Eiendomme

Attacq laat winkels woel danksy g’n beurtkrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kunstenaarsvoorstelling uit die argief oor hoe ’n deel van Waterfall CIty in Midrand uiteindelik gaan lyk.
’n Kunstenaarsvoorstelling uit die argief oor hoe ’n deel van Waterfall CIty in Midrand uiteindelik gaan lyk. (zeldadewet)

Die eiendomsgroep Attacq het sy mikpunt vir verspreibare inkomste per aandeel in sy afgelope boekjaar stewig oorskry.

Attacq het groei van 14,5% tot 71,9c in die verspreibare inkomste per aandeel behaal.

Hy het eers verwag dit sal met tussen 8% en 10% groei. Maar dié verwagting word vir die lopende boekjaar gehandhaaf. Attacq grond dit op die huidige moeilike marktoestande van hoë rentekoerse, groeiende druk op kleinhandel en die volgehoue beurtkrag.

Al die eiendomme in Attacq se portefeulje kan wel tydens beurtkrag nog sake doen. Die maatskappy sê hy het oor die afgelope boekjaar die beligting in al sy kleinhandelgeboue met energiebesparende LED-ligte vervang.

Daar is 1,8 MW se dakgemonteerde fotovoltaïese sonkragstelsels geïnstalleer om die geboue verder teen beurtkrag te verskans. Dit sluit die Eikestad Mall in Stellenbosch in waar 630 kW geïnstalleer is, Waterfall Corner in Gauteng met 850 kW en Waterfall Lifestyle met 330 kW.

Die firma oorweeg tans die lewensvatbaarheid van nog 5,2 MW se sonkragstelsels vir sy geboue.

Attacq het in die jaar ook tegnologie geïnstalleer om die waterverbruik in sy geboue meer akkuraat te monitor en lekplekke betyds op te spoor.

Die feit dat al sy winkel-eiendom steeds tydens beurtkrag kan sake doen, het volgens Attacq gehelp dat sy kleinhandelkliënte hul inkomste kon verbeter.

By die Mall of Africa in Waterfall City, Gauteng, is 16 winkels opgeknap en is 21 nuwe handelsname bekend gestel. In die Eikestad Mall in Stellenbosch in die Wes-Kaap is 14 nuwe handelsname bekend gestel en 12 winkels opgeknap.

Attacq se Mall of Arica in Waterfall in Midrand.
Attacq se Mall of Arica in Waterfall in Midrand.

Danksy die beter omset van sy winkelkliënte kon Attacq 82,3% meer inkomste invorder van die deel van sy huur wat op grond van die kliënt se inkomste bereken word. Dit het tot R26,4 miljoen gestyg.

Daar is steeds sterk vraag na huurruimte in Waterfall City, en die besettingskoerse het ná die jaareinde aansienlik verbeter.

Attacq se totale huurinkomste het met 7,4% tot R2,3 miljard gegroei danksy nuwe ontwikkelings wat afgehandel is, asook huurgeldverhogings. Maar dit is teengewerk deur die verkoop van sekere geboue soos die Deloitte-hoofkantoor en 50% van 'n Massbuild-verspreidingsentrum.

Die vergelykbare huurinkomste het met 6,8% gegroei.

Sy bruto inkomste was 3,4% laer op R2,4 miljard.

Die netto wins uit eiendomsbedrywighede, wat rekeningkundige aanpassings vir sekere huurkontrakte en wins uit die verkoop van deeltiteleenhede uitsluit, het met 11,7% tot R1,5 miljard gegroei.

Attacq se totale bates het met 1% tot R21,8 miljard gegroei.

'n Slotdividend van 29c per aandeel is verklaar, wat die jaardividend op 58c te staan bring, teenoor die vorige boekjaar se 50c.

Attacq se aandeelhouers het die transaksie goedgekeur waardeur die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) 'n 30%-belang teen R2,7 miljard in sy spogontwikkeling Waterfall City koop. Die toetrede van die GEPF as strategiese beleggingsvennoot sal Attacq in staat stel om Waterfall City verder te ontwikkel en langtermynwaarde vir aandeelhouers skep, sê die groep.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM