle studentebehuising wil koop of huur?
Uit die aard van die saak, met so 'n groot aanvraag, is Stellenbosch nie 'n "goedkoop" huurmark nie. Doen deeglike huiswerk oor huurmarkte - begroting is tog een van die belangrikste aspekte van enige transaksie. Gesels onder meer met verskillende agente (verkoops- en verhuringsagente - menings verskil baie!), vergelyk gebiede, en wat alles ingesluit is in huurpryse. 'n Goedkoper tarief is nie noodwendig die beste prys nie. Wees bewus van opsies soos gemeubileerde woonstelle, 24-uur-dienste, en wanneer die bestuur beskikbaar is.
Die gebied of ligging speel 'n groot rol - daar is geen parkering op die kampus beskikbaar nie. Huur of koop eerder 'n kleiner plek, maar sentraal sodat dit binne veilige stapafstand is van die studente se klasse.
Veiligheid is van kardinale belang, want almal van ons wil rustig slaap. Maak seker dat jou seun of dogter in 'n veilige omgewing bly.
Maak ook seker die agentskap saam met wie jy werk se geboue en/of eiendomme word goed bestuur en is wettig geregistreer.
Geboue kort, nes die inwoners, liefde en aandag. Maak seker jy werk saam met mense wat omgee en wat daar sal wees vir jou kind indien dit nodig is - en dat jy gemaklik is met die persoon met wie jy die transaksie doen.
5 dinge vir ideale studentebehuising:
- Goeie sekuriteit
- Betroubare wi-fi
- Veilige (binne)parkering
- Goeie beheer, bestuur en kontrole in geboue
- 24-uur-bystand (wat betref verhuring en op persoonlike vlak)
Hoe belangrik is ligging vir studente?
Ongelooflik belangrik! Die dorp en sy demografie verander gereeld. 'n Uitstekende ligging vir koop en verhuring bied ook 'n goeie opbrengs op jou belegging.
Hoe werk Stellies Student Stay?
Ons spesialiseer slegs in die bestuur en verhuring van al die wooneenhede in 'n gebou.
Die komplekse word goed bestuur vanweë die reëls en regulasies wat geld. Ek glo elke ouer wil weet daar is voldoende beheer en dat dit toegepas word. Studente se leefwyse word wel in ag geneem, en omdat dissipline en respek belangrik is vir ons menswees en sukses in die lewe en werkplek, moet die huurders aan die riglyne voldoen.
Elke gebou word aan 'n agent toegeken - dit is persoonliker as die meeste ander agentskappe. Ons ken dus ons huurders en hul ouers taamlik goed.
Ons het ons eie skoonmaak- en instandhoudingspan en besoek die eenhede weekliks, wat voordelig is vir die eienaars se belegging en gemoedsrus aan die ouers bied.
Agente en veiligheidswagte is 24 uur per dag beskikbaar - indien enigiets sou skeefloop.
Ons voorsien in studente se behoeftes sodat ouers hulle nie oor hul kinders hoef te bekommer nie.
GEBORG
Stellies Student Stay

Hierdie luukse en moderne meenthuisontwikkeling in die hartjie van Stellenbosch is beskikbaar vir slegs verhuring (geen verkope).Wat? Drieslaapkamer-eenhede. Eenhede word verhuur met luukse afwerkings en meubelpakkette. Sekere dienste is ook ingesluit. Veilige onderdakparkering is beskikbaar. Die kompleks bied 'n heerlike ontspanningsarea in die binnehof vir huurders.Waar? Schoongezichtstraat, een van die gesogste en gewilde woongebiede in Stellenbosch. Dit is binne stapafstand van die Simonsrust-winkelsentrum, die Jan Marais-natuurreservaat, die Universiteit Stellenbosch se kampus, sowel as die middedorp.Beskikbaar: Vanaf 1 Desember.Kontakbesonderhede: Skakel Stellies Student Stay by 0718608070 of besoek https://20-on-schoon.co.za/.



















